Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA pianis (81) sterf aan Covid-19

Die Suid-Afrikaanse pianis en pedagoog dr. Carol Baron Thompson is aan Covid-19 in ’n hospitaal in Harare, Zimbabwe, dood.

Dr. Carol Baron Thompson Foto: Facebook
Carol Baron Thompson op die verhoog ná ’n konsert met die Kazanse Filharmoniese Orkes in die Sowjetunie in 1982. Foto: musicteacher.co.za
Carol Baron Thompson ná ’n konsert saam met die Chinese Filharmoniese Orkes in 1983. Foto: musicteacher.co.za

Sy het op 31 Mei 81 jaar oud geword.

Netwerk24 was op 2 Junie in kontak met Baron Thompson oor die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) wat haar lewenswerk met ’n eerbewys wou bekroon.

Sy het toe gesê sy het weens “die kouer weer” griep opgedoen en dat sy ’n profielonderhoud sal toestaan sodra sy beter is. Dit sou egter nooit gebeur nie.

Volgens Darren Thompson (47), een van haar drie kinders, is sy ma ’n dag later op 3 Junie positief vir die koronavirus getoets en dadelik in die Arundel Mediclinic in Harare opgeneem. Sy is op 12 Junie in die hospitaal dood nadat sy ook ’n stryd teen longontsteking en emfiseem moes voer.

Haar oudste seun, Gary Thompson (53), is op dieselfde dag as sy ma in dieselfde hospitaal opgeneem nadat Covid-19 ook by hom gediagnoseer is. Hy sterk ná drie weke steeds in die hospitaal aan.

“Ons dink my ma het Covid by Gary gekry omdat sy by hom gewoon het,” sê Darren.

Weens die Covid-19-inperkings en omdat haar familie en vriende oor die wêreld heen woon, sal ’n begrafnis nie gehou word nie. Sy sal privaat veras word.

“Ons sal ’n Zoom-gedenkdiens hou sodra Gary herstel het en weer by die huis is,” sê Darren.

“Sy het versoek dat ons haar as aan die Suidkus by Manabastrand (in KwaZulu-Natal) strooi, op presies dieselfde plek waar my pa se as gestrooi is.”

Baron Thompson se man van sowat 37 jaar, Bernard, is in 2007 in die ouderdom van 74 dood. Hy was sowat 20 jaar sy vrou se toerbestuurder.

Sy word ook deur ’n dogter, Kimberley, en tien kleinkinders – Jade, Zenia, Joshua, Stefano, Hannah, Chloe, Aaron, Bianca, Matthew en Zoe – oorleef.

Geoefen tot haar vingers bloei

Caroline Brenda Baron is op 31 Mei 1940 in Mufulira in die destydse Noord-Rhodesië (vandag deel van Zambië) gebore.

Sy het op 13 haar debuut saam met die SAUK-orkes in Johannesburg gemaak en haar skoolloopbaan aan die Kingsmead College, ook in Johannesburg, voltooi.

Nadat sy ’n BMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad onder Harold Rubens en Doris Lardner behaal het, het sy haar studies aan die Trinity College of Music in Londen, asook onder Renata Borgatti in Rome en Arturo Benedetti Michelangeli in Bolzano voortgesit. Sy het eindelik ’n doktorsgraad behaal.

Sy het haar daarna in Bulawayo gevestig en, ná haar huwelik met Bernard, in 1966 na Harare verhuis. Sy het daarvandaan met ’n internasionale konsertloopbaan begin en konserte in Suid-Afrika, Amerika, Europa en in Asië aangebied.

Sy was vermoedelik die eerste pianis uit Afrika wat konserte in die destydse Sowjetunie en Oos-Duitsland, asook China, aangebied het. Opnames van haar uitvoerings van Beethoven se Klavierkonsert no. 4 in G (met die Kazanse Filharmoniese Orkes in die Sowjetunie), sy Klavierkonsert no. 5 in E-mol (die Keiser-konsert, met die Chinese Filharmoniese Orkes in Peking), en ’n konsert met werke deur Beethoven, Chopin en Khachaturian in Dresden (destyds in Oos-Duitsland) is nog op YouTube (ook in hierdie artikel op Netwerk24) beskikbaar.

Ná haar man se dood het sy na Midrand verhuis en vir sowat 16 jaar by haar dogter gewoon. Sy het uit ’n ateljee in Johannesburg ook vir tot agt uur per dag klavier- en teorielesse aangebied.

Sy het haar verlede jaar by Gary in Harare aangesluit en was van plan om later vanjaar na Engeland te verhuis om by Darren te woon.

Hy sê uit Engeland aan Netwerk24 sy ma was “die merkwaardigste en mees onbaatsugtige vrou wat ek nog ooit ontmoet het”.

“Sy was vriendelik teenoor almal en het ’n innemende gees gehad. Sy het danksy haar ondersteuning, wysheid en nederigheid die titel van familiematriarg oor en oor verdien. Buiten ons onmiddellike en groter familie het my ma lewenslange vriende gehad en daardie verhoudings gekoester.”

Sy was ook ’n perfeksionis, sê hy.

“Sy het ’n geweldige selfrespek gehad en sou nooit die huis verlaat sonder om haarself ‘mooi te maak’ nie – meestal met ’n onberispelike haredos en haar rooi lipstiffie en naellak.

“Sy was ook baie trots op haar huis en het besoekers altyd rondgewys voordat sy hulle ’n koppie tee aangebied het.”

Darren sê hy onthou hoe hy as tienjarige toegekyk het hoe sy ma haar vir haar Chinese konserttoer in 1983 voorberei het.

“Sy het ’n ontelbare aantal uur aan ’n spesifieke deel (in die Keiser-konsert) spandeer, maar sy kon dit net nie regkry nie. Sy het wel aanhou probeer totdat haar vingers gebloei het. Al haar harde werk het vrugte afgewerp, want sy het ’n foutlose konsert saam met die Chinese Filharmoniese Orkes in Peking saam met die bekroonde dirigent Yuan Fang gelewer.”

Só sal hy altyd sy ma onthou – die ewige voordraer.

“Ek onthou hoe my ma talle familielede en besoekers met konserte by ons huis bewoë gelaat het. Hul kommentaar het my keer op keer herinner wat ’n eer dit was om so ’n talent te aanskou.”

• Erna Rademan, die SAVMO se uittredende president, het aan Netwerk24 gesê dat hulle reeds die eerbewys aan Baron Thompson se gesin gestuur het.

“Sy het die kennisgewing (van die eerbewys) ontvang toe sy nog geleef het en sy was so bly daaroor.

“Toe ons besluit het ons gaan haar vereer, het Elma Britz (die SAVMO se uitvoerende beampte) haar onmiddellik laat weet, en ek dank die Here daarvoor, anders het sy (Baron Thompson) nooit geweet nie.

“Sy was so in haar noppies daarmee. Dit was vir ons so ’n riem onder die hart dat sy – ’n internasionale kunstenaar – so geëerd voel om deur ons vereniging vereer te word. Dit was werklik vir ons wonderlik.”

  • Enigiemand wat graag aanlyn wil inskakel vir Baron Thompson se gedenkdiens, kan ’n e-pos na africaad@gmail.com stuur. ’n Datum vir die gedenkdiens is nog nie vasgestel nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.