Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA pianis gee konsert in Wuhan kort voor Covid-19 amok maak
Die Wuhan Quintai-teater waar Ammiel Bushakevitz opgetree het.

Die noodmaatreëls om die koronavirus te bekamp het ’n ontstellende uitwerking op kunstenaars wêreldwyd, maar min het dit so vreemd getref soos die Suid-Afrikaanse pianis Ammiel Bushakevitz. Hy vertel uit Frankryk hoe dié “surrealistiese” gebeure ontvou het.

“Ek was die solis saam met ’n Franse orkes wat begin vanjaar in China getoer het en ons laaste konsert in Wuhan moes gee.

“Toe ons in Wuhan aankom, het die eerste nuus oor die koronavirus gebreek en was daar sprake dat die konsert afgestel sou word, maar oplaas is besluit die virus is nie so ernstig nie en die konsert het voortgegaan.

“Dié uitvoering van Beethoven se bekende Concerto vir viool, tjello en klavier was sover die laaste in Wuhan. Die pragtige Wuhan Quintai-teater is sedertdien gesluit.”

Ammiel Bushakevitz Foto: Argief

Terug in Parys is Bushakevitz onmiddellik vir die virus getoets, wat negatief was, maar vriende en kollegas het nietemin wye draaie om hom geloop. “Hulle het my in der waarheid verstoot,” sê Bushakevitz.

’n Klompie weke gelede toe die virus in Europa begin versprei, was hy besig met opnames in Grenoble in die Franse Alpe wat genadiglik voltooi kon word, “maar reeds op pad vir my volgende optrede in München is ek in kennis gestel dat die konsert afgestel is en die grens tussen Duitsland en Frankryk gesluit word.

“Daarna is al my optredes tot die helfte van Mei afgestel of uitgestel. Dit behels konserte in Wene, Parys, Helsinki, Heidelberg, Zürich, Londen en Marseilles, terwyl konserttoere in China, Australië en Nieu-Seeland onbepaald uitgestel is. Optredes in Kanada en die VSA is in die weegskaal.”

Bushakevitz sê dit is nie die eerste keer dat hy deur onvoorsiene omstandighede en natuurkragte (force majeure) gepootjie is nie.

“ ’n Konsert in Ethiopië is weens ’n kragonderbreking afgestel en ’n konsert in Mexiko weens ’n orkaan. Maar nooit nog is die uitwerking op my en mede-musici se loopbane so verpletterend soos nou nie.

“Ons konsertkontrakte beteken niks, en ons word vir weinig – indien enige – vooraf uitgawes vergoed. Ek moes agt internasionale vlugte kanselleer waarvoor ek nie ’n sent terugkry nie. Die produksie van my volgende album is onbepaald uitgestel omdat die ateljee in Wene gesluit is.”

Bushakevitz sê hul agente kan ook nie help nie.

“My agentskap in Londen is darem nog aan die gang, maar verskeie ander is reeds bankrot.”

Bushakevitz is tans onder kwarantyn wat hom die geleentheid gee om talle projekte aan te pak waarby hy nooit uitkom nie, en waarvoor hy dankbaar is. “Daarby is die Europese lente pragtig, selfs al kan ek dit net deur my venster aanskou.”

Ammiel, die broer van die violis Avigail Bushakevitz wat in die Berlynse Stadsorkes speel, is in Jerusalem gebore en het in Suid-Afrika grootgeword. Hy het in Duitsland studeer, sangers soos Thomas Hampson, Elly Ameling, Brigitte Fassbaender en Teresa Berganza begelei en reeds sewe CD’s opgeneem.

Meer oor:  Musiek  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.