Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA pianis-komponis (92) sterf nadat hy val

Die Hongaars-Suid-Afrikaanse konsertpianis en komponis dr. Thomas Rajna is Vrydag in die ouderdom van 92 in Kaapstad dood.

Dr. Thomas Rajna voor sy klavier. Foto: Argief

Luidens ’n familieverklaring het Rajna ’n dag tevore by sy huis gestruikel en sy heup gebreek. Hy is in die Life Vincent Pallotti-hospitaal opgeneem en is ’n paar uur later oorlede.

“Baie dankie aan almal vir jul hartlikheid en simpatie. Dit maak saak,” lui die verklaring, wat deur drie van sy vier kinders – Daniel, Jessica en Trilby – uitgereik is. Sy oudste seun, David, is reeds in 1996 dood.

“Hy het geruime tyd al fisiek gely en dit het vir hom al hoe moeiliker geword om by sy klavier te kom.

“Hy het egter – so skerpsinnig soos altyd – daarop aangedring om verlede Sondag (11 Julie) vir my die laaste beweging van Schumann se Fantasie te speel en opgewonde te verduidelik hoe dapper en seldsaam dit vir ’n komponis is om met ’n stadige beweging te eindig.”

Rajna het luidens die verklaring toe ook ’n “impromptu-les” oor Chopin se Étude nr. 3 aangebied.

“Ek het probeer om hom voor die klavier uit te kry omdat hy uitasem was, maar hy het net vir my beduie om te gaan en ek is daar weg met grepe van Chopin wat nog in die tuin en in die omgewing opgeklink het.”

Rajna se seun Daniel, vir wie plaaslike dansliefhebbers as ’n kranige balletdanser ken, het aan Netwerk24 gesê sy pa was beslis ’n “legende”.

Hy het bevestig dat Rajna benewens sy drie kinders ook deur sy tweede vrou, Ann, en twee kleinkinders, Finn en Felix, oorleef word.

“Ons is tans besig om ’n gedenkdiens te reël.”

Rajna is in Boedapest gebore en het in Engeland studeer en doseer voordat hy hom in 1970 in Kaapstad gevestig het om ’n pos as dosent in klavier aan die Universiteit van Kaapstad te vul. Hy het in 1993 afgetree.

Benewens sy opnames van veral Oos-Europese en Suid-Amerikaanse komposisies het hy hom as een van Suid-Afrika se voorste komponiste van klassieke musiek gevestig: Talle orkeswerke, kamermusiekstukke, twee operas, ’n ballet, en talle concerto’s – onder meer vir onderskeidelik klavier, harp, klarinet en viool – het uit sy pen gevloei.

Klik hier om ’n volledige doodsberig op Netwerk24 te lees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.