Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA pianiste benodig hulp met Beethoven-projek

Die Suid-Afrikaanse pianiste Ben Schoeman en die legendariese Tessa Uys het hulle tot skarebefondsing gewend om finansiering vir ’n tamaaie Beethoven-projek in te samel.

Schoeman en Uys hoop om £20 000 deur die webwerf GoFundMe te bekom sodat hulle die Pools-Duitse pianis, komponis en akademikus Franz Xaver Scharwenka se klavierduet-verwerkings van al nege Beethoven-simfonieë kan opneem.

Die projek, wat uit ses laserskywe sal bestaan, val saam met die 250ste herdenking van die Duitse komponis Ludwig van Beethoven se geboortejaar.

Uys – suster van die ewe legendariese Pieter-Dirk Uys – skryf in ’n nota oor die projek dat die bladmusiek van die Scharwenka-verwerkings eens aan haar ma, Helga Bassel, behoort het. Bassel was self ’n vooraanstaande pianis wat aan die Hochschule für Musik in Berlyn studeer het – die einste instansie waar Scharwenka ’n professor in musiek was.

“My ma het hierdie duette ontdek en saam met haar verloofde, ’n geoloog en goeie musikant, gespeel,” skryf Uys.

“Dit was in die 1920’s, kort nadat Scharwenka sy internasionale konsertloopbaan gestaak en as opvoeder in Berlyn uitgetree het.”

Toe Uys in 2015 genader is om die pianis te vervang wat die August-musiekfees in Londen sou open, het sy dadelik aan haar ma se bladmusiek van die Scharwenka-verwerkings gedink en Schoeman genader om Beethoven se magistrale Simfonie no. 9 in d mineur, op. 125 in rekordtyd aan te leer – ’n uitdaging wat hulle natuurlik kafgedraf het.

“Ons het sedertdien al die simfonieë gespeel en ’n geruime tyd al gedink hoe belangrik ’n eerste opname van hierdie besonderse verwerkings sal wees,” sê Schoeman aan Netwerk24.

“Siva Oke van (die platemaatskappy) Somm Recordings het ons aan die begin van 2020 genooi om hierdie projek te verwesenlik.”

Tessa Uys en Ben Schoeman voor die klavier. Foto: Zach Gerard

Die duo het gehoop om vanjaar talle konserte aan te bied om die projek te finansier, maar dié planne is weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking ontspoor. Nou wend hulle hulle tot skarebefondsing omdat die projek volgens Schoeman uiteraard baie duur en uitgebreid is.

Hy sê daar is talle redes vir hoekom hulle die projek wil volbring.

“Dit is juis om Beethoven se simfonieë in hierdie besonderse formaat van klavierduet aan ’n groter publiek bekend te stel, dat hierdie opname vir ons so belangrik is.

“Dié verwerkings is ook nog nooit opgeneem nie, so dit het vir ons akademiese belang.

“Ons het wel ook ’n sentimentele verbintenis met die projek aangesien die Scharwenka-partituur aan Tessa se ma behoort het. Ons is bevoorreg om hierdie persoonlike nalatenskap te koester.”

Die duo het teen 5 Augustus nog net £1 753 van hul £20 000-teiken ingesamel. Belangstellendes wat hulle wil steun, kan hul GoFundMe-blad (klik hier) besoek of meer lees op ’n webblad (klik hier) wat spesiaal vir die projek geskep is.

Navrae kan per e-pos aan beethoven250pianoduo@gmail.com gestuur word.

Meer oor:  Musiek  |  Pieter-Dirk Uys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.