Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA operasterre in dié opname te hoor
Die omslag van die opname van Puccini se Il tabarro. Die Suid-Afrikaanse sangers Johan Botha en Elza van den Heever was deel van dié produksie wat in 2010 in die Weense Konzerthaus opgeneem is.

Die ontslape tenoor Johan Botha kan gehoor word op ’n nuwe opname van Puccini se eenbedryfopera Il tabarro. Paul Boekkooi het daarna geluister.

Sangers is net so sterflik soos enigiemand anders, maar die tragiese omvang daarvan is onuitwisbaar wanneer dit in die fleur van hul lewe geskied.

Die tenoor Johan Botha (51) se dood op 8 September 2016 en dié van die Russiese bariton Dmitri Hvorostofski (55) op 22 November 2017 het die internasionale operawêreld geruk.

Botha was die Suid-Afrikaanse operasanger wat die grootste aantal klank- en DVD-opnames op sy kerfstok gehad het. Die goeie nuus is dat daar mettertyd waarskynlik meer tot sy diskografie toegevoeg kan word, soos nou met sy aandeel in ’n konsertweergawe van Puccini se eenbedryfopera Il tabarro (Die mantel) wat op 20 Mei 2010 in die Weense Konzerthaus opgeneem is.

Vir Suid-Afrikaners het hierdie uitreiking ’n bykomende aantrekkingskrag omdat een van ons beroemdste soprane wie se oorsese loopbaan van krag tot krag gaan – dié van Elza van den Heever – se naam ook in die rolverdeling verskyn. Sy sing Giorgetta, die vroulike hoofkarakter.

Il tabarro is die eerste van ’n trits eenbedrywe waaraan Puccini tussen 1913 en tot vroeg in 1918 gewerk het. Sy Il trittico, wat ook Suor Angelica en Gianni Schicchi insluit, se première was op 14 Desember 1918 in New York se Metropolitan-operahuis. Destyds was die Eerste Wêreldoorlog in Italië nog nie uitgewoed nie.

Vir Suid-Afrikaners het hierdie uitreiking ’n bykomende aantrekkingskrag omdat een van ons beroemdste soprane wie se oorsese loopbaan van krag tot krag gaan – dié van Elza van den Heever – se naam ook in die rolverdeling verskyn. Sy sing Giorgetta, die vroulike hoofkarakter.

In Il tabarro staan verismo, wat ’n kombinasie van naturalisme en realisme impliseer, baie sterk. Die krotbuurte van Parys, die oewer van die Seine, asook dokwerkers word uitgebeeld. Ook die verloop van die daaglikse en seisoenale tyd word onderliggend sterk gesuggereer.

Tog oorheers by Puccini, soos altyd, die karakters. Die verhaal is een van ontrou, afguns, jaloesie, terwyl wraak nie gestuit kan word nie. Il tabarro is al meermalig as ’n riller beskryf. Die komponis slaag briljant daarin om dié aspek ook suggestief in die musiek te verklank – genadiglik soveel meer so met smaak as by grilprentklankbane.

Botha in die rol van Luigi bewys vokaal dat hy die Italiaanse idioom steeds met groter wasdom en stilisties detailryke karakterisering binnegedring het. Hy vestig ’n lewende karakter te midde van die spanning. Luigi is verlief en begeer Giorgetta, wat getroud is met Michele, gesing deur Wolfgang Koch.

Van den Heever ontgin die karakter van Giorgetta voluit en met ’n totale omvattendheid in vokale uitdrukkingskrag. Daar is dinamies boeiende vokale skakerings wat genuanseerd tussen aggressie en broosheid wissel.

Die ander sangers in die kleiner rolle oortuig ewenwel, terwyl die dirigent Bertrand de Billy, wat gereeld met Botha saamgewerk het, die dieper, soms versteekte klankvermengings in die orkespartituur op ’n magiese wyse tot lewe bring.

PUCCINI: Il tabarro. Met Johan Botha, Elza van den Heever, Wolfgang Koch, Heidi Brunner, Charles Reid e.a. / Weense Sangakademie / ORF Weense Radio-Simfonieorkes / Bertrand de Billy. Capriccio C5326.

Meer oor:  Johan Botha  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.