Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA se country-legende ernstig siek
Die koning van country in Suid-Afrika, Lance James, is ernstig siek.

Suid-Afrika se country-legende Lance James is ernstig siek in ’n Johannesburgse hospitaal.

Big Daddy, soos sy derduisende aanhangers na Suid-Afrika se country-koning verwys, word behandel in die hoësorgeenheid vir ’n infeksie wat hy opgedoen het ná ’n heupvervangingsoperasie vroeër vandeesmaand.

James (82) is middel-Januarie in die hospitaal opgeneem vir moegheid en sukkel blykbaar al lank met hartprobleme, volgens sy agent Lydia Winchester. “Hy het tydens die toetse in die hospitaal geval en sy heup gebreek.”

Hy het intussen ’n infeksie opgedoen en is na die hoësorgeenheid van die hospitaal oorgeplaas.

Die familie het luidens ’n verklaring die publiek bedank vir hul volgehoue ondersteuning en versoek dat die publiek nie die hospitaal moet besoek nie “sodat James die nodige rus gegun word”.

Winchester is al so lank as wat sy in die bedryf is James se agent. “Ek werk al 35 jaar saam met hom. Ek het die familie versoek om tog ’n verklaring uit te reik dat as iets nou gebeur dit nie so ’n groot skok vir sy aanhangers sal wees nie. Destyds met Gé (Korsten) se dood was dit so ’n geweldige slag vir almal. Ek dink mense moet net weet sodat hulle voorbereid is.”

Lance James

Sy beskryf James, bekend om tientalle goue treffers soos “Dankie”, “Viki” en “Ahoy”, as ’n absolute heer in handel en wandel. “Daar is nie ’n groter gentleman in ons bedryf as Lance James nie. Hy behandel mense met respek. Weet jy ná al die jare sing hy steeds sy heel eerste treffer ‘Dankie’ op elke vertoning,” het Winchester gesê. James, wat in Germiston gebore is, maak al meer as ses dekades musiek en het sy eerste optrede as negejarige in Margate gelewer.

Lesers sal hom ook onthou as radio-omroeper vir die ikoniese radiostasie Springbok Radio met onder meer die program Keep it Country van 1954 tot 1985, asook op Radio Orion. Volgens Winchester maak hy steeds getrou opnames en stuur dit na gemeenskapsradiostasies wat dit dan uitsaai. “Hy het so ’n ongelooflike radiostem.”

Sowel James as sy gereelde sangmaat Min Shaw is verlede jaar deur die FAK vereer vir hul lewensbydrae. Hulle het hul eerste langspeelplaat, Bymekaar, in 1968 uitgereik. Die lied is steeds in groot aanvraag by die publiek as hulle optree.

James is ook opgeneem in die nuwe Suid-Afrikaanse Legendes-museum onder aanvoering van Shaun Mynhardt, wat Sondag in Pretoria open.

James het verlede jaar op 81 die album Swan Song uitgereik waarop hy opnuut sy meesterlike veelsydigheid wys, dit het ’n goeie ontvangs geniet onder plaaslike musiekskrywers. Op die album kan van blues, folk, Keltiese musiek, swing, rock, soul en country gehoor word. Dit sluit covers van liedjies soos Metallica se “Nothing Else Matters”, Toby Keith se “Don’t Let the Old Man In” en Hank Williams se klassieke ballade “Leave Me Alone” in.

Meer oor:  Musiek  |  Lance James  |  Country
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.