Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA se eie Whitney Houston wen prys oorsee
Belinda Davids Foto: David Garcia

Die Suid-Afrikaanse sangeres Belinda Davids, bekend om haar vertolking van die ontslape Amerikaanse sangeres Whitney Houston se musiek, het onlangs ’n spesiale internasionale prys by die Verenigde Koninkryk se nasionale huldeblyk-musiekpryse in Droitwich, Engeland, losgeslaan.

“Ek het aanvanklik nie die prys ernstig opgeneem nie, en later besef wat aangaan,” sê Davids wat The Greatest Love of All: A Tribute to Whitney Houston in 2013 die eerste keer opgevoer het en dit later vanjaar weer in Suid-Afrika gaan opvoer.

“Ek sien nie gereeld dat iemand met ’n huldeblykkonsert ’n prys wen nie, en hierdie pryse is spesifiek vir huldeblyke ingestel.

“Ek het die prys nog nie weggepak nie. Ek kyk nog daarna met groot dankbaarheid. Ek het natuurlik aanvanklik gewonder of ek nie droom nie, maar dit sink uiteindelik in. Maar dit het ’n ruk geneem. Dit is ’n voorreg om dié prys te wen, want ek hou baie van die Verenigde Koninkryk.”

Nadat sy die BBC-reeks se musiekkompetisie Even Better Than The Real Thing in 2017 gewen het, geniet sy ’n groot aanhang in Brittanje.

Davids het ook op 3 Julie drie liedjies van Houston by die Chateau Impney in Worcestershire tydens ’n televisieopname gesing.

Sy het Donderdagaand tydens die laaste episode van die sanger en aanbieder Emo Adams se talentsoekreeks Maak my famous op kykNET opgetree.

Sy het Houston se lied “One Moment in Time” gesing.”

“Ek het eintlik gehoop ek sou my nuwe enkelsnit kon sing, maar dis nog nie gereed nie. Maar die lied ‘One Moment in Time’ het vir my reg gevoel vir die geleentheid.”

Davids, wat in Port Elizabeth gebore is, tree in November in Kaapstad met The Greatest Love of All op.

Dit duur van 20 November tot 1 Desember in die Kunstekaap se Operahuis.

“Dit is die enigste konsert in Suid-Afrika waarin ek vanjaar optree en ek word deur ’n orkes begelei. Volgende jaar tree ek weer met hierdie konsert in The Mandela in die Joburgteater in Braamfontein op. Dit is waar dit alles begin het.”

Showtime Management het Davids gekies nadat meer as 15 000 oudisies in 12 lande gehou is.

Sy het talle hoogtepunte met die produksie gehad.

Tydens ’n optrede in Hongkong het sy die skare so meegevoer met haar vertolking van “I Will Always Love You” dat die gehoor agterna gevra het sy moet a cappella sing net om seker te maak dit is werklik sy wat gesing het.

Sy het dit ook in die Apollo- teater in Amerika opgevoer waar sy die Amerikaanse radio- en televisiepersoonlikheid Steve Harvey baie beïndruk het.

  • The Greatest Love of All word van 5 tot 28 Junie 2020 in The Mandela in die Joburgteater in Braamfontein in Johannesburg gehou. Kaartjies kos R180 tot R390. Bespreek by Webtickets.
Meer oor:  Belinda Davids  |  Whitney Houston
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.