Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA se ‘Mr. Showbiz’ sterf
Alvon Collison afgeneem in sy huis in Milnerton naby Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die geliefde Kaapse vermaaklikheidskunstenaar Alvon Collison (79), ook bekend as “Mr. Showbiz”, is Saterdagoggend oorlede.

Collison, ’n veelbekroonde teaterlegende, laat diep spore in die Suid-Afrikaanse teaterlandskap. Hy was vir meer as ses dekades ’n ware “entertainer”. In Kaapstad was hy ook bekend vir sy gratis Kersopvoerings wat hy jaarliks in die stadsaal aangebied het. Hy het veral sy merk gemaak in musiekteater en vermaakvertonings in hotelle en nagklubs. Hy het meer as 3 000 vertonings van“Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoatmet groot sjarme deurgedraf as die farao. Tim Rice, medeskepper saam met Andrew Lloyd Webber van dié immergroen musiekspel, het Collison “as die beste farao in die wêreld” bestempel. Collison het van jongs talent as sanger en danser gehad en het benewens op die land se verhoë ook op televisie verskyn.

Die nuus van sy dood is bekend gemaak deur Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxterteater in Rondebosch waar Collison dikwels opgetree het. Hy was gereeld daar op die planke in ’n spesiale program vir pensioentrekkers getiteld “Morning Melodies”.

“Alvon was so ’n goedhartige en hartstogtelike vermaakkunstenaar. Daarby was hy ’n meelewende en deernisvolle mensch,” het Stellenboom gesê. “Hy het sy als gegee om sy gehore gelukkig te maak. Hy was wat ’n mens noem ’n ‘true performer’.”

Die vermaaklikheidskunstenaar Alvon Collison is Saterdagoggend oorlede.

Collison het in 2018 in ’n onderhoud met Murray La Vita, profielskrywer van Netwerk24, gesê hy is “ ’n gewone man wat lucky geword het”. “Ek is ’n sanger, ’n doodgewone performer; ek is nie Marius Weyers nie . . . Mense het van my spirit gehou meer as van my talent. Ek het nooit baie moeite gedoen met dinge soos diksie of sang- en danslesse nie, ek was maar net altyd ek.” Collison is in 1941 in Woodstock in Kaapstad gebore en het ook daar skoolgegaan. Die gesin het verhuis na Salisbury (nou Harare) in die destydse Rhodesië (Zimbabwe). Sy talent is daar raakgesien deur die teaterdoyenne Joan Brickhill, wat hom in ’n kettingwinkel raakgesien het waar hy gewerk het. Sy het vir hom ’n rol in een van haar en Louis Burke se extravaganzas in Johannesburg gegee. Later sou hy ook in hul “Follies Fantastique” optree. Hy het ook vir ’n tydperk vir die destydse Transvaalse Raad van die Uitvoerende Kunste (Truk) gewerk.

Collison was een van die vermaakkunstenaars aan boord van die passasierskip die Oceanos wat in 1991 aan die Wildekus naby Koffiebaai vergaan het. Hy was onder die 500 passasiers wat per helikopter van die sinkende skip gered is. Terwyl die skip sink, het hy en Mara Louw vir die passasiers gesing.

Hy was ’n diabeet en het gereeld dialisebehandeling ondergaan. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

Collison is in 2018 met ’n Fleur du Cap vir sy lewenswerk en sy ondersteuning van die plaaslike teatergemeenskap vereer.

Hy sou op 25 April 80 word.


Meer oor:  Dood  |  Alvon Collison
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.