Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA se spesiale ster vier ’n nuwe Groove ná 30 jaar
Mango Groove

Claire Johnston, hoofsanger van Mango Groove, is oortuig daarvan dat die konsert te viering van hul 30 jaar in die bedryf sedert hul debuutalbum hulle tot nuwe hoogtes sal inspireer.

“Dit is ’n loopbaan wat nog aanhou, ons is nie iets van die verlede nie, maar ’n mens is nogal emosioneel as jy deur ou knipsels blaai. Ek is seker dat ons nuwe konsert ons sal inspireer om nuwe werk te skep.”

Die konsert word gehou in die Teatro by Montecasino in Fourways, Johannesburg.

Mango Groove, die groep se debuutalbum, is in 1989 uitgereik, maar die groep was toe al ’n paar jaar aan die gang. John Leyden, met wie Johnston voorheen getroud was, het die groep in 1984 reeds gestig en Johnston het die volgende jaar by die groep aangesluit.

Die groep, gekenmerk deur klanke soos marabi, kwela, pop en die penniefluitjie, se treffers sluit in “Special Star”, “Hellfire”, “Dance Sum More”, “Move Up”, “Hometalk”, “Another Country” en “Moments Away”.

Mango Groove was nie hul eerste poging tot ’n album nie.

“Ons het twee onsuksesvolle pogings gehad,” sê Johnston.

“In 1985 en 1986 het ons by verskillende platemaatskappye aan albums gewerk wat nooit die rakke gehaal het nie. Destyds het ons ’n paar enkelsnitte op radio gehad.”

In 1989 het die deurbraak gekom. Mango Groove sou daarna een van die topverkopers word.

Voor dit het hulle baie getoer en konsert gehou.

“Die radio-enkelsnitte het ons ook op die album ingesluit, maar hulle is weer opgeneem. Dit was ‘Two Hearts’, ‘Move Up’ en ‘Love Is (the Hardest Part)’.

Mango Groove was destyds een van die min musiekgroepe waarin lede van verskillende rasse saam op een verhoog opgetree het.

“Ek dink die tydsberekening was reg. Suid-Afrikaners was gereed vir so iets.”

Dit was meer as drie baie besige dekades.

Hulle is die enigste Suid-Afrikaanse groep tot nog toe wat al hul kaartjies by die Superbowl by Sun City ses keer in een jaar kon uitverkoop.

Die groep geniet ook internasionale roem. Tydens hul konserte in die buiteland kry hulle baie terugvoering van voormalige Suid-Afrikaners.

“Hulle raak baie emosioneel. Hulle is ’n bietjie homesick. So musiek word die barometer en hulle het soveel herinneringe.”

Die gewildheid van “Special Star” kon Johnston nog nooit begryp nie.

“Ons het nooit gedink dat dit op radio gespeel sal word nie, want dit is byna ses minute lank. Dit is ’n onwaarskynlike poptreffer. Dit het ons uitgeboul toe dit so goed ontvang is.”

Daar was egter ’n tyd dat Johnston die lied verag het.

“Toe ons die album Another Country uitgereik het, was mense ontvanklik vir die nuwe werk, maar hulle wou nog steeds ‘Special Star’ hoor.

“Nou het ek ’n punt bereik waar ek dink wow, om deel van daardie lied te wees, die manier waarop dit mense raak. Mense verloor dit, hulle sit nie stil nie. Trouens, hulle sit nie. Ek hou van daardie interaksie. Ek kan deesdae nie meer daarvoor wag nie.”

Die lied is ook ’n huldeblyk aan Johannes (Spokes) Mashiyane, wat as een van Suid-Afrika se grootse penniefluitspelers beskou word. Hy is in 1972 dood.

Mango Groove gebruik ook ander instrumente, soos viool in “Hometalk” en trekklavier in “Two Hearts”. Nico Carstens het dit destyds vir hulle gespeel.

Die groep se jongste album, Faces to the Sun, is in 2016 uitgereik.

“Ek dink in die algemeen inspireer die lewe ’n mens,” sê Johnston.

“En soms is die vreemdste dinge die inspirasie. Ons jongste album het gespruit uit John (Leyden) wat deur Suid-Afrika gery het. Om in hierdie mooi land te wees en optimisties te wees was beslis die prikkel.”

* Die konsert word op 8 en 9 Maart in die Teatro by Montecasino in Fourways, Johannesburg, aangebied. Vertonings begin om 20:00 en kaartjies kos R300 tot R400. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Teatro  |  Montecasino  |  Fourways  |  Mango Groove  |  Celebs  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.