Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA sopraan wen gesogte internasionale liedprys
Masabane Cecilia Rangwanasha Foto: Verskaf

Die 27-jarige Suid-Afrikaanse sopraan Masabane Cecilia Rangwanasha is op die hoogaangeskrewe BBC Cardiff Singer of the World-kompetisie in die Walliese hoofstad as die wenner van die liedprys aangewys.

Rangwanasha het die beoordelaars oorrompel met haar uitvoerings van Schubert se Gretchen am Spinnrade – D118; ’n Xhosalied van die komponis BPJ Tyamzashe getiteld “Isithandwa Sam”, Lizst se Die Lorelei– S273 en Betty Jackson King se gospellied “Ride Up in the Chariot”.

John Gilhooly, een van die beoordelaars, het gesê die gehalte van die finaliste in die liedprys-kompetisie was van hoogstaande gehalte. “Dit is inspirerend om te weet die toekoms van die liedvorm is veilig, met soveel talent wat na vore kom.

“Daar kan ongelukkig net een wenner wees. Masabane Cecilia Rangwanasha het met selfversekerde tegniek en emosionele krag die paneel eenparig oorgehaal.”

Die kompetisie het op 12 Junie begin en duur tot Saterdag 19 Junie, wanneer die top-vyf-sangers dit om die hoofprys van £20 000 (sowat R390 000) en die titel BBC Cardiff Singer of the World sal uitspook.

Op 17 Junie word die eindronde vir die liedprys met wengeld van £10 000 aangebied. Die Dame Joan Sutherland-gehoorprys van £2 500 en ’n kristaltrofee sal ook op die laaste aand oorhandig word.

Volgens die kompetisiereëls kan die wenner van die liedprys ook die hoofprys ontvang.

Rangwanasha het in Limpopo grootgeword en ’n BTech-graad in uitvoerende sang aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria verwerf. Sy het daarna ’n nagraadse diploma onder leiding van Virginia Davids aan die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege verwerf.

In 2019 het sy twee spesiale pryse en die gehoorprys in die geprese Hans Gabor Belvedere-operasangkompetisie gewen en in 2017 die eerste prys in die ATKV-sangkompetisie verower.

Rangwanasha sluit haar in September aan by die ensemble van die Bern-staatsopera in Switserland, waar sy vir twee jaar aangestel is.

Meer oor:  Cardiff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.