Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA sopraan wen kategorie in sangkompetisie

Die Suid-Afrikaanse sopraan Leah Gunter is aangewys as ’n kategoriewenner in die agtste internasionale Lav Mirski-sangkompetisie in Kroasië.

Dié kompetisie, wat sedert 2013 deur die Academy of Arts and Culture in Osijek, in die ooste van Kroasië, aangebied word, is vanjaar weens die koronaviruspandemie aanlyn beslis.

Gunter (29) het aan die kategorie vir sangers jonger as 32 jaar oud deelgeneem en loshande met ’n gemiddelde punt van 95,8% koningin gekraai. Filip Pavisic, een van die vyf paneellede, het haar met ’n punt van 100% bekroon.

Die Kubaans Amerikaanse sopraan Isabella Lamadriz is tweede met 90,2%, terwyl die Hongaarse sopraan Johanna Németh-Nagy met 87% in die derde plek is.

Gunter het aan Netwerk24 gesê dié prys is ’n groot eer.

“ ’n Mens het altyd as jong sangeres hoë verwagtinge om jou deurbraak op die een of ander manier in die wêreld van sang, en dan spesifiek opera, te maak. Ek het dit (die kategorieprys) glad nie verwag nie.”

Gunter, wat ’n vryskut-operasangeres van Kaapstad is, het ’n sertifikaat en kontantprys ontvang vir haar voordrag van die arias “Vieni t’affretta” uit die opera Macbeth deur Verdi, “Pleurez mes yeux” uit Le Cid deur Massenet, “Dich teure Halle” uit Tannhäuser deur Wagner, en “D’Oreste, d’Ajace” uit Idomeneo deur Mozart.

“Ek het maar soos altyd (in die kompetisie) gehoop vir die beste. Ek was emosioneel en uiters verras (toe sy die uitslag hoor), veral onder die omstandighede waarin die wêreld tans verkeer en dit die kunste so erg afferkteer.”

Gunter het in die Kaap in ’n musikale gesin vol medici grootgeword, en haar BMus-graad in 2013 cum laude aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy het dit in 2019 as ’n student van prof. Virginia Davids met ’n MMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad se operaskool opgevolg. Sy is tans ’n student van die opera-regisseur Pierre du Toit.

Sy het gesê sy stem saam dat die talle aanlyn operakompetisies ’n klein silwerrandjie van die pandemie is – kompetisies in die buiteland wat onder normale omstandighede vir operasangers met leë beursies ontoeganklik is.

“Ek hoop net dat ons nie die unieke ervaring van lewende opera sal verloor nie,” sê sy.

“Dit bring mense bymekaar, en sodra die pandemie oorwin kan word, sal die publiek en die kunstenaars self ook weer die teater opreg waardeer.”

Gunter berei haar tans op ’n loopbaan in die buiteland voor. Sy het reeds tot die halfeindronde van die Concorso Lirico Internazionale Ottavio Ziino-kompetisie in Rome deurgedring, wat weens die pandemie eers volgende jaar hervat word. Gunter hoop om volgende jaar na Italië te reis en aan dié kompetisie deel te neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.