Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA tenoor (32) neem glo sy eie lewe

Die Suid-Afrikaanse tenoor Kagiso Boroko is Dinsdag op die ouderdom van 32 dood. Channel24 berig dat Boroko glo sy eie lewe geneem het.

Marcus Desando, voormalige hoof van die operageselskap Gauteng Opera, het aan Netwerk24 gesê dit sou “onregverdig” wees as enigiemand buiten Boroko se gesin die oorsaak van sy dood bevestig.

“Wat ek wel op rekord sal sê: Die manier hoe hy die einde van sy lewe bereik het, is baie hartseer. Ons sal dit nooit begryp nie. Hy was definitief baie depressief. Die situasie in Suid-Afrika is nie maklik nie.

“Dit was ook ’n enorme terugslag vir hom toe Gauteng Opera (in 2018) sy deure gesluit het, veral omdat hy oor ’n tydperk van basies tien jaar eers lid van die Black Tie-ensemble en toe die operageselskap was. Kagiso se uitlaatklep was nog altyd sang, so dit was moeilik vir hom om sy voete ná Gauteng Opera te vind.

“Een aspek wat definitief tot sy dood gelei het, was die staat van inperking en niemand van ons wat so baie kon sing en optree soos ons altyd het nie. Die hartseer ding is: Hy is ’n voorbeeld van wat gebeur wanneer iemand nie in staat is om te doen waarvoor hulle lief is nie.”

Netwerk24 het uitgereik na Boroko se vrou, Katlego Hellen, en sy broer, Kgothatso, maar kon hulle nie bereik nie. Boroko word benewens sy vrou deur hul twee jong seuns oorleef.

Een aspek wat definitief tot sy dood gelei het, was die staat van inperking en niemand van ons wat so baie kon sing en optree soos ons altyd het nie. Die hartseer ding is: Hy is ’n voorbeeld van wat gebeur wanneer iemand nie in staat is om te doen waarvoor hulle lief is nie.
Marcus Desando

Kagiso Christiana Boroko se liefde vir opera het aanvanklik in sy skoolkoor, by die Botse Botse Secondary School in Soshanguve, begin blom. Volgens sy profiel op StarNow, ’n werwingswebwerf vir kunstenaars, het hy op skool reeds by die sanggroep Sweet Voice Master betrokke geraak, voordat hy in 2010 by die Black Tie-ensemble se ontwikkelingsprojek aangesluit het.

Dit is daar waar sy pad met dié van Desando, destyds onder meer Boroko se toneelspel-afrigter, en Susan Steenkamp-Swanepoel, pianis, begeleier en repetiteur, gekruis het.

“Ek is skoon bewoë,” sê Steenkamp-Swanepoel oor Boroko se dood. “Uit die mond van iemand wat hom baie goed geken het: Hy is vir my net te jonk om te gaan . . .

“Hy’t nog verlede jaar in Desember in Kerskonserte in die Rockwood-teater opgetree, ook in my kerk. Hy’t altyd na my huis toe gekom (in Constantia Park, Pretoria) om te kom oefen. Hy was so ’n lieflike mens.

“Maar baie sangers het hul werk verloor – daar is natuurlik nie meer singwerk nie, veral omdat teaters nog toe is. Ek het hierdie jaar net in een konsert gespeel. Daar is net nie werk nie. Dit het sangers hard getref – ook vir hom.”

Kagiso Boroko Foto: Facebook

Volgens Steenkamp-Swanepoel is die Black Tie-ensemble se ontwikkelingsprojek op die been gebring om belowende sangers, wat dit nie kon bekostig om te studeer nie, op te lei.

“Ek het nog vir Kagiso klavier en teorie gegee. Hy was nog so verbaas dat hy vir teorie lof gekry het, maar ek het hom omtrent gedril!

“Ek kan werklik net met die hoogste lof van hom praat. Hy het altyd sy werk geken en hy het die pragtigste tenoorstem gehad. Ek is werklik baie hartseer hieroor.”

Desando, wat ook sedert 2011 Boroko se stemafrigter was, beaam Steenkamp-Swanepoel se lof.

“Daar is niemand wat ’n teer oomblik kon sing soos Kagiso nie,” sê hy.

“Hy het ’n finesse en sensitiwiteit met musiek gehad wat ’n mens nie eintlik vir iemand kan leer nie. Hy was werklik ’n vreeslose sanger. Sang was meer as ’n loopbaan vir hom – dit was deel van sy hele wese.”

Desando sê hy het ná al die jare Boroko eintlik as ’n broer aangeneem.

“Ons het ’n hegte band gehad. Die kultuur by Gauteng Opera was dié van familie: Ons het saam middagete geëet, saam gaan stap, ons was geïnteresseerd in mekaar se lewens.

“Toe Kagiso sy kar gekoop het, was hy so senuagtig om dit te bestuur en het hy my gevra om dit saam met hom te gaan afhaal. Toe hy getroud is, was ek die eerste persoon wat hy gesê het. Hy het my ook gevra om die seremoniemeester te wees.

“Eintlik het hy te veel omgegee. Geen taak was ooit te moeilik vir hom nie. Hy het altyd aanhou probeer. Ek wens hy het dié keer aanhou probeer.”

Madlala sê dit is veral hartseer dat Boroko in ’n stadium toestelle in ’n tegnologiewinkel moes verkoop om homself en sy gesin te onderhou.

Die sopraan Khayakhazi Madlala sê haar hart breek ook oor die nuus. Madlala het Boroko in 2016 ontmoet toe sy ’n intern by Gauteng Opera was, maar sy het later ook talle kere saam met hom opgetree.

“Daar is talle rolle waarin ek hom sal onthou: Gauteng Opera se Cula Mzansi!-reeks, La Traviata, L’elisir d’amore – al die korporatiewe vertonings wat ons gedoen het.

“Hy het ’n baie unieke stem gehad. Elke keer as hy sy mond oopgemaak het, wou hy sing – selfs al was hy moeg.

“En hy was altyd snaaks en komieklik. Hy het altyd probeer om almal in die kamer te laat lag en hulle welkom te laat voel.”

Hoewel Boroko ná Gauteng Opera aan die Loveline Arts-stigting verbonde was, sê Madlala dit is veral hartseer dat hy in ’n stadium toestelle in ’n tegnologiewinkel moes verkoop om homself en sy gesin te onderhou. Sy sê hy was meer onlangs werkloos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.