Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SA tjellis na wêreldkongres in LA genooi
Die Bloemfonteinse tjellis Anmari van der Westhuizen

Die bywoning van ’n wêreldkongres oor ’n bepaalde musiekinstrument maak by enigeen ’n warboel van gedagtes los.

“Dink net aan die dampkring van internasionaal bekende musici waarin jy beweeg, die uitmuntende konserte, nuwe inligting oor instrumente, nuwe werke en die geleentheid om te netwerk,” sê Anmari van der Westhuizen.

Dié tjellis in die Odeion-strykkwartet, medeprofessor en hoof van die strykerafdeling aan die Odeion-musiekskool aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), woon vanjaar ’n tjellokongres in Los Angeles by.

Dit is die derde keer dat die University of Southern California, die Thornton School of Music en die Los Angeles Philharmonic die Piatigorsky International Cello Festival aanbied.

Van der Westhuizen is boonop genooi om in ’n ensemble van top-tjelliste op die afsluitingskonsert op te tree.

Van die bekendstes onder die 33 internasionale konserttjelliste op die geleentheid is Mischa Maisky van Israel, Steven Isserlis, Ralph Kirshbaum (ook die fees se artistieke direkteur), Maria Kliegel, Raphael Wallfisch, Wolfgang Emanuel Schmidt en Michael Kaufman.

Al 33 kry die geleentheid om in etensuur- en aandkonserte op te tree, terwyl van hulle ook meesterklasse sal aanbied.

“In so ’n klas leer ’n mens nie net meer oor tegniek en die vertolking van musiek nie, maar sien jy ook op watter vlak buitelandse tjello-studente deesdae musiseer. Dit is hulle wat die voorreg het om by meesters te leer, terwyl ons toekyk,” sê Van der Westhuizen.

’n Interessante aanbieding is dié deur Maisky wat insae sal gee in die uitdagings en vreugdes van ’n musikus se lewe. Hy sal oor sy professionele ontwikkeling gesels en hoe om dit te bestuur sodat jy ’n suksesvolle loopbaan kan hê en dit geniet.

Mischa Maisky, een van die wêreld se top-konserttjelliste

Die 71-jarige Maisky, wat in 1948 in Riga, Letland, gebore is en ’n student van Mstislav Rostropovich in Moskou en later van Gregor Piatigorsky in Los Angeles was, het Israelse burgerskap, maar woon deesdae in België.

Maisky sal ook aan ’n paneelbespreking oor Piatigorsky se onderrigmetodes en durende invloed op musiek deelneem. Die ander paneellede is Terry King, Laurence Lesser, Jeffrey Solow en Raphael Wallfisch, asook Piatigorsky se kleinseun Evan Drachman.

Van der Westhuizen sê 42 aanbiedings vind oor die tien dae van 13 tot 22 Maart plaas, waarvan sy soveel as moontlik sal bywoon en beslis ook Kliegel se meesterklas. Sy was ’n student van Kliegel.

Die uitnodiging om haar by die tjello-ensemble aan te sluit was op grond van ’n DVD wat sy saam met haar aansoek vir die kongres ingestuur het.

Hilo Carriel sal die groep in ’n uitvoering van Villa-Lobos se Bachianas Brasilieras nr. 5 en Bach se Air dirigeer.

Voor dié slotwerk sal vier tjelliste solo-uitvoerings gee en sal ’n opdragwerk vir ’n tjello-kwintet deur Donald Crockett die eerste keer uitgevoer word.

Dié konsert sal in die Walt Disney-konsertsaal plaasvind.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.