Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Saarkie roep hul ‘Blommie’ vaarwel toe

Die rockgroep Saarkie is amptelik sy geliefde “Blommie” kwyt.

Mjön van Blommestein, wat sedert Februarie 2018 saam met Adèle Fouché en Lila Botha in die trio musiek maak, het die groep vaarwel toegeroep om haar aandag op haar nuwe onderneming, Hey Body – Mobile EMS Training, toe te spits.

Van Blommestein, wat onder haar kamerade as “Blommie” bekend staan, het op Facebook geskryf sy het nooit gedink die dag sal kom dat sy dié aankondiging moet maak nie, maar die “staat van inperking was baie rof op ons musikante, en ons almal moes vinnig buite die boks dink” om te oorleef.

“My en Saarkie se pad moet ongelukkig skei. Covid het finansieel én emosioneel ’n groot invloed op ons almal se lewens gehad, en dit gaan nog vir ’n lang ruk.

“Ek het ’n nuwe besigheid begin wat my naweke in beslag gaan neem en dit moeilik maak om op die pad weg te wees; met die nuwe Covid-vlaag weet ek ook nie hoe die toekoms lyk nie.”

Mjön van Blommestein (voor) het die rockgroep Saarkie gegroet. Adèle Fouché (agter) en Lila Botha sê hulle gaan hul tyd neem om ’n nuwe lid te werf. Foto: Willem Foster

Sy sê sy moet die groep dus “met ’n swaar hart” groet.

“Ek gaan die roadtrips, die gasvryheid, die gedansery – glad nie die tequila nie, ha-ha! – en almal se geselsies baie mis! Julle maak dit altyd die moeite werd!

“Adèle en Lila, julle het my deel gemaak van jul familie, al kon ek nog nie bass speel nie. Julle het in my geglo en vir my die platform gegee om my passie vir musiek uit te leef.

“Ek koester elke memory wat ons saam gemaak het: Ghoemas, pap wiele, Australië, Nieu-Seeland, lag, huil, beste vriende en ook die bleddie lockdown! Julle sal altyd naby my hart bly! Love julle girls.”

Fouché en Botha het in antwoord op die inskrywing hul “Blommie” bedank vir alles wat sy tot die groep bygedra het – ook dat hulle haar motto sal aanneem: “If you can’t do it, learn to do it.”

“Om saam met jou ’n verhoog te deel, was ’n ongelooflike experience, en jou dansies bly die beste! Jy het ons baie laat lag, Blom. Dankie vir ons lekker maagspiere!

“Jy het ontsettend vinnig geleer; jy moet nooit ophou musiek maak en skryf nie. Jy het baie talent.

“Ons wens vir jou net die beste toe en dat al jou drome waar word.”

Fouché en Botha het saam per e-pos aan Netwerk24 gesê dat Saarkie, wat in 2005 gestig is, nié gaan ontbind nie en dat hulle “volstoom” voortgaan.

“Ons het reeds met ander musikante begin oefen wat as session (vir Van Blommestein) sal instaan. Saarkie het reeds groot hoogtes bereik en ons sal eers doodseker maak oor iemand meer permanent. Tyd sal leer, maar ons het ’n paar opsies.”

Hulle sê die uitwerking van die pandemie het hulle almal hard getref en hulle al drie gedwing om nuwe ondernemings op die been te bring om die pot aan die kook te hou. Benewens Van Blommestein se nuwe onderneming het Fouché die pizza-onderneming The Wild Italian en Botha Da Capo Trading begin. Musiek sal egter altyd hul voorliefde bly.

“Ons het ’n album saam met Blommie wat binnekort uitgereik word. Ons wag net vir die design en mastering, dan reik ons die album uit.”

Meer oor:  Ghoemas  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Rock  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.