Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Sakov vier 40 j. met orrelbeurse van R400 000

Die Vereniging van Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorreliste (Sakov) gaan sy 40ste bestaansjaar met onder meer ’n feeskonsert en die toekenning van beurse ter waarde van R400 000 vier.

Dr. Mario Nell voor die Marcussen-orrel in die Endler-saal op Stellenbosch. Nell is voorsitter van Sakov én die departement van musiek aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: EJ Langner / Digital Image Warehouse

Dié feesvieringe vind vanjaar plaas op 18 en 19 September tydens die vereniging se jaarvergadering, wat ook weens die pandemie die eerste keer aanlyn aangebied word.

Die verrigtinge begin op 18 September om 19:00 met ’n orrelkonsert om benewens Sakov se mylpaal die Marcussen-orrel in die Endler-saal op Stellenbosch se 40ste bestaansjaar te vier.

Erik Dippenaar, Louna Stofberg, Mario Nell, Winand Grundling en Zorada Temmingh – wat almal eens opleiding op die Marcussen-orrel ontvang het – gaan werke deur Bach, Buxtehude, Corette, Elgar, Saint-Saëns, Troskie en improvisasies voordra.

“Met vandag se tegnologie was dit eintlik baie maklik om dit (die konsert en die orrel se grootse klank) op te neem,” sê die klankingenieur Pierre-Arnold Theron.

“Gelukkig het die Endler-saal ongelooflike goeie opname-toerusting – en die saal self is akoesties ongelooflik.”

Daarna, op 19 September, gaan onder meer die orrelbeurse aan 36 begunstigdes tydens Sakov se algemene jaarvergadering uitgedeel word.

Volgens Johann Enslin, Sakov se streekverteenwoordiger in die Wes-Kaap, gaan die beurse in talle kategorieë uitgedeel word, onder meer kerkorreliste, voor- en nagraadse studie, reisbeurse, en orrelbou.

“Sakov stel studiebeurse beskikbaar vir verdienstelike studie in orrel, orrelbou en kerkmusiek,” sê hy.

“Die beurse het ten doel om finansiële ondersteuning te bied om die bevordering van die gehalte van orrelspel, -studie, -bou en navorsing op die gebied van kerkmusiek in Suider-Afrika te stimuleer.”

Daarbenewens gaan prof. Daleen Kruger die Gawie Cillié-gedenklesing aanbied. Dr. Gerrit Jordaan, prof. Albert Troskie, prof. Theo van Wyk en Suid-Afrikaanse orreliste in die buiteland gaan ook ’n paar insetsels lewer.

Toegang tot die feeskonsert én die res van die algemene jaarvergadering is gratis. Enigiemand – ook liefhebbers van orrelmusiek wat nié Sakov-lede is nie – kan aanlyn inskakel, maar moet ’n e-pos na info@sakov.co.za stuur om webskakels na die verrigtinge te bekom.

Navrae kan ook na dié e-posadres gestuur word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.