Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Samantha mik na Vegas

Ná ’n jaar se harde werk is Samantha Leonard van Garsfontein se debuutalbum uiteindelik gereed.

’n Duisend keuses word oormôre bekend gestel en Leonard, wat in 2017 derde in The Voice geëindig het, sê aanhangers kan uitsien na liedjies wat hul harte sal raak.

“Ek het omtrent ’n jaar aan die liedjies op die album gewerk,” sê sy.

Samantha Leonard

“Sewe van die liedjies het ek self geskryf. Ek skryf van persoonlike ondervindings en ek dink baie mense kan by my liedjies aanklank vind.”

Met die uitsondering van een liedjie is alles op die album in Afrikaans.

Leonard vertel hoe sy nog bitter jonk was toe sy van die musiek wat haar ouers in hul huis in Kimberley gespeel het bewus geword het.

“My ouers het na Roxette, Céline Dion, Christina Aguilera en ’n klomp ander kunstenaars geluister,” vertel Leonard. “Toe ek tien was, het ek begin sing en ek het nog nooit opgehou nie.”

Leonard se pa het video’s van haar gemaak as sy aan die sing gegaan het en het haar aangemoedig om aan te hou. Dit is veral sangeresse soos Dion, Aguilera, Lady Gaga en Jessie J met hul kragtige stemme wat haar na aan die hart lê.

Leonard het saam met die Barn­yard-teatergroep met hul vertonings van Back to the 80’s, Final Countdown en Special Stars die land platgereis. Sy was ook saam met hulle oorsee en onthou die optredes in die Abu Dhabi-teater as ’n hoogtepunt van die toer.

“Ek het self betaal om my album op te neem en bekend te stel,” sê Leonard. “Dis nie ’n goedkoop proses nie.”

Om geld vir bogenoemde bymekaar te skraap sê Leonard het sy haar “boutjies af gesing en opgetree”. Sy werk ook agter die skerms en help ander kunstenaars om video’s vir hul liedjies te maak. Sy is tans besig om aan een van Adam se video’s te werk, maar sy wil nie te veel daaroor uit die mou laat nie.

“Ek is reeds besig om aan liedjies vir my tweede album te werk,” vertel Leonard.

“Ek wil ook nog baie optredes doen en dis veral my optrede by die Ghoema-toekennings op 17 April in die Sun Arena by Time Square wat my baie opgewonde maak. My grootste droom is om soos Céline Dion eendag in Las Vegas my eie konserte te hou.”

Meer oor:  Samantha Leonard  |  Garsfontein  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.