Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Samas erken kwaito, amapiano en gqom apart

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Musiekpryse, in die volksmond bekend as die Samas, het aangekondig dat die soeklig vanaf vanjaar helderder op drie musiekgenres gaan skyn.

Die 27ste Suid-Afrikaanse Musiekpryse (Samas) vind eers in die tweede helfte van die jaar plaas. Die datum is nog nie bekend nie. Foto: samusicawards.co.za

Kwaito-, amapiano- en gqom-albums, wat almal in die verlede in een kategorie om ’n Sama tougetrek het, sal voortaan in drie individuele kategorieë sake uitspook. Drie Samas, een elk in die kategorie beste kwaito-album, beste amapiano-album en beste gqom-album, is voortaan op die spel.

“Dié stap weerspieël ’n veranderende plaaslike musieklandskap – een waarin die gewildheid van dié drie genres toegeneem het,” sê Nhlanhla Sibisi, hoof van die Opnamebedryf van Suid-Afrika (Risa), in ’n mediaverklaring.

“Die konsekwente aantal inskrywings en die musiek (die inskrywings) se mededingendheid het die ontbondeling van die kategorie beste kwaito-, amapiano- of gqom-album geregverdig.

“Die Samas reageer op neigings in die musiekbedryf. Ons sien daarna uit om te kyk hoe die nuwe kategorieë vaar.”

Sibisi het musici aangemoedig om vir die 27ste Samas, wat oudergewoonte later vanjaar weer deur Risa aangebied sal word, in te skryf. Die sperdatum is 31 Januarie.

Luidens ’n mediaverklaring het kwaito, ’n musiekgenre wat in die 1990’s in Johannesburg ontstaan het, sy eie kategorie gehad, voordat dit in 2017 met amapiano en gqom saamgebondel is.

Amapiano, wat afgelei is van die Zoeloe-woord vir “die klaviere”, is ’n tipe house-musiek wat sterk deur kwaito, tradisionele slaginstrumente en jazz beïnvloed is.

Gqom is ook in house en kwaito gegrond, maar word sterk deur tegnomusiek beïnvloed. Dit het in die vroeë 2010’s in Durban ontstaan en word beskou as Suid-Afrika se weergawe van elektroniese dansmusiek.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: musicinafrica.net, Wikipedia
Meer oor:  House  |  Jazz  |  Amapiano  |  Kwaito  |  Gqom  |  Samas  |  Sama  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.