Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Samewerking tussen sangskole lei tot unieke uitvoering

’n Gedramatiseerde uitvoering van Schubert se liedsiklus Winterreise is die resultaat van ’n seldsame samewerking tussen die sangskole van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK).

In die projek, waarvan die konserte vir die publiek oopgestel word, sing 12 uitvoerende en nagraadse sangstudente van elke universiteit een lied en hanteer die regie van een sanger in ’n ander lied. Die siklus bestaan uit 24 liedere en is oorspronklik vir tenoor geskryf, maar in die projek tree mans- en vrouesangers op.

Minette du Toit-Pearce, die sanghoof aan die US, sê die projek is nie net opwindend nie, dit verloop ook makliker en vinniger as wat sy en Jeremy Silver, die hoof van die UK se operaskool, verwag het.

“Die studente is so hardwerkend en geweldig begeester,” sê sy.

Du Toit-Pearce sê die bewegings wat bygevoeg word vir die kunsliedere, wat gewoonlik staties gesing word, “bring diepte aan die benadering van so ’n werk”.

“Jy moet navorsing doen oor die agtergrond van die komposisie en die komponis, jy moet die konteks van die lirieke, die subteks en emosionele inhoud begryp. Dit is aspekte wat elke sanger vir alle optredes moet ken, maar om dit aan ’n ander sanger oor te dra is ’n perd van ’n ander kleur. Dit het die sangers nogal uit hul gemaksone gehaal – hulle moes die regte woorde vind om hul idees verstaanbaar oor te dra.”

Elke sanger moes vooraf self die bewegings uitwerk en dit aan die bekende operaregisseur Christine Crouse voorlê wat betrek is om oor dié deel van die projek toesig te hou.

“Omdat die studente verskillende idees toepas, word die karakter in die liedsiklus eerder ’n abstrakte gedagte as ’n persoon en die reis simbolies eerder as die fisieke verloop soos ons dit ken.

Winterreise is ’n gepaste keuse vir ons huidige omstandighede waarin eensaamheid, hartseer, verlorenheid en verlange aansluit by dieselfde emosies wat ons weens die koronaviruspandemie beleef. Die meeste studente het dan ook dié milieu as verwysingspunt gebruik.”

Die uiteinde van die projek is die blootlê van Schubert se ryk emosionele en musikale landskap.

Studente se kontak met mekaar is deur die inperking bemoeilik, maar hulle het mekaar voor die eerste gesamentlike repetisie deur Zoomsessies en WhatsApp-boodskappe leer ken.

Optredes:

• 15 April om 19:30 in die Endler-ouditorium, Stellenbosch.

• 16 April om 19:30 in die Baxter-konsertsaal, Rondebosch.

Toegang is gratis, maar skenkings by die deur sal verwelkom word.

Maskers is verpligtend en getalle beperk, dus moet konsertgangers vroeg opdaag om van ’n sitplek verseker te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.