Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Samro, Facebook kom ooreen oor tantième

Die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro) het ’n omvattende ooreenkoms oor tantième met die sosialemediaplatforms Facebook en TikTok, asook die stromingsdiens Netflix, gesluit. 

Die ooreenkoms sluit onder meer in dat ’n lisensie aan dié platforms uitgereik word wat Samro-lede se musiek in ruil vir tantième op dié platforms toelaat­.

Veral Facebook is berug daarvoor dat hy blitsvinnig enige inhoud verwyder wat musiek gebruik wat deur kopiereg beskerm word, ook hier in Suid-Afrika. Dít sal danksy die ooreenkoms al hoe minder gebeur omdat Facebook en TikTok tantième aan Samro en sy lede sal betaal elke keer wanneer hul gebruikers Samro-lede se musiek in ’n persoonlike, niekommersiële video op dié platforms plaas.

Die ooreenkoms sluit ook in dat Samro 12,5% van dié tantième in sy eie sak sal steek en die oorblywende 87,5% aan die musiek se kopiereghouers – meer spesifiek die komponiste en uitgewers van die musiek, asook die instrumentaliste wat die musiek speel – sal uitbetaal.

Volgens Manqoba Kubheka, Samro se hoofbestuurder van lisensiëring, verskil die besonderhede van die ooreenkoms met Facebook, Netflix en TikTok plek-plek. Die ooreenkoms met Netflix fokus eksklusief op die gebruik van Samro-lede se musiek in kommersiële inhoud, maar die ooreenkoms met elke platform het een gemene deler: die beskerming van Samro-lede se regte.

“Die lisensies (wat Samro uitreik) reguleer hoe presies hierdie platforms ons lede se musiek mag gebruik en hoe ons lede daarvoor vergoed moet word.”

Kubheka sê die ooreenkoms is soortgelyk aan dié wat hulle reeds met radio- en TV-stasies in Suid-Afrika gesluit het.

“Radio- en TV-stasies maak geld uit advertensies, of hul gehore wat subskripsies aangaan. Hulle gebruik dan die musiek – musiek wat aan Samro-lede behoort – om daardie gehore te behou. Die radio- en TV-stasies betaal dan ’n gedeelte van die inkomste uit die advertensies en subskripsies aan Samro, waarvan hulle ’n lisensie bekom.

“Dit is soortgelyk aan die ooreenkoms met TikTok, Facebook en Netflix. Gebruikers gaan nie nou meer betaal as wat tans die geval is nie – dit is reeds deel van hierdie platforms se sakemodel om kopiereg te verkry, soortgelyk aan petrolstasies wat brandstof aankoop en verkoop, maar talle heffings aan die regering moet betaal om dit te kan doen.”

Kubheka sê die tantième wat vir Samro-lede gaan inrol, hang af van hoeveel keer inhoud op Facebook, Netflix of TikTok gestroom of gebruik word. ’n “Stroom-fooi”, wat Kubheka nie bekend maak nie, is vasgestel.

“As jou liedjie 15 keer gebruik is, sal jy 15 keer die stroom-fooi kry. Samro, ’n organisasie sonder winsbejag, neem ’n administrasiefooi (12,5% van die tantième wat inrol) om sy bestuurskoste te dek. Die kopiereghouer(s) kry die oorblywende 87,5%.”

Kubheka benadruk dit dat kopiereghouers slegs dié tantième sal kry as hulle by Samro as amptelike lid geregistreer is.

“Ons aansoekproses is vinnig en maklik: Besoek samro.org.za, kies I am a music creator op ons tuisblad – daar is baie inligting vir nuwe lede daar – en vul dan die aansoekvorm aanlyn in.

“Die direkte skakel is www.samro.org.za/music-creator.”

Nicholas Maweni, Samro se voorsitter, het die ooreenkoms in ’n mediaverklaring as “grensverskuiwend” beskryf.

“Hierdie ooreenkoms gaan die platforms met ons lede se hoëgehalte-inhoud verryk, terwyl dit ook wyer blootstelling aan hul inhoud sal gee.

“Die tegnologiese evolusie wat ons tans beleef, is ’n welkome verwikkeling omdat dit nuwe weë baan waardeur die publiek kreatiewe werk kan ervaar, terwyl dit tegelykertyd nuwe geleenthede vir ons lede skep.”

Meer oor:  Tiktok  |  Musiek  |  Netflix  |  Facebook  |  Samro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.