Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Sanger kwaad omdat radiostasie nie sy musiek speel

Die sanger Rudi Claase het op sosiale media mond uitgespoel omdat die radiostasie Jacaranda FM glo weier om sy musiek te speel.

Rudi Claase

Claase het Vrydag op Facebook die radiostasie daarvan beskuldig dat hulle nie sy musiek speel nie omdat ’n personeellid daar “nie van hom hou nie”.

Hy skryf eers dat hy die afgelope 18 jaar sowat 700 liedjies vir homself “en die meeste groot name” in die musiekbedryf geskryf het.

Claase skryf dan ook oor die talle musiekpryse wat hy oor die jare heen ontvang het, onder meer ’n Ghoema-, Vonk- en Tempo-prys.

“Van my liedere se kykertal op YouTube staan na aan ’n miljoen. Ek het altesame meer as 700 000 albums verkoop en ek gee bloot dié feite omdat ek iets nie begryp nie.”

Hy voer aan Jacaranda FM speel al die liedjies wat hy vir ander kunstenaars skryf, maar weier om dié te speel wat hy self sing.

“Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat iemand daar glo nie van my hou nie.”

Op die vraag waarom hy hom tot Facebook wend, het hy gesê hy is op ’n plek in sy lewe “waar ek die binneste van my siel uitspoel”.

Hy sê hy is lank gedwing om stil te bly omdat openbare figure gekritiseer kan word as hulle “die waarheid” praat en venynig voorkom.

“Dit is nie noodwendig vir my belangrik dat my musiek op Jacaranda FM gespeel word nie, dit is wel vir my belangrik dat die speellys-keurder vir my ’n geldige rede verskaf waarom my nuutste pop-enkelsnit nie gespeel word nie en dit op baie ander radiostasies die nr. 1-posisie behaal het.”

Hy beweer die radiostasie beantwoord nie versoeke vir die keuring van liedjies nie.

Ons sal enige nuwe liedjies van Rudi verwelkom en elkeen – nes met dié van ander plaaslike en internasionale kunstenaars – op individuele meriete eva­lueer.

Hennie Myburgh, Jacaranda FM se programbestuurder, sê voordat liedjies op die lug uitgesaai word, word elkeen geëva­lueer. “Dit is ’n proses wat verskeie kanale volg om persoonlike voorkeure te elimineer, objek-tiewe besluitneming te verseker en elke kunstenaar, bekend of nie, ’n regverdige kans te gun.”

Myburgh sê die radiostasie se samestelling van musiek is gegrond op deeglike navorsing van hul teikenmark se voorkeure.

“Ons sal enige nuwe liedjies van Rudi verwelkom en elkeen – nes met dié van ander plaaslike en internasionale kunstenaars – op individuele meriete eva­lueer.”

Claase het verder vir Rian van Heerden, ’n omroeper van die radiostasie, daarvan beskuldig dat hy hom in ’n onderhoud in 2015 “sleg behandel en verneder het”.

“Ek wil benadruk dat Jacaranda FM pertinent daarop fokus om al ons gaste welkom te laat voel en hulle te alle tye te respekteer en dat enige gas wat dit nie so ervaar nie, gerus met die bestuurspan in verbinding kan tree,” sê Myburgh.

Toe Van Heerden Maandag genader is vir kommentaar, het hy geantwoord: “Ons het tans belangriker dinge in die land om op te fokus as Rudi Claase.”

Meer oor:  Jacaranda Fm  |  Rudi Claase  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.