Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Sangeres stig ‘Oscars vir indie kunstenaars’ in SA

Die sangeres en aktrise Rea le Roux het in die staat van inperking werk gemaak van ’n idee waaroor sy al vier jaar lank droom: Om ’n musiekprys op die been te bring wat onafhanklike Suid-Afrikaanse kunstenaars vereer.

Rea le Roux, stigter van die Afri-Indie-musiekpryse. Foto: Verskaf

Le Roux, self ’n onafhanklike of sogenaamde “indie” kunstenaar – ’n musikant wat nie met ’n platekontrak aan ’n spesifieke platemaatskappy verbonde is nie – sê dit is hoog tyd dat indie kunstenaars in die land ook die erkenning kry wat hulle verdien – vandaar die Afri-Indie-musiekpryse.

“Ek hou van die kreatiewe vryheid wat onafhanklikheid vir my gee om met verskillende projekte en konsepte te eksperimenteer, maar met verloop van tyd het ek gesien dat daar in die Suid-Afrikaanse mark geen toekenningsgeleentheid vir spesifiek onafhanklike kunstenaars is nie,” sê sy.

“Onafhanklike kunstenaars skep meestal self al hul werk, betaal self daarvoor – alles van konsep tot produksie in ateljees, foto’s, ontwerp, musiekvideo’s, uitreikings, bemarking – en dan moet hulle ook nog self optredes soek en reël. Hul werk is amper nimmereindigend, en in Suid-Afrika is daar sover ek weet geen toekenningsgeleentheid wat aan hierdie superhardwerkende indie-kunstenaars erkenning gee nie.

“Dít is hoe Afri-Indie ontstaan het – om hierdie leemte te vul en vir onafhanklike kunstenaars ook die geleentheid te gee om hul ‘Oscar’ te wen.”

Onafhanklike kunstenaars wat in Afrikaans en Engels sing, kom vir dié nuwe musiekprys in aanmerking. Volgens Le Roux skryf kunstenaars in die meeste van die kategorieë self in. ’n Paneel kenners stel kortlyste in al die kategorieë op en beslis wie uiteindelik wen.

Die musiekbemarker Lydia Winchester gaan op die ee
Die musiekbemarker Lydia Winchester gaan op die eerste Afri-Indie-musiekpryse vir haar lewenswerk vereer word. Foto: Rudi Muller Photography
Jennifer Zamudio is saam met Henri Alant in die kategorie beste duo benoem. Foto: Verskaf

Die prysuitdeling sal elke twee of drie jaar gehou word om aan onafhanklike kunstenaars met beperkte finansiële bronne tyd te gee om hul beste voet voor te sit.

“Daar gaan baie werk in, en as ons die gala-aand as die ‘Oscars vir indie-kunstenaars’ wil posisioneer, sal ons tyd moet hê om dit ordentlik te reël”.

Die geleentheid sal ook sy eie “Oscars vir indies”-trofee hê, sê sy.

“Die trofees gaan spesiaal deur Jakaranda Engravers in Pretoria, ons trofee-vennoot, gemaak word.”

Die eerste Afri-Indie-musiekpryse sou op 3 Maart vanjaar plaasvind, maar dit moes weens bestaande vlak 3-maatreëls tot ’n latere datum in die jaar uitgestel word.

“Dit gaan in die befaamde Platteland-musiekvenue in Centurion plaasvind,” sê Le Roux.

“Die hele idee van die gala-aand is om all out te gaan met uitrustings, en kunstenaars word gevra om kreatief daarmee te wees.”

Hoewel dit uitgestel is, is die benoemingslys nogtans uitgereik. Beeskraal, Go the Rodeo, Helena Hettema, Henri Alant, Jennifer Zamudio, Martin Bester, Max Hurrell, Michael Naranjo, Nadine Blom & Die Jaloersbokkies, Pieter Rischmuller, Rudi Claase en The Kiffness is ’n paar van die 55 kunstenaars wat om ’n prys meeding.

Die legendariese musiekgroep The Staccatos en die ewe legendariese musiekbemarker Lydia Winchester sal vir hul lewenswerk vereer word.

’n Volledige benoemingslys en meer inligting is op die Facebook-blad https://www.facebook.com/AfriIndietoekennings beskikbaar.

Onthou jy?

As die sangeres en aktrise Rea le Roux vir jou bekend lyk, onthou jy haar heel waarskynlik danksy die liedjie “Gatvol vir huis skoonmaak”, ’n parodie van Miley Cyrus se “Wrecking Ball”.

Le Roux se parodie is in 2013 uitgereik en het soos ’n veldbrand op die internet versprei. Die amptelike musiekvideo op YouTube is al meer as 318 000 keer gekyk.


Meer oor:  Rudi Claase  |  Martin Bester  |  Max Hurrell  |  The Kiffness  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.