Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SAUK hof toe gesleep weens onbetaalde tantième

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, het ’n beroep op uitsaaiers gedoen om meer plaaslike musiek te speel sodat kunstenaars tydens die staat van inperking ’n inkomste uit tantième kan verdien. Die SAUK het egter jare laas sogenaamde ‘needletime’-tantième betaal en gaan nou in die hof daaroor uitgedaag word – dít terwyl kunstenaars aan die kortste ent trek. Christiaan Boonzaier stel ondersoek in.

Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekuitvoeringsregte (Sampra) gaan die SAUK hof toe sleep omdat die uitsaaier musiek op sy radiostasies uitsaai sonder om tantième daarvoor te betaal.

Sampra, ’n organisasie sonder winsbejag, samel sedert 2008 sogenaamde needletime-tantième in namens 5 356 platemaatskappye en 23 898 musici, almal sy lede.

Die organisasie reik ook lisensies aan onder meer uitsaaiers uit wat hulle toelaat om Sampra-lede se musiek wettig uit te saai.

Sampra sê sy lede – wat glo sowat 96% van al die musiek vervaardig wat op die SAUK se radiostasies uitgesaai word – is volgens die gewysigde Wet op Outeursreg 98 van 1978 en die gewysigde Wet op die Beskerming van Voordraers 11 van 1967 geregtig op needletime-tantième elke keer wanneer hul musiek op radio gespeel word.

Dit is dié tantième wat die SAUK volgens Sampra sedert die 2014-’15-boekjaar nié betaal nie.

Volgens Pfanani Lishivha, uitvoerende hoof van Sampra, saai die SAUK ook tans musiek sonder ’n Sampra-lisensie uit – ’n lisensie waarvoor die uitsaaier glo nog nooit betaal het nie.

“Die regstappe gaan daaroor om die SAUK te dwing om ons te betaal vir die gebruik van snitte in ons repertoire,” sê Lishivha.

Netwerk24 het in Augustus verlede jaar berig Sampra het in 2018 oor die einste kwessie ’n dagvaarding op die SAUK beteken. Die uitsaaier het in Februarie verlede jaar versoek om liewer met ’n arbitrasieproses te begin, maar dit is deur Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, onderbreek omdat sy tussen die partye wou bemiddel.

Dié bemiddeling was volgens Sampra vergeefs en het die organisasie genoop om die arbitrasieproses te hervat, maar ook dít het in ’n doodloopstraat beland; daarom wend Sampra hom nou tot die hof.

“Ons is hoopvol (op sukses), maar ons weet net nie hoe lank dit gaan vat vir die saak om in ’n hof aangehoor te word nie,” sê Lishivha.

Pfanani Lishivha
Pfanani Lishivha, Sampra se uitvoerende hoof. Foto: Verskaf

Volgens Tiyani Maluleke, Sampra se hoof van belanghebbendes, is dit moeilik om te bepaal presies hoeveel geld die SAUK Sampra-lede skuld omdat dié bedrag ’n persentasie van ’n uitsaaier se maandelikse inkomste uit reklame behels – en die SAUK nie oop kaarte oor sy geldsake speel nie.

“Die bedrag wat ’n uitsaaier skuld of moet betaal, hang af van speellyste (byvoorbeeld hoeveel keer ’n snit gespeel is), asook die uitsaaier se maandelikse finansiële inligting,” sê Maluleke.

“Ons het nog nie dié inligting van die SAUK ontvang nie, so dit is daarom moeilik om te bepaal hoeveel geskuld word.”

Netwerk24 het in Maart verlede jaar berig Ndabeni-Abrahams het op ’n parlementêre vraag van die DA gesê die SAUK het musici toe tantième van sowat R248 miljoen geskuld – R104,2 miljoen daarvan aan Sampra.

Nthabeleng Mokitimi-Dlamini, Ndabeni-Abrahams se woordvoerder, het aan Netwerk24 gesê die minister sal die huidige skuldbedrae aan Netwerk24 verskaf, maar dit is nooit ontvang nie.

Ndabeni-Abrahams het egter by monde van Mokitimi-Dlamini gesê “dit is algemene kennis” dat die openbare uitsaaier “finansiële probleme” ervaar.

“Sedert die uitsaaier ’n reddingsboei (van R3,2 miljard verlede jaar) ontvang het, probeer hy egter verseker dat sy skuld betaal word, insluitende die betaling van tantième.”

Sampra het voorheen aan Netwerk24 gesê hy oorweeg nié ’n interdik wat die SAUK in die tussentyd sal keer om sy lede se musiek uit te saai en die uitsaaier effektief tot stilte sal dwing nie, maar Lishivha sê nou dit raak al hoe meer ’n moontlikheid.

“Dít (’n interdik) is iets waarop ons lede aandring,” sê Lishivha. “Ons gaan die kwessie monitor en besluit wanneer dit nodig is om dié stap te doen.”

SAUK: Ons betaal nié tantième, maar . . .

Mmoni Seapolelo, SAUK-woordvoerder, het in ’n uitgebreide verklaring van twee bladsye aan Netwerk24 erken dat die uitsaaier sedert die 2014-’15-boekjaar nié needletime-tantième betaal nie – maar hulle pak die skuld daarvoor byna geheel en al op Sampra.

(...) die SAUK skuld Sampra én die Onafhanklike Vereniging vir Musiekuitvoeringsregte (Impra) needletime-tantième van R91 488 450 vir die boekjare 2014 tot 2019 (...)

Seapolelo beweer die SAUK skuld Sampra én die Onafhanklike Vereniging vir Musiekuitvoeringsregte (Impra) needletime-tantième van R91 488 450 vir die boekjare 2014 tot 2019 – glo 3% van die uitsaaier se inkomste in dié tydperk. Die bedrag is egter sowat R12,7 miljoen minder as die R104,2 miljoen wat Ndabeni-Abrahams gesê het die uitsaaier Sampra alleen skuld.

Seapolelo beweer verder die uitsaaier het in Junie 2018 R16 915 955 (van die totale skuldbedrag van R91 488 450) aan Impra betaal vir musiek wat in die 2014-’15-boekjaar uitgesaai is.

Die uitsaaier wou R5 638 652 (van die oorblywende totale skuldbedrag van R74 572 495) aan Sampra betaal vir musiek wat in dieselfde tydperk gespeel is, maar Sampra het ’n stokkie daarvoor gesteek en die groter uitbetaling aan Impra betwis.

“Sampra het kapsie gemaak oor die metode wat die SAUK gebruik het om die tantième tussen die twee organisasies (Sampra en Impra) te verdeel,” sê Seapolelo.

“Die SAUK en die belanghebbendes sou ’n arbitrasieproses oor die metodologie rondom die 2014-’15-needletime-tantième begin, maar Impra het hom onttrek omdat Sampra (volgens Impra) glo die kern van die geskil verander het.

“Dit het beteken die SAUK kon nie met die arbitrasieproses voortgaan nie omdat die uitsaaier nie met een belanghebbende kan bemiddel as die gevolg van die arbitrasieproses ook ’n uitwerking op ander organisasies het wat needletime-tantième insamel nie.”

Seapolelo beweer dít én Sampra se jare lange geskil is die rede hoekom die uitsaaier sedertdien nie ’n sent se needletime-tantième betaal het nie.

“Die SAUK kon weens die regsgeskil, wat tans aan die gang is, nie die saldo van R74,5 miljoen vir die tydperk 2014 tot 2019 aan enige van die twee belanghebbendes (Sampra en Impra) betaal nie.

“Die SAUK verbind hom ten volle daartoe om die plaaslike musiekmark te bevorder, te verdedig en daarin te belê sodat die bedryf volhoubaar kan bly.”

Seapolelo beweer ook Sampra betwis nie die bedrag van R91 488 450, wat glo geoudit is, nie – maar Lishivha beskryf dit as “nonsens”.

As hulle (die SAUK) sê ons het nooit die bedrag betwis nie, wat betwis ons (Sampra) dan?
Phanani Lishivha, Sampra-hoof

“Hoekom sou ons (Sampra) sedert 2017 ’n ontleding (van die saak) aanvra as ons nie die onregverdige betaling aan Impra betwis het nie? Hoekom sou ons regstappe teen die SAUK doen? Hoekom het die SAUK ons gevra om liewer die arbitrasie-roete te volg – net vir húlle om te onttrek – as ons niks betwis nie? As hulle sê ons het nooit die bedrag betwis nie, wat betwis ons dan?”

Lishivha sê hulle hét ooreengekom dat die uitsaaier 3% van sy inkomste aan needletime-tantième afstaan, maar wat presies dié inkomste is, is nooit bevestig nie omdat die SAUK se finansies duister is.

Daarmee saam sê Lishivha Sampra hét die bedrag betwis wat die uitsaaier aan hulle vir die 2014-’15-boekjaar wou betaal, juis omdat dit soveel minder as Impra se uitbetaling is. Lishivha sê Sampra het inligting aan die SAUK verskaf wat bewys dat sowat 96% van die musiek wat die uitsaaier op sy radiostasies speel, deur Sampra-lede vervaardig word – en dat hulle daarom geregtig is op ’n groter deel van die koek.

“Ons het selfs aangebied om onafhanklike ouditeurs, wat ons uit ons eie sak sou betaal, aan te stel om al die inligting te ontleed en te bevestig, maar die SAUK het die aanbod van die hand gewys.

“Hoekom sou ons dus R5,6 miljoen aanvaar as ons eintlik op sowat R22,5 miljoen geregtig is?”

‘Tantième is 100% belangrik’

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: William Mcintosh

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het midde Sampra en die SAUK se moddergeveg ’n beroep op plaaslike uitsaaiers gedoen om meer plaaslike musiek te speel sodat musici tydens die Covid-19-pandemie steeds ’n inkomste kan verdien.

Mthethwa het in ’n toespraak in Pretoria op 25 Maart ’n reddingsboei van R150 miljoen vir kunstenaars en sportlui aangekondig, wie se inkomste deur die pandemie uitgewis is.

“Die sport- en kreatiewe sektor gaan die hardste getref word deur hierdie noodsaaklike maatreëls (die staat van inperking),” het Mthethwa gesê.

“Ek kan nie dink aan ’n ander sektor wat ondersteuning en solidariteit soos dié sektore nodig gaan hê nie.”

Hy het later bygevoeg: “Die departement doen ’n beroep op openbare en private uitsaaiers om met die (departement se) hulpplan te help. Speel meer inhoud wat plaaslik vervaardig is sodat kunstenaars meer tantième kan kry.”

Netwerk24 het Mthethwa deur sy woordvoerder, Masechaba Ndlovu, genader om kommentaar te kry oor die twis tussen Sampra en die SAUK, asook wat hy sou voorstel kunstenaars kan doen om hul hande op die tantième te kry waartoe hulle volgens wet geregtig is.

Nóg die minister, nóg Ndlovu het op die medianavraag gereageer.

Die sanger David Scott het vir die SAUK op Instagram ’n middelvinger gegooi weens die uitsaaier se niebetaling van tantième. Foto: Instagram

David Scott, sanger en stigter van The Kiffness, het Mthethwa se toespraak op Twitter as “PR bullshit” beskryf.

“As daai geld (die R150 miljoen-reddingsboei) aan Samro (die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekregte) oorgelaat word (om uit te betaal), twyfel ek sterk of ek ooit enige van daai geld sal sien,” sê Scott aan Netwerk24. “As ek wel iets kry, sal ek my hoed opeet.”

Scott voer al jare lank ’n opdraandestryd om sy tantième uit Sampra, Samro, die Opnamebedryf van Suid-Afrika (Risa) en die Vereniging van Komponiste, Outeurs en Uitgewers (Capasso) se beursies te verhaal.

“Hulle is almal geheel en al nutteloos – en dít is om dit sagkens ste stel,” sê Scott.

“Op enige ander plek ter wêreld sluit jy net by so ’n organisasie aan, dan sien hulle om na jou. Hier in Suid-Afrika moet jy nie net tred hou met vier verskillende organisasies nie, maar dit voel met al vier asof jy bloed uit ’n klip moet tap.”

Scott sê hy het wel ná ’n “aansienlike poging” tog geld uit Sampra en Samro gekry.

“Samro skuld my nog R60 000 vir liedjies wat ‘per ongeluk’ aan die verkeerde David Scott uitbetaal is. Dit is nie die eerste keer wat ek hierdie vreemde fout, waar die verkeerde persoon betaal is, ontdek het nie.”

Sampra skuld hom ook nog sowat R100 000, sê hy.

“Terwyl Sampra en die SAUK se raad die saak betwis, is 20 000 ander kunstenaars wat deur Sampra verteenwoordig word, dié wat moet ly. Dit is absolute malligheid.”

Scott sê hy moes self weens die koronavirus tien vertonings kanselleer en het daarom ook ’n reuseverlies aan inkomste gely.

“As ek nie so ywerig was met die insameling van tantième nie, sou ek nou in ’n baie moeilike situasie gewees het, so ek sou sê tantième is 100% belangrik, veral in tye soos dié wanneer musici ’n passiewe inkomste nodig het.”

Terwyl Sampra en die SAUK se raad die saak betwis, is 20 000 ander kunstenaars wat deur Sampra verteenwoordig word, dié wat moet ly. Dit is absolute malligheid.
David Scott, sanger

Scott sê hy sou Mthethwa aanraai om onbevoegde personeel by Sampra, Samro, Capasso en Risa af te dank en mense aan te stel wat sal seker maak kunstenaars kry die tantième wat hulle toekom.

“Selfs ék sou die werk doen, sou ek die geleentheid kry,” sê hy.

Hy doen ook ’n beroep op die minister om nie net die R150 miljoen se hulp aan ’n organisasie oor te betaal nie. “Ons as lede van die organisasie dring aan op volle deursigtigheid oor hoe die geld uitgedeel word. Monitor dit, asseblief, en maak seker dat dit nie net ’n paar fat cats verryk nie.”

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Sampra  |  Sauk  |  The Kiffness  |  Tantieme  |  Samro  |  Stella Ndabeni-Abrahams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.