Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
SAVMO bied nou beurse aan musiek-onderwysers
Gisela Scriba is die SAVMO se nuwe president en sal vir die volgende twee jaar in die amp dien. Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) het op sy algemene jaarvergadering besluit om jaarlikse surplusfondse in sy beursie in beurse vir sy lede te omskep.

Volgens Gisela Scriba, wat by die aanlyn jaarvergadering op 24 April as die vereniging se nuwe president aangewys is, wil hulle eerder die beurse aan hul lede bied as om die geld net in ’n bankrekening te hou.

“Die beskikbare bedrag (die surplusfondse) sal jaarliks wissel en die grootte van die beurse sal daarvolgens aangepas word. Ons is nog besig om aan die detail te werk,” sê Scriba, self ’n klavier- en teorie-onderwyseres, asook begeleidster van die kore van die Afrikaanse Hoër Meisie- en Seunskool in Pretoria.

Scriba sê enige van sy lede wat vir ’n kursus van enige aard wil inskryf, kan vir die beurse aansoek doen – ook studente en voornemende onderwysers wat graag ’n nagraadse onderwysdiploma (PGCE) wil aanpak.

“Dit (die PGCE) plaas pas gegradueerde studente en ook onderwysers in ’n penarie omdat dit heeltyds en duur is. Ons wil help dat van die SAVMO-lede wat hierdie kwalifikasie wil behaal ’n hupstootjie betreffend die onkoste kry.

“Natuurlik sal lede wat vir ander kursusse wil inskryf ook vir ondersteuning kan aansoek doen. ’n Komitee sal na al die aansoeke kyk en dan toekennings volgens verdienste maak.”

Volgens Erna Rademan, die vereniging se uittredende president, voel hulle “ernstig daaroor om onderwysers vir ’n slag te bemagtig” omdat beurse oor die algemeen gewoonlik slegs aan leerlinge en studente toegeken word.

“Dit spreek vanself dat daar ’n briljante onderwyser agter elke wonderlike leerling sit,” sê Rademan.

“Die vereniging wil ons onderwysers se harde werk en toewyding op hierdie manier beloon.”

Sy benadruk dat aansoekers slegs vir die beurse sal kwalifiseer as hulle vir twee jaar ononderbroke ’n lid van die vereniging is.

Belangstellendes wat nog nie ’n lid is nie, kan by www.sasmt-savmo.org.za aansluit. Die lidmaatskap kos R21,66 per maand of R260 per jaar.

Rademan sê die SAVMO het benewens die beurse “nog ’n wonderlike besluit” geneem: Hulle het dekking teen openbare aanspreeklikheid vir al sy lede uitgeneem.

“Hierdie dekking sal slegs geld vir bona fide en musiekverwante SAVMO-funksies en -geleenthede.

“Dit beteken kortliks dat indien ek, byvoorbeeld, ’n musiekkonsert hou met SAVMO-uitnodigings en -programme, en ’n lid van die publiek doen ’n besering op weens my nalatigheid, is ek deur die SAVMO gedek.”

Sy sê die polis word deur die SAVMO se hoofkantoor betaal en dek al hul lede se konserte, eisteddfods en soortgelyke geleenthede in dier voege.

Besoek die webtuiste hierbo vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.