Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Schumann pak Rachmaninoff ondanks parkinsonsiekte

Die pianis Nina Schumann gaan ondanks ’n stryd met Parkinson se siekte én fokale distonie een van die uitdagendste klavierkonserte ter wêreld met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes aanpak. Sy deel haar vrese én ’n boodskap van hoop met Christiaan Boonzaier.

Nina Schumann sê sy is ‘in ekstase’ oor ’n uitvoering van Rachmaninoff se tweede klavierkonsert, wat onlangs opgeneem is. Foto: ninaandluis.com

’n Jaar en drie maande gelede, toe die pianis Nina Schumann vir die eerste keer openbaar gemaak het dat Parkinson se siekte in 2017 by haar gediagnoseer is, het sy nie geweet of sy ooit weer Sergei Rachmaninoff se Klavierkonsert no. 2 in C mineur sal kan speel nie.

Onlangs – ’n dag of twee voor Vryheidsdag, die dag waarop sy die einste “Rach 2” saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) vir ’n aanlyn konsert opgeneem het – erken sy sy het steeds in haar eie vermoë getwyfel.

Nou, met die opname agter die rug en op die dag wat musiekliefhebbers dié opname aanlyn kan beleef, is daar geen twyfel meer nie: Sy hét dit gedoen, sy kán dit weer doen, en sy sal aanhou musiek maak tot die dag dat sy fisiek nie meer daartoe in staat is nie.

“Dit was baie moeilik vir my om te weet wat fisiek (tydens die opname) gaan gebeur,” sê Schumann (50) ter verduideliking van haar aanvanklike onsekerheid.

“Gewoonlik is dit ’n kwessie van hoe meer jy oefen, hoe beter raak jy. Met Parkinson se siekte is dit ongelukkig nie die geval nie – en daarby moes ek ook leer hoe my liggaam onder stres gaan reageer.

“Op die ou end was ek nog onseker en benoud, maar ’n dag ná die opname was ek absoluut in ekstase.”

Ek vertel altyd die storie dat ons in ons huis net twee plate gehad het – een met Rachmaninoff se tweede klavierkonsert en sy Rapsodie op ’n tema van Paganini, en die ander met Springbokradio se top-20.
Nina Schumann

Hoewel sy die eerste repetisie vir die opname met die KFO in die Kaapstadse stadsaal as “vreesaanjaend” beskryf, het die dirigent Bernhard Gueller, die KFO se wêreldklas musici én omdat daar weens Covid-19-regulasies byna niemand in die gehoor was nie, haar senuwees laat verdamp. ’n Handvol vriende en familie, asook van haar studente aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy hoof van klavier in die departement van musiek is, het haar wel in persoon kom aanspoor. Dít het haar gehelp om musiek voort te bring waarmee sy al meer as 40 jaar ’n pad stap.

“My geskiedenis met Rach 2 gaan ver terug. Ek vertel altyd die storie dat ons in ons huis net twee plate gehad het – een met Rachmaninoff se tweede klavierkonsert en sy Rapsodie op ’n tema van Paganini, en die ander met Springbokradio se top-20.

“Die Paganini-variasies was aanvanklik my droomstuk – ek het dit gespeel toe ek 19 was – en ek het kort daarna met Rach 2 begin. Ek het dit al ’n hele paar keer gespeel – ek dink dit is die concerto wat ek al die meeste uitgevoer het.”

Sedertdien was dit net “deel van my pad”, sê sy.

“Veral by my drie primêre onderwysers (Lamar Crowson, Vitaly Margulis en Wladimir Wiardo), ook toe ek jare gelede die SAUK-kompetisie gewen het, toe ek saam met die nasionale jeugorkes na Skotland gereis het, en toe ek dit ’n week voor my troue (in 2000) met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes gespeel het – dit was hul eerste konsert, kort nadat hulle gestig is.

“Die laaste keer was in 2014, en dit was ook vir my betekenisvol, want dit was die eerste keer wat ek agtergekom het iets aan die regterkant van my lyf is nie lekker nie; ek kon nie my arm lig nie.”

Schumann het voorheen eksklusief aan Netwerk24 gesê dat sy daarna vir sowat twee jaar by haar neuroloog se spreekkamer in en uit was voordat hy ’n ongewone diagnose gemaak het: Parkinson se siekte aan die regterkant van haar lyf en fokale distonie (FD), ’n breinsiekte wat onwillekeurige spasmas in ’n mens se liggaam veroorsaak, in haar linkerhand.

“Die 2014-uitvoering was ongelooflik onbevredigend, ek kon nie verstaan wat aangaan nie, so op ’n manier wil ek met hierdie uitvoering (met die KFO) die 2014-uitvoering korrigeer. Ek verstaan nou wat verkeerd was en hoe ek in hierdie stadium binne my huidige vermoë moet speel.”

Schumann sê haar simptome is “definitief ’n fraksie erger” nadat sy in Februarie 2020 openhartig met Netwerk24 oor haar diagnose gepraat het.

“Maar binne konteks: My dokter sê altyd vir my as ek op ’n bus langs iemand sit, sal daai persoon nie noodwendig agterkom ek het Parkinson se siekte nie. Ek is baie gelukkig, dit is die begindae, en my agteruitgang is stadig. Ek het wel my dokter ’n maand voor die opname gekontak en gevra of ek my medikasie kan vermeerder om te kyk of dit my beter laat speel.

“So ja, dit beteken maar net stadig maar seker raak my mobiliteit moeiliker. En dan is daar een irriterende ding wat nou die afgelope ses maande kop uitgesteek het: My regtervoet krul so ’n bietjie in en dit is nie lekker as ek die (klavier se) pedaal moet gebruik nie, maar dit is alles klein goedjies.”

Wat saak maak is dat ek mense om my het wat my ondersteun en bewonder nie omdat ek sterk is nie, maar omdat ek kwesbaar is. Vir iemand wat uit ’n Afrikaanse huishouding kom, was dit moeilik om te leer.
Nina Schumann

Sy sê een van die belangrikste aspekte wat sy die afgelope tyd oor haarself geleer het, haar vermoë is om in haar strewe na perfeksie vrede te maak met foute wat desondanks gaan voorkom.

“Dit is steeds moeilik vir my om dit te aanvaar: Dit maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek gaan nie speel soos ek wil nie. Een van my studente het vir my gesê ek moet aanvaar dat mense begrip het en simpatiek is – en dit was baie betekenisvol vir my.

“Wat saak maak is dat ek mense om my het wat my ondersteun en bewonder nie omdat ek sterk is nie, maar omdat ek kwesbaar is. Vir iemand wat uit ’n Afrikaanse huishouding kom, was dit moeilik om te leer.”

Schumann het voorheen aan Netwerk24 gesê dat haar volgende Rach 2-uitvoering nié haar swanesang gaan wees nie. Voel sy steeds so?

“Weet jy, as ek nou terugdink aan daardie onderhoud met jou, dink ek ek het nie werklik geglo dat dit nié my swanesang sou wees nie. Op die oomblik voel ek egter baie meer positief, want elke keer dat ek optree, word ek herinner dat musiek my hele menswees is – musiek maak is die lekkerste lekker.

“So ek sal definitief aanhou speel solank as wat ek kan, want op ’n manier kry ek soveel meer bevrediging uit musiek as wat ek voor die diagnose het. ’n Mens waardeer dinge net soveel meer, so dié uitvoering is beslis nie my swanesang nie.”

  • Die konsert word net van 27 tot 31 Mei aanlyn gestroom. Dit sluit ’n uitvoering van Tsjaikofski se Simfonie no. 2 in C mineur in. ’n Kaartjie kos R140 en kan by www.quicket.co.za bespreek word. Programnotas kan by www.cpo.org.za afgelaai word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.