Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Schumann se tjello-konsert meesterlik uitgevoer

Die Franse tjellis Gautier Capuçon bring ligvoetigheid en harmonie in sy vertolking van Schumann se uitdagende tjellokonsert. Paul Boekkooi het na sy album geluister.

Ná sy aanvanklik omvattende kreatiewe produktiwiteit as komponis van klaviermusiek en liedere, asook sy eerste verkennings op die terrein van die simfonie, het Robert Schumann (1810-1856) hom lank tot intieme vorms van kamermusiek in allerlei uiteenlopende besettings gewend.

Die omslag van die Franse tjellis Gautier Capuçon se jongste album.

In dié tydperk het hy ook reeds die tjello bemeester as aanvulling tot sy uitsonderlike vermoëns as pianis. Hierdie veelsydige en uiters liriese, maar ook virtuose instrument het hom as komponis nuwe uitdagings gebied wat heelwat later sou lei tot die ontstaan van sy Tjellokonsert in a mineur waarmee hy periodiek tussen 1850 en 1854 besig was.

Gautier Capuçon (37), een van die voorste Franse tjelliste van ons tyd, plaas met sy jongste CD die kollig op Schumann as komponis vir die tjello. In die concerto, in Amsterdam opgeneem met die Kamerorkes van Europa en Bernard Haitink as dirigent, belewe ’n mens spel wat die twee uiteenlopende temperamente in die musiektaal – dié tussen Florestan en Eusebius – aanvullend én kontrasterend belig.

Capuçon se interpretasie suggereer by tye enersyds ’n fantasie wat uit improvisasie ontstaan en andersyds die hegtheid wat van ’n concertante werk soos dié te wagte is. In die virtuose onderdele en veral die Vivace-slotdeel is daar ligtheid en kernagtigheid wat sy spelbenadering tereg ook op ’n hoër kinetiese en briljante vlak plaas. Speltegniese eise en deurdringende musikaliteit bereik ’n ideale sintese.

In vier kamermusiekwerke sluit Capuçon aan by die pianis Martha Argerich en sy violis-broer, Renaud. Argerich as Schumann-vertolker is vir sommiges beroemd en vir ander berug oor haar merendeels dominerende rol in kamermusiek. ’n Mens is bykans deurentyd van die volle uitdrukkingskrag van haar instrument bewus.

Die enigste werk vir die drie instrumente saam is die Fantasiestukke, opus 88 – Schumann se vroegste werk vir ’n klaviertrio. Die drietal dring die vier dele se idioom karakterryk binne, hoewel ietwat meer ontspanning die Humoreske en Finale sou baat.

In die Adagio en Allegro, opus 70, is daar dinamies en dramaties genuanseerde uitdrukkingskrag by die openingsdeel, terwyl die Allegro ligvoets, deurdag en vloeiend daarmee kontrasteer.

In die ander stel Fantasiestukke, die drietal van opus 73, laat Capuçon sy tjello onderskeidelik weemoedig sing, ligvoetig dans, asook sprankelend klink in die slotdeel, “Rasch und mit Feuer” (vinnig en met vuur).

’n Wêreld vol van harmonie, ligvoetigheid, tederheid en selfs kort oomblikke van boertigheid is deel van die Vyf stukke in volkstoon, opus 102.

SCHUMANN: Tjellokonsert in a mineur, op. 129; Adagio en Allegro, op. 70; Fantasiestukke, op. 73; Vyf stukke in volkstoon, op. 102; Fantasiestukke, op. 88. Gautier Capuçon, tjello / Kamerorkes van Europa / Bernard Haitink / Martha Argerich, klavier / Renaud Capuçon, viool. Erato 01902956342 16.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.