Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Schwartz sing oor hoop vanuit Kaapstad se historiese Groote Kerk
André Schwartz en Mark du Plessis tydens die opname van Songs of Hope. Foto: Homebru Films

Hy wou met sy musiek hoop bring in die donker tyd van die Covid-19-pandemie.

So sê die sanger André Schwartz, wat ’n spesiale konsert in die Groote Kerk in Kaapstad, die oudste kerk van Christelike aanbidding in die land, opgeneem het.

Songs of Hope is ’n keur van immergroen inspirerende liedere in ’n akoestiese vertoning met klavier, orrel en kitaar. Hy tree saam met die sopraan Lynelle Kenned, die orrelis Zorada Temmingh, die pianis Mark du Plessis en kitaarspeler Hannes Muller op. Dit kan op Sondag 16 Augustus om 17:00 gestroom word.

Schwartz het soos alle kunsteliefhebbers deesdae baie aanlyn konserte beleef. “Die inperkingskonserte is baie generies en ek het besluit as ek ook iets wil doen, moet dit heeltemal anders wees.”

Hy wou ook vir sy luisteraars pitkos gee in hierdie moeilike tyd. Toe dink hy aan die Groote Kerk in die Moederstad, wat van 1841 dateer. “Dit is seker vir my die plek wat hoop die meeste simboliseer in die land, dit is so ryk aan geskiedenis en het die grootste orrel in die land en daarby die mooiste akoestiek.”

André Schwartz en die orrelis Zorada Temmingh met die orrel in die agtergrond. Foto: Homebru Films

Hy glo daar is altyd hoop. “Ek dink as jy hoop verloor, is dit baie sleg. Die inperkingstyd raak nou te lank, mense verloor hul werk, ons verstaan nie die regering se irrasionele besluite nie en voel uitgelewer daaraan.”

Klassieke liedere van hoop en aansporing soos “Amazing Grace”, “I Believe”, “You Raise Me Up”, “Pie Jesu” (saam met Kenned), “You’ll Never Walk Alone”, “Smile” en “Lief vir alles hier” is onder meer op sy sanglys vir die besonderse konsert.

Hy sing op verskillende plekke in die kerk, die kykers sal ook die ou preekstoel van Anton Anreith kan sien, asook die majestueuse orrel wat in 1954 opgerig is.

Songs of Hope is deur Homebru Films verfilm en gesofistikeerde klanktoerusting is gebruik. “Ons gebruik dieselfde mikrofone as wat Andrea Bocelli vir sy solokonsert in die Duomo in Milaan vroeër vanjaar gebruik het.”

“ ’n Mens kan die gesuis van Adderleystraat so ’n bietjie in die agtergrond hoor, maar dit is deel van die konsert, dit steur nie.”

Daar is ’n spesiale toegif uit Phantom of the Opera. Hy sing die lied “Music of the Night”. Schwartz het die rol van die Phantom gesing in ’n trefferproduksie hier in Suid-Afrika. Hy is vir die rol bekroon en die skepper van die musiekblyspel, sir Andrew Loyd Webber, het hom as een van die topdrie vertolkers tot dusver van die rol beskryf. “Zorada begelei my ek het gedink dit sou lekker wees om daardie orrelpype ’n bietjie oop te trek.”

• Songs of Hope duur ongeveer ’n uur. Kaartjies is by

www.howler.co.za/AndreSchwartz beskikbaar. Navrae: info@coproductions.co.za. Vyf lesers kan kaartjies wen na die konsert. Stuur n epos na Laetitia.Pople@24.com.

Meer oor:  Anrdré Schwartz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.