Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Seldsame geleentheid om dié trio saam te sien
Anmari van der Westhuizen, Pieter Schoeman (middel) en Albie van Schalkwyk.

Dit sal nie die eerste keer wees dat Pieter Schoeman, Albie van Schalkwyk en Anmari van der Westhuizen as ’n klaviertrio optree nie, maar dit bly ’n seldsame geleentheid. Schoeman woon immers in Londen, Van Schalkwyk in Kaapstad en Van der Westhuizen in Bloemfontein.

In Schoeman se geval is dit nie soseer die afstand wat ’n stok in die wiel is nie, dit is sy druk skedule as konsertmeester van die Londense Filharmoniese orkes, ’n pos wat hy sedert 2008 beklee.

Die vorige kere wat die drie vriende saam opgetree het, was in 2007 toe hulle met die Brahms-trio’s getoer het, en in 2004.

Schoeman kon egter tyd inruim om aan die Prestige-reeks in die Endlersaal in Stellenbosch deel te neem, waarna die ensemble summier die Prestige-trio gedoop is.

Asof dié drie voorste musici nie reeds ’n groot bederf vir die gehoor is nie, speel hulle Sondag in die Endlersaal ook werke wat die room van die klaviertrio-idioom verteenwoordig.

Mendelssohn se Trio nr. 1 in D mineur is een van sy gewildste kamermusiekkomposisies wat in dieselfde asem as sy manjifieke Oktet genoem word. Geen wonder Robert Schumann het dit as ’n “meesterlike” werk van die tyd beskryf nie.

Brahms se Klaviertrio in C mineur, op. 101, is soos die meeste van sy werke ’n uitdaging. Dié trio is tegelyk ernstig en liries, groots en intiem en verg diepgaande musikaliteit om suksesvol uit te voer.

Rachmaninoff val min of meer in dieselfde klas as Brahms wat moeilikheidsgraad betref. En al dateer sy Trio élégiaque nr. 1 uit sy jeugjare, is dit taamlik verteenwoordigend van die komponis se rype meesterskap.

Die musici

Pieter Schoeman, ’n leerling van die enigmatiese vioolpedagoog Jack de Wet, het sy debuut as tienjarige saam met die Kaapstadse Simfonieorkes gemaak.

Hy was 17 jaar oud toe hy sy ouerhuis in Stellenbosch verlaat het om in die VSA te studeer, waarna hy ’n suksesvolle sololoopbaan gehad het. Sy besluit om die VSA te verlaat en hom in Londen te vestig, het in 2002 tot ’n aanstelling as medeleier van die Londense Filharmoniese Orkes gelei.

Schoeman het talle kompetisies gewen, insluitend die Wêreld-jeugconcerto-kompetisie in 1984.

Van der Westhuizen en Schoeman het van skooldae saam musiek gemaak in Stellenbosch en vandat hul loopbane op verskillende vastelande ontwikkel het, is ’n weersiens op die verhoog altyd verblydend.

Anmari van der Westhuizen het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en daarna aan die Mozarteum in Salzburg en in Keulen onder Maria Kliegel, wat ’n groot inspirasie vir haar is.

Ná agt jaar in Europa – sy was onder meer ’n permanente lid van die Koehne-kwartet – het Van der Westhuizen haar loopbaan as dosent, kamermusikus en solis in meestal Kaapstad en Stellenbosch voortgesit totdat sy in 2008 as lid van die gevierde Odeion-strykkwartet in Bloemfontein aangestel is. In 2013 het sy ’n doktorsgraad van die Universiteit van Pretoria (UP) ontvang en is tans ’n mede-professor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Odeion Skool vir Musiek (OSM).

Albie van Schalkwyk is nie net ’n solis uit eie reg nie, maar ook een van die toonaangewende plaaslike kamermusici.

Hy het vroeg in sy loopbaan Unisa se oorsese beurs en die eerste prys in die SAUK-klavierkompetisie verower en was verskeie jare die SAUK se amptelike pianis. Daarna het hy poste aan die Universiteit van Kaapstad, Potchefstroom en die Vrystaat beklee, hy was ’n lid van die Potch-klaviertrio, is die stigter van die Liedmakersgilde wat reeds 25 jaar lank die kunslied bevorder, en is ’n gesogte verhoogvennoot vir menige besoekende en plaaslike instrumentaliste en sangers.

Van Schalkwyk het einde 2017 by die UK se Musiekkollege afgetree en tree nou meer gereeld op, verwerk musiek en gee steeds les. *15 September om 16:30 in die Endlersaal, Stellenbosch. Die kaartjies kos R160 en R120 (studente en pensioenarisse) en is beskikbaar by Computicket en die deur.

Meer oor:  Musiek  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.