Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Seldsame opera van Rossini só verewig
Die omslag van die opname van Rossini se Adelaide di Borgogna.

n Opera van Rossini is danksy ’n besonderse opname van Adelaide di Borgogna van die vergetelheid ontruk. Paul Boekkooi het daarna geluister.

’n Aansienlike persentasie van Gioachino Rossini se operas het in die niet versink, maar gelukkig word enkeles in ons tyd nou weer onthou. Ná die sukses wat sy Barbier van Sevilla vroeg in 1816 behaal het, was Rossini en enkele komposisie-assistente oor ’n tyd van 18 maande aan’t werk aan vier ander operas, waaronder die tweebedryf Adelaide di Borgogna.

Met baie sporadiese opvoerings van laasgenoemde in Rossini se leeftyd het dit tot 1984 geneem voordat operaliefhebbers dit weer sou kon ervaar. Sedertdien was daar wêreldwyd slegs drie verdere opvoerings, waaronder dié een afkomstig van 2014 se “Rossini in Wildbad”-fees in Duitsland, waarop veral minder bekende Rossini-operas jaarliks nuwe lewe kry.

Die geskiedenis mag Adelaide as opera stief behandel het, maar Rossini self is by tye op sy heel beste in sy hantering van bel canto, die vestiging van die koor wat plek-plek byna ’n karakter op sy eie word, die vokale vakmanskap wat in die arias, duette en dies meer na vore kom, asook die dramaties gepaste gebruik van resitatiewe – hier flink begelei op ’n fortepiano.

Die gevolg van dit alles is dat twee mans oor Adelaide begin swaarde kruis: Die polities en militêr dominerende Ottone, ’n “heilige” Romeinse keiser, wat deur ’n mezzo-sopraan gesing en gespeel word, en die skurkagtige Adelberto, ’n tenoor. Hoe anders?

Ene Giovanni Schmidt was die librettoskrywer van dié verhaal wat in Italië in die Middeleeue afspeel. Die hoof-sopraanrol word deur Adelaide gesing. Sy is die weduweekoningin van Boergondië, wie se man groot dele van Italië verower het. Hy word vermoor.

Die gevolg van dit alles is dat twee mans oor Adelaide begin swaarde kruis: Die polities en militêr dominerende Ottone, ’n “heilige” Romeinse keiser, wat deur ’n mezzo-sopraan gesing en gespeel word, en die skurkagtige Adelberto, ’n tenoor. Hoe anders?

Hierdie CD-opname van die opera, wat terloops ook op ’n Blu-ray-DVD beskikbaar is, bied ’n internasionale rolbesetting sonder enige ware stername. Desnieteenstaande is die sangpeil van veral die Russiese, Kazachse, Spaanse, Japanse en Duitse sangers hoog. Slegs Gheorghe Vlad, ’n Roemeen, is helaas tegnies minder opgewasse in die rol van Adelberto.

Die notas in die boekie wys daarop dat drie kort arias van sangers in sekondêre rolle waarskynlik nie deur Rossini gepen is nie. Dié vermoede word bevestig deur hul opsigtelike middelmatigheid. Dit kontrasteer sterk met die veelal wonderbaarlike vokaal-akrobatiese onderdele van die opera – en veral in die tweede bedryf.

Onder die dirigent Luciano Acocella se leiding word atmosfeer en selfs diepe emosies opgeroep en bevestig wanneer die beskrywings van die gebeure in die notas gevolg word.

ROSSINI: Adelaide di Borgogna. Margarita Gritskowa (Ottone), Ekaterina Sadownikowa (Adelaide), Baurzhan Anderzhanov (Berengario), Miriam Zubieta (Eurice), Gheorghe Vlad (Adelberto), e.a. / Camerata Bach-koor, Poznan / Virtuosi Brunenzis / Luciano Acocella. Naxos 8.660401-02 (2 CD’s).

Meer oor:  Opera  |  Paul Boekkooi  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.