Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Selfs China sing saam met Biggy!

Of jy nou inkopies doen, by die bure braai, iewers langs die see vakansie hou of by ’n kos-, musiek-, of wildsfees kuier, die kans is bykans 100% jy sal sy liedjie iewers hoor. En of jy nou hou van kletsrym of nie, dit is nie lank nie of jy sing lustig saam. Willemien Green het gesels met ‘Adrianus’ wat by die dames wil weet wat hul naam is.

Adrian Entwistle, oftewel Biggy!Foto: Verskaf

Dalk is daar iets in die water (die bietjie wat daar is), maar in 2019 het Oos-Kapenaars waarlik hulle stempel op die wêreld afgedruk. Nie net het die Springbokke, onder leiding van Rassie Erasmus van Despatch en Siya Kolisi van Port Elizabeth, die Webb Ellis-trofee verower nie, maar Zozibini Tunzi van Tsolo is as Mej. Wêreld gekroon. Daarbenewens het Adrian Entwistle ook mense van reg oor die wêreld laat saamsing.

Wag ’n bietjie. Wie?!

Adrian Entwistle, oftewel Biggy.

’n Tekort aan dames is daar nie by Biggy se landwye optredes nie.Foto: Foto verskaf
Hy skryf liedjies van toeka af

“Ek skryf maar nog altyd liedjies en in 2012, terwyl ek nog op skool was, het die koerant (Die Burger) vir die eerste keer oor Biggy and Mouse, my eerste groep, berig nadat ons ’n liedjie op YouTube gepost het. Daarna het ek solo as net Biggy aangegaan,” vertel hy.

Hoewel musiek sy groot belangstelling is, was dit nie ná skool genoeg om die pot aan die kook te hou nie en het hy eers allerhande werkies by groot winkelgroepe gedoen, by ’n gimnasium gewerk en selfs gehelp om die dak van die Bay-West winkelkompleks te bou.

“Daarna het ek as ’n masjienoperateur en kwaliteitsbestuurder by ’n ingenieursmaatskappy gewerk. Toe die maatskappy sy deure drie jaar later sluit, het ek by ’n maatskappy ingeval wat motor- en vensterruite vervang. Dit het dus ’n hele rukkie geneem voordat ek my eerste musiekkontrak gesluit het.”

Dít was as gevolg van ’n slim rympie, hipnotiserende ritme en ’n goeie skoot geluk. Biggy het in vorige onderhoude vertel sy treffer “Dames” se refrein het ontstaan toe hy en ’n vriend een aand ’n groepie meisies op straat teëgekom het en sy vriend wou weet wat hy vir hulle moet sê om die ys te breek.

Biggy se voorstel was: “Dames, sê my wat jou naam is, my naam is Adrianus”.

Later, toe die musiekvervaardiger Hein Bosman, wat ook bekendstaan as DJ Advent, ’n kompetisie op Facebook gehou het, het Biggie dié refrein as ’n grap in ’n stemboodskap aan hom gestuur.

“Hy het ’n klomp rappers se voice notes geremix en dan moes die publiek vir die beste voice note stem, toe wen ‘Dames’! Daarna het ek eers besluit om ’n hele song daarvan te maak en ’n paar maande later is dit vrygestel.”

Hy skryf baie van die liedjie se sukses aan Bosman toe. “Ek skryf al my lirieke self en hy komponeer my agtergrondmusiek.”

Almal sing saam as Biggy op die verhoog verskyn.Foto: Verskaf
‘Die buurt motiveer my’

Sy grootwordjare is ’n groot inspirasie vir sy musiek. As kleuter het Adrian tot op sesjarige ouderdom saam met sy ouma-hulle op ’n plaas buite Despatch gewoon, voor hy saam met sy ouers, Peter en Riana Entwistle, na Richmond Hill getrek het.

Hy meen dié metropolitaanse woongebied waar mense van alle rasse en klasse woon en waar daar daagliks ’n stryd teen misdaad en dwelmhandel is, het beslis ’n invloed op sy lirieke en sy lewenskeuses gehad.

“My lewe in dié buurt was van my beste sowel as slegste tye, maar dit het my ook gemotiveer om iets beter met my lewe te doen . . . Ek het baie vreemde dinge daar gesien gebeur en jy kan maar sê ek het street wise geword. Van die gebeure sal wel nog in die toekoms by my musiek ingewerk word. Ek hou daarvan om komiese gebeure met mense deur my musiek te deel, maar op so ’n manier dat daar nie net daarna geluister moet word nie, maar dat die mense ook daarop wil dans.”

Mense het hom al gekritiseer omdat hulle meen “Dames” se lirieke is afbrekend teenoor vroue, maar sy bedoeling was eerder die teendeel, sê hy.

In ’n onderhoud met Huisgenoot verduidelik hy dit so: “Die liedjie dryf juis die spot met die manlike ego. Die arme ou kan nie eens die meisie oorreed om van hom te hou nie.”

Hy meen nadat die manlike karakter in die liedjie se ego ’n knou gekry het, lewer hy op die meisies kommentaar in ’n poging om homself in ’n beter lig te stel. “Soos enige ou wie se ego broos is, probeer hy oorkompenseer – en dít is eintlik waarmee ek die spot dryf.”

Hy laat egter nie toe dat sy nuutgevonde roem sy eie ego aanblaas nie, hoewel hy vind dat mense hom nou anders behandel. Dit voel nog onwerklik om mense se reaksie op sy musiek en bekendheid te ervaar, sê hy.

“Ek het ook al baie videos ontvang waar my musiek oorsee gespeel word in plekke soos Rusland, China, Londen en Dubai, om net ’n paar te noem. Dit bly vir my steeds onwerklik!

“Dit het eintlik heeltemal so onverwags gebeur, en ek is dankbaar dat ek die kans kry om my droom uit te leef. Ek sal altyd nederig bly en dankbaar wees teenoor my aanhangers en die mense na aan my wat my ondersteun.”

Hy lag egter oor die valsheid van mense wat voorheen neerhalend was oor sy drome, maar deesdae voorgee asof hulle hom nog altyd ondersteun het.

Sy jongste liedjie, “Good Look­ing”, lewer met dieselfde tong-in-die-kies-aanslag as “Dames” kommentaar hierop.

Soms, wanneer hy terneergedruk voel, skryf hy wel oor die donkerder sy van die lewe – soos sy liedjie “Deurmaak”, oor die selfdood van ’n vriendin.

Biggy, die kletsrymer wat die land aan die gons het met sy treffer, dames. Foto: Verskaf
‘Alles op sy tyd’

Sy musiek is nou sy voltydse beroep en hy rits die land vol om gehore te vermaak. In 2019 het hy elke naweek iewers opgetree.

“Ek dink my gunsteling-optrede was by Rocking the Daisies in Kaapstad, H20 by Nicci Beach in Boksburg en die Durban Rage.”

Tussendeur skryf hy voortdurend nuwe musiek.

“Daar is ’n hele paar nuwe liedjies oppad wat ‘Dames’ sal opvolg. Ek is ook besig met nuwe musiekvideos en ’n nuwe EP (kort album met ongeveer sewe liedjies) en kan nie wag vir die vrystelling daarvan nie!”

Biggy het groot planne, want buiten vir die liedjies werk hy ook aan sy Biggy Musiek-handelsnaam met onder meer produkte wat binnekort aanlyn en by sy optredes te koop sal wees.

Oor die toekoms is hy terselfdertyd pragmaties en filosofies. “Ek sal graag so lank as wat dit moontlik is wil musiek maak en sal aanhou probeer om net te verbeter.

“Later sou ek as besigheidsman die musiekindustrie wil betree, maar vir nou wil ek net op my eie musiek fokus, en voluit gaan!

“Alles op sy tyd.”

Vinnige vrae:

Is Kletsrym ’n gepaste Afrikaanse woord vir rap?

Ja, definitief, dit val so lekker op die tong.

Waarna luister jy graag?

Ek luister maar wat my gemoedstemming die dag pas, maar rapmusiek bly my gunsteling. Musiek het ’n geweldige invloed op my gemoed, up beat-musiek laat my goed voel, maar ander tipe musiek kan my as kunstenaar/musikant ook inspireer.

Kry jy kans vir stokperdjies?

Ja, so nou en dan, en dan hou ek daarvan om ek vis te vang!

Ek woon nou in Kaapstad en probeer soveel moontlik rondry om alles wat daar is te kan sien.

Wat weet jou aanhangers nie van jou nie?

Dat ek ’n groot voorliefde het vir skoene en graag spesiaal daarvoor sal inkopies doen.




Biografie:

Naam: Adrian Justin Entwistle

Verhoognaam: Biggy

Gebore: 15 Januarie 1996

Ouderdom: 24

Geboortedorp: Despatch

Matrikuleer: Hoërskool Linkside (Port Elizabeth) 2015

Beroep: Musikant/Kletsrymer

Huidige tuisdorp: Kaapstad


Meer oor:  Biggy.  |  Adrian Entwistle  |  Kletsrym  |  Biggy And Mouse  |  Liedjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.