Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Simfonieseisoen in Kaapstad bied vele verrassings
Alexander Shelley

Die komende simfonieseisoen in Kaapstad is ’n verrassingspakkie met vyf simfoniekonserte, pleks van die gewone vier, die vitaliteit van twee jeugorkeste, ’n sanger, wat selde gebeur, en laaste maar nie die minste nie, die Russiese wonderkind Daniel Charitonof as solis.

Dié pianis was 16 jaar oud, nog ’n skoolkind, toe hy in 2015 die derde prys in die mededingende Tsjaikofski- Internasionale Musiekkompetisie in Moskou behaal het, die jongste pryswenner tot nog toe in dié kompetisie.

Nog ’n verrassing in die pakkie is twee dirigente wat hul debuut in Kaapstad maak, met Alexander Shelley wat beskryf word as “een van die opwindendste dirigente tans op internasionale podiums”.

Besprekings is reeds oop vir die besonderse simfonieseisoen van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), wat op 15 Augustus open en op 12 September eindig.

Natasha Paremski

15 Augustus: Duitse orkes

Die eerste van die twee jeugorkeste wat gehoor kan word, is Duitsland se nasionale jeugorkes, die Bundesjugendorchester, wat sy 50ste bestaansjaar met Suid-Afrikaanse gehore vier.

Dié orkes open die seisoen met Shelley as dirigent, een van die twee “nuwelinge” op die Kaapse konsertverhoog.

Die uitvoering begin met twee Suid-Afrikaanse werke, die Johannesburg-ouverture deur die Britse komponis William Walton en Three Sangoma Songs van Hendrik Hofmeyr. In dié werk is Msaki, ’n Oos-Kaapse sanger met ’n “kenmerkende stem”, die solis. Sy is ook ’n liedjieskrywer, ’n improviseerder en ’n gewilde kunstenaar in Swede.

Shelley is die musiekdirekteur van Kanada se Nasionale Kunstesentrumorkes en ’n hoofdirigent van die London Royal Philharmonic Orchestra, maar lei ook gereeld voorste Europese, Asiatiese en Australiese simfonieorkeste.

Buiten die twee inleidende werke, is ’n simfoniese toondig van Gershwin se Porgy and Bess en Simfonie nr. 2 in D majeur van Brahms ook op die program.

22 Augustus: Geniale Grieg

Die tweede jeugorkes wat in die seisoen optree, is Kaapstad se eie Filharmoniese Jeugorkes met Brandon Phillips wat die konsert met Leonard Bernstein se Candide-ouverture open.

Hierna neem die KFO oor vir die res van die seisoen en neem die Bulgaars gebore Amerikaanse dirigent Rossen Milanov die stokkie by Phillips oor vir sý Kaapse debuut. Hy sal ook die konsert op 29 Augustus aanvoer.

Milanov is die musiekdirekteur van verskeie orkeste in Amerika, onder meer die Princeton-simfonieorkes, asook die Asturias-simfonieorkes in Spanje.

Langs hom sal Natasha Paremski voor die klavier plaasneem vir die immer bekende Grieg-klavierconcerto.

Dié 31-jarige Amerikaanse pianis, wat op agt jaar saam met haar ouers Moskou verlaat het om na die Nuwe Wêreld te migreer, het op 15 haar openbare debuut met die Los Angeles- filharmoniese orkes gemaak.

Volgens resensies het sy uitsonderlike virtuose en vertolkingsvaardighede en betower gereeld gehore met ’n musikale sinrykheid en vleklose tegniek.

Mendelssohn se Skotse Simfonie sal die program afsluit.

Daniel Charitonof

29 Augustus: Walton en die tjelloIn Milanov se tweede konsert is ’n pryswenner van die Rostropowitsj-kompetisie, die tjellis Gary Hoffman, die solis. Hy het ook op 15 sy professionele debuut gemaak met ’n uitvoering in Londen se Wigmore Hall, wat hy in New York herhaal het.

Hoffman speel die Britse komponis William Walton se Tjelloconcerto waarna Rimski-Korsakof se Sjeherazade die konsert in kleurvolle klankrykheid tot ’n einde sal bring.

5 September: Titaniese kragte

Die KFO se dinamiese hoofgasdirigent, Bernhard Gueller, lei die laaste twee konserte op 5 en 12 September.

Dit is onder hom dat Charitonof, nou 21, sy slag sal wys in ’n werk wat vir baie Afrikaanssprekendes na aan die hart lê, Rachmaninoff se Rapsodie op ’n tema van Paganini. Die 18de variasie van die werk was die kenwysie van die radiovervolgverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei wat ’n soort kultusaanhang gehad het.

Nadat Charitonof in 2013 met die Mariinski-orkes onder Waleri Gergief opgetree het, het hy nie net in Rusland verskeie kere saam met die orkes gespeel nie, maar ook saam met die orkes deur China en Italië getoer.

Hy was steeds op skool toe hy saam met die Staatsakademie-simfonieorkes en die Nasionale Filharmoniese Orkes opgetree het en op Rusland se bekendste feeste. Ook op sy kerfstok is konserte in Europa en Amerika.

Charitonof het tot 2016 aan Rusland se Sentrale Musiekskool studeer en is sedertdien in Brittanje waar hy ’n student aan die Royal College of Music in Londen is. Sy leermeester is die Rus Dmitri Alekseef.

Mahler se wonderlike Simfonie nr. 1 (Titane) sal ná die concerto volg.

12 September: Fonteine

In die laaste konsert van die seisoen is die Kanadees-Chinese violis Yi-Jia Susanne Hou terug om twéé werke te speel, Chausson se Poème en die Introduction et rondo capriccioso van Saint-Saëns.

Die hoofwerk van die aand is Respighi se klankbeskrywende Fontane di Roma (Die fonteine van Rome).

*Al die konserte is in die Kaapstadse stadsaal en begin om 20:00.

*Die kaartjiepryse wissel van R95 tot R450 by Computicket.

*Kleedrepetisies op 22, 29 Augustus en 12 September om 11:00 is oop vir die publiek.

*Kaartjiehouers kan gesprekke oor die werke voor die aandkonserte, om 19:15, bywoon.

Meer oor:  Klassieke Musiek  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.