Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Graham Scott onthou vir 'betowerende musiekspele'
Graham Scott (regs) saam met Etienne Mecloen en Elsabe Laubscher van JMI met die opening van ‘Acoustic Moodz’ in Johannesburg. Foto: Boniwe Gumede/Netwerk24

Die dirigent Graham Scott word ná sy dood Woensdag deur ’n horde musici gehuldig vir die “betowerende musiekspele” wat hy gelei het.

Sy eerste liefde was egter opera en hy was in die orkesbak vir al die bekendste operas, soos La bohème, Tosca, Gianni Schicchi, Werther, The Barber of Seville, L’elisir d’amore, Don Pasquale, die Suid-Afrikaanse première van Bizet se Les pêcheurs de perles en ’n menigte operagalas en -konserte, insluitend die hoogs suksesvolle opera-extravaganza Aqua Opera in die Kaapstadse Waterfront.

Hoewel Scott al enkele jare nie meer gedirigeer het nie – hy het hoogtevrees ontwikkel en kon nie meer op die podium staan nie – beskou musici sy dood as ’n groot verlies.

Hy het op Saterdag 19 Junie in sy huis buite Kaapstad geval en sy heup gebreek. Op Woensdag 23 Junie is hy in ’n operasie in die hospitaal dood. Hy was 67 jaar oud en laat ’n broer, Ian Scott, agter.

Loopbaan

Scott is op 24 Maart 1954 in Oos-Londen gebore, waar hy ook gematrikuleer het. Ná skool het hy aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Musiekkollege studeer en in 1976 ’n BMus-graad met klavier en dirigeerkuns onder leiding van David Tidboald verwerf.

Graham Scott (voor die klavier) en Ralph Lawson, onderskeidelik musiekregisseur en regisseur vir Wits se produksie van ‘A Funny Thing Happened on the Way to the Forum’. Foto: Beeld

Nadat hy ’n ruk lank operas en musiekspele vir die destydse Kruik gedirigeer het, is hy na Londen, waar hy ondervinding in die National Theatre, Chelsea Opera, die Royal Ballet School en in kommersiële televisie opgedoen het.

Met sy terugkeer in 1985 het hy ’n aanstelling as inwonende dirigent en musiekdirekteur van die nuut gestigte Natalse Filharmoniese Orkes en die musiekteaterdepartement gekry. Daar het hy ’n standaard vir talle musiekteaterproduksies in Suid-Afrika gestel.

In 1998 het hy ’n pos as artistieke direkteur van die Truk-orkes in die Staatsteater in Pretoria aanvaar. Ná die ontbinding van die orkes het hy as ’n vryskut gewerk en hy was onder meer nou betrokke by die destydse Black Tie Ensemble.

Hy het hom reeds vroeg in sy loopbaan as dirigent van musiekteater onderskei en het meer as 75 speelvakke in sowat 30 jaar gelei. Van dié musiekspele is Sweeney Todd, Into the Woods, My Fair Lady, Camelot, Jesus Christ Superstar en West Side Story en groot produksies soos die fenomenale Big Band Blast en Songs from the Mediterranean.

Scott het spesiale empatie met en ’n aanvoeling vir balletdansers gehad. Hy het soms as repetiteur (klavier) vir hulle opgetree en verskeie balletproduksies gedirigeer, onder meer Swanemeer, Cinderella, The Merry Widow, Romeo and Juliet, The Nutcracker, Don Quixote en Giselle.

Ander projekte waarby hy betrokke was, is die tien jaar lange prettige Pretoria News Proms, die Johannesburg en Jakaranda Proms en ál die Huisgenoot-Skouspele van 2002 tot 2011, wat ook op TV uitgesaai is.

Laurika Rauch, Rina Hugo, Graham Scott (dirigent) en Jaconel Vey (pianis en solis) oefen vir Bambie Heiberg se liefdadigheidskonsert by Unisa.

Nog TV-verskynings sluit in A Soldier’s Tale van Strawinski, The King and I, Mimi Coertse se 80ste verjaardagviering en weer eens die ballet Swanemeer.

Scott is bekroon met die Nederburg-operaprys, vyf Vita-pryse, ’n Goue Loerie en twee Durban-teaterpryse.

Te midde van al die optredes het hy ook musiekonderrig gegee, waarvoor hy in 1998 deur die International Society for Music Education vereer is.

Hy was ’n raadgewer vir die Nasionale Kunsteraad en het in die raad gedien van die Johannesburg Music Initiative (JMI), wat veral die opleiding van swart orkesmusici bevorder het.

Al het Scott nie meer opgetree nie, het hy verlede jaar ’n insiggewende en besonder leersame Zoom-reeks, Learning to Listen, aangebied, waarvoor hy breedvoerig navorsing gedoen het.

Hulde

Die akteur en regisseur Philip Godawa, wat sedert 1978 met Scott bevriend was, sê hy sal hom onthou as uitgesproke, vir sy wonderlike humorsin en as ’n ware karakter.

“Wat sy werk betref, was Graham ’n uitmuntende pianis en dirigent vir balletdansers. Hy kon saam met hulle asemhaal en dit is een van die redes waarom hy so ’n goeie dirigent vir musiekspele was. Hy kon so goed by hul tempo aanpas.”

Godawa beklemtoon die passie wat Scott vir die musiekbedryf gehad het, maar sê sy swak gesondheid het hom die afgelope tyd ondergekry.

Steven Stead skryf op die Facebook-blad Music with the Maestro – Graham Scott was “bekwaam, sjarmant, sorgsaam, kundig en het geweet hoe om musiek sinvol” aan te bied.

“Dit was ’n groot eer om saam met jou in ’n klompie kosbare operas en musiekspele vroeg in die 21ste eeu te werk. Ek koester jou idees, waarnemings en die whisky. Rus in vrede, jou pragtige, komplekse, talentvolle, inspirerende en hartebrekermens.”

Die dirigent Michael Hankinson: “Ek onthou die epiese produksies met Geoffrey Sutherland in Durban. Dit raak nou skrikwekkend alleen – so min van ons uit daardie era oor.”

Die pianis Albert Combrink: “As ’n balletdirigent en -pianis was jy in ’n eie liga.”

Die dirigent Jeremy Silver: “Graham was ’n hoogs instinktiewe maar ook diepdenkende musikus.”

Die aktrise Samantha Peo: “Ek voel verpletter. My hele loopbaan flits voor my verby.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.