Die dood van die talentvolle Russiese tjellis Alexander Buzlov op 8 November is wêreldwyd met skok en ongeloof begroet. Hy was maar 37 jaar oud.

Alexander Buzlov

Alissa Margulis
Buzlov het aan ’n beroerte beswyk terwyl hy vir optredes in Moskou was.
Kaapstadse musiekliefhebbers het die voorreg gehad om hom in 2018 saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes met Lalo se Tjello-concerto te hoor. Hy was voorheen ook een van die aanbieders op die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees.
Sy vrou, die internasionale violis Alissa Margulis, is net so bekend in Suid-Afrika. Sy het twee jaar gelede ’n manjifieke uitvoering van Bruch se bekende Vioolconcerto nr. 1 in G mineur in Bloemfontein gegee, en het haar Suid-Afrikaanse toer vanjaar met ’n uitvoering in Johannesburg op 1 Februarie begin.
Daarna was sy in Kaapstad vir optredes van die volledige stel Beethoven-sonates vir klavier en viool saam met die Stellenbosse pianis Luis Magalhães, toe sy deur die Covid-19-regulasies hier ingeperk is.
Margulis en hul driejarige dogtertjie, Amalia, kon eers in Junie na hul huis in Duitsland terugkeer. Buzlov was terselfdertyd in Moskou vasgekeer en kon hom ook eers in Junie by sy gesin aansluit.
Dié merkwaardige tjellis is in 1983 in Rusland gebore en het aan die Moskouse konservatorium en die Kornberg-akademie in Duitsland studeer. Hy het op ’n jong ouderdom reeds pryse in die internasionale ARD-, Feuermann- en Tsjaikofski-tjellokompetisie gewen.
Die Amerikaanse media het hom beskryf as “een van die briljantste en talentvolste tjelliste van sy tyd wat as solis saam met verskeie voorste Amerikaanse simfonieorkeste opgetree het”.
Hy en Margulis is in 2017 getroud.
Huldeblyke het die naweek van oraloor ingestroom, waarvan dié van die Russiese pianis Denis Matsuev die roerendste is: “Ek kan my nie sover kry om dit te glo nie. Ek ken Sasha vandat hy as 11-jarige in die New Names-kompetisie by ons in Moskou gespeel het. Dit was dadelik duidelik dat ons hier met ’n groot talent te doen het.”
Buzlov sal volgens inskrywings op Facebook ook onthou word vir sy humorsin en as ’n gawe, dierbare mens, maar bowenal vir sy kunstenaarskap.
’n Gedenkdiens word Woensdag vir hom in Moskou gehou.