Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Sluise vir lewende optredes oopgetrek

“Gee hulle musiek.”

Bernhard Gueller, die hoofgasdirigent van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

Met dié woorde het Louis Heyneman, die uitvoerende hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO), die terugkeer van uitvoerings na die konsertsaal as’t ware ingelui.

Sedert die reeks van miniatuur- simfoniese meesterstukke in Erin Hall in Rondebosch, waar net 30 gehoorlede toegelaat is, is dit of die sluise vir lewende optredes besig is om oop te trek.

Die Camerata Tinta Barocca gee binnekort ’n konsert in die Baxterteater, die KFO berei twee simfoniekonserte voor wat gestroom sal word, die baie gewilde jaarlikse gemeenskapskonsert is reeds opgeneem en sal ook later aanlyn gekyk kan word. Die datum moet nog bekend gemaak word.

Geen gehoor word in dié stadium by die simfoniekonserte toegelaat nie, maar die volle orkes kan darem nou in hul repetisielokaal in die Kunstekaap musiek maak.

Dit is danksy die Covid-19-inperking wat na vlak een verlaag is en die Kunstekaap se reëls wat daarby aangepas is.

Só lyk die konsertskedule tot Desember vir klassieke musiek deur Kaapstadse musici:

8 November 16:00, Erin Hall: Double Bass Affair met Roxane Steffen, leierkontrabasspeler in die KFO, en Mariechen Meyer, kontrabassolis en ad hoc-KFO-speler. Hulle speel kontrabasduette uit die Romantieke tydperk en later jare, onder meer Gran Duo nr. 1 van Bottesini en ses duette deur die 21ste eeuse komponis Nicholas Walker.

  • Bespreek by Quicket.
Lynelle Kenned

14 November 11:00, Baxter-konsertsaal: Instrumentale en vokale werke uit die Barok-era deur die Camerata Tinta Barocca onder leiding van Erik Dippenaar. Lynelle Kenned is die sangsolis en KFO-musici is deel van die ensemble.

Kenned sing “Lascia ch’iopianga” uit Rinaldo van Handel en “Dido’s Lament” uit Dido and Aeneas van Purcell.

Die instrumentale werke is Vivaldi se Sonate op. 1 nr. 12 in D mineur (La Follia), Buxtehude se Praeludium in D-majeur, uitgevoer deur Dippenaar, “Tornami a vagheggiar” uit Alcina van Handel en Haydn se Simfonie nr. 94 in G-majeur, oftewel die bekende Verrassingsimfonie.

Bespreek by Webtickets. Die kaartjies kos R190 en R160 vir pensioentrekkers. Alle Covid-19-voorsorgmaatreëls sal nagekom word. Onthou jou masker, dit is verpligtend.

3 Desember : Vanaf dié dag kan ’n KFO-simfoniekonsert gestroom word met Nina Schumann as solis in Rachmaninoff se weergalose Klavierconcerto nr. 2, asook Schubert se Simfonie nr. 5 in B-mol-majeur. Die simfonie toon invloede van Mozart, vir wie Schubert ’n matelose bewondering gehad het. Bernhard Gueller is die dirigent.

  • Kaartjies sal by Quicket beskikbaar gestel word.

12 Desember: Die tweede simfoniekonsert wat in November deur die volle KFO uitgevoer word, kan vanaf dié dag gestroom word. Werke van Mozart is op die program.

Ouverture van Cosí fan Tutti, Concerto vir twee klaviere nr. 10, K 365 met Francois du Toit en Albie van Schalkwyk as die pianiste, en Simfonie nr. 39 in E-mol-majeur is ingesluit. Dié derde laaste simfonie deur Mozart het ’n majestueuse opening wat elke keer gehore se aandag van die eerste noot vasvang.

Bernhard Gueller is die dirigent.

  • Kaartjies later beskikbaar by Quicket.
Die pianis Francois du Toit.
Albie van Schalkwyk

Miniatuurwerke

Die KFO-konserte van miniatuur- simfoniese werke is voor ’n beperkte gehoor in Erin Hall, Rondebosch, uitgevoer en kan nou aanlyn geluister word. Die kaartjies kos R100 per konsert en R320 vir al vier by Quicket. Die konserte kan soos volg gestroom word:

5 tot 9 November

  • Mozart – Serenata Notturna K239
  • Mozart – Simfonie nr. 40, K550 vir blaaskwintet
  • Sjostakowitsj – Kamersimfonie, op. 110b

12 tot 16 November

  • Mozart – Die Zauberflöte-ouverture vir koperblaaskwintet
  • Beethoven – Klavierconcerto nr. 2 met Qden Blaauw (klavier) en strykkwintet
  • Beethoven – Klavierconcerto nr. 1 met Mike Wang (klavier) en strykkwintet

19 tot 23 November

  • Bach – Orchestersuite nr. 2 in B-mineur met Gabriele von Dürckheim (fluit) en strykkwintet
  • Elgar – Cello Concerto met Peter Martens (tjello) en strykkwintet
  • Beethoven – Simfonie nr. 2 verwerk deur Beethoven self vir klaviertrio: Albie van Schalkwyk (klavier), Suzanne Martens (viool) en Eddie McLean (tjello)

26 tot 30 November

  • Mozart – Klarinetconcerto met Féroll-Jon Davids (klarinet) en strykkwintet
  • Brahms – Klavierkwartet, op. 25 in G-mineur met Nina Schumann (klavier).

Kyk: Jerusalema

Kyk hoe voer die Jazzart-dansskool Master KG se Jerusalema saam met die KFO uit.

Dit is een van die items in die KFO se gemeenskapskonsert wat later aanlyn beskikbaar gestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.