Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Só het jy Vivaldi se ‘Seisoene’ nog nie gehoor

Uit al die verwerkings van die Italianer Antonio Vivaldi se stellig bekendste werk, die Vier seisoene, is ’n verwerking vir viool, trekklavier en baskitaar waarskynlik een van die interessantste.

Die stel van vier concerto’s vir viool en orkes is rondom 1716 gekomponeer en is oor die afgelope meer as 300 jaar in verskillende musikale gedaantes uitgevoer, soos dié wat die violis Petrus de Beer, die trekklavierspeler Stanislav Angelov en die baskitaarspeler Schalk Joubert binnekort in Kaapstad gaan pak.

“Dit (die verwerking) was Petrus se idee,” sê Joubert. “Die hele idee was eintlik om te probeer om dit (die Vier seisoene) in ’n kompakte formaat aan te bied. ’n Mens hoef dit nie net met ’n simfonieorkes uit te voer nie – dit kan ook in mense se voorkamers gespeel word.”

Joubert vertel die grootse werk, wat oorspronklik met orrelbegeleiding uitgevoer is, is in Vivaldi se leeftyd soms met ’n trekklavier vervang.

“As die werk in Italië in klein, arm kerkies sonder ’n orrel uitgevoer is, was dit nie vir die solis vreemd om deur ’n trekklavier begelei te word nie.

“In ons verwerking het ons ’n fantastiese trekklavierspeler, Stanislav, maar ons het die kontrabas met ’n baskitaar vervang om die werk ’n bietjie meer krag te gee. Ek speel (op die baskitaar) wat die tjello en hier en daar die altviool sou speel, Stanislav speel wat die orkes sou speel, en Petrus is die solis.

“Ons improviseer hier en daar, maar oor die algemeen speel ons dit soos Vivaldi dit gekomponeer het. Ons maak nie ’n Vanessa May-ding van dit nie.”

Die violis Petrus de Beer, die trekklavierspeler Stanislav Angelov en die baskitaarspeler Schalk Joubert gaan ’n verwerking van Vivaldi se ‘Vier seisoene’ op dié instrumente uitvoer.

Die trio se verwerking sluit ook vier sonnette in, wat volgens Joubert “die komponis se gedagtegang” oor die werk blootlê.

“Niemand weet presies wie dit (die sonnette) geskryf het nie, maar daar is eenstemmigheid dat dit Vivaldi self was,” sê Joubert.

“Die gedigte gee ’n bietjie meer inligting oor elke seisoen en waaroor dit gaan. Dr. Dawid de Villiers het die gedigte vir ons na Afrikaans vertaal, en daardeur gee ons vir mense voor elke seisoen staaltjies oor die werk, soos dat Vivaldi ’n asmalyer was en hoekom van die seisoene so benoud klink.”

Joubert sê daar is heelwat in hul verwerking wat nie in die oorspronklike musiek na vore kom nie.

“Die krag agter die melodieë is geweldig gefokus in dié verwerking,” sê hy. “Anders as die oorspronklike, moet ons ook baie multitask, maar daar gaan niks verlore nie – die musiek is so goed gekomponeer dat jy dieselfde ervaring met die trio as met ’n orkes kry. Party komposisies het ’n hele orkes nodig vir dit om tot sy reg te kom, maar nie hier nie.”

Joubert sê die trio beplan om nog verwerkings van soortgelyke werke te maak, ook rolprentklankbane soos dié van The Godfather. Hy glo sulke verwerkings kan klassieke musiek weer aanloklik vir groter gehore maak.

“Dit sal klassieke musiek weer in mense se voorkamers inbring,” sê hy. “Klassieke musiek hoef nie altyd op ’n podium te wees nie. Dit kan weer volksmusiek en musiek van ons tyd word, musiek waardeur genot en stories intens ervaar word. Ek hoop dit (die verwerkings) maak mense lus vir meer klassieke werke.”

  • Die vertoning Vivaldi Four Seasons word op 11 Desember om 19:00 by die Welgemeend-opstal (in Welgemeendstraat 2) in Kaapstad aangebied. Kaartjies teen R130 kan by www.tixsa.co.za bespreek word. Die kaartjie sluit ’n glas Clemengold-jenewer in, wat voor die vertoning bedien sal word.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.