Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Só ’n orrel kry jy nie oral nie

’n Mens skiet nie ’n buffel met ’n windbuks nie en jy speel nie iets soos Bach se Toccata en Fuga in D-mineur (Ja, daai ‘Dracula-musiek’) op ’n blokfluit nie. Jy’t ’n orrel nodig – ’n groot orrel, soos die een in Port Elizabeth se Veremarksaal, skryf Willemien Green.

Prof. Albert Troskie het jaar ná jaar by die munisipaliteit gesmeek vir die bou van die orrel. Foto: Willemien Green

Wanneer prof. Albert Troskie, konsertorganiseerder van die Veremarksaal in Port Elizabeth, op die orrel lostrek met die bekende geestelike lied “Hoe groot is U” om die krag van die orrel te demonstreer, loop daar rillings van lekkerkry teen ’n mens se ruggraat af – of jy nou hou van orrelmusiek of nie.

Die Veremarkorrel is die grootste alleenstaande orrel in Suid-Afrika en die enigste van sy tegnologiese gevorderdheid.

Dit was egter hittete of daar was nie so ’n kragtige orrel in die Baai wat orreliste van heinde en verre lok om hier uitvoerings aan te bied nie.

Dis dié dat Albert, ’n emeritusprofessor en voormalige hoof van die musiekdepartement aan die destydse UPE, soos ’n oorbeskermde pa is oor die orrel. Hy het immers jare lank geagiteer en gemotiveer om die orrel gebou te kry.

Met onversetlike teenkanting van die munisipaliteit in die vorige politieke bedeling moes hy jaar ná jaar op raadsvergaderings gaan smeek.

Die orrelkas soos wat hy nou lyk, van binne gesien. Foto: Willemien Green
Winand Grundling speel tydens ’n vorige uitvoering op die Veremarksaal se orrel. Eerskomende Donderdag maak hy weer so. Foto: Werner Hills

“Gekraakte sypaadjies was belangriker as kultuur vir die verstokte stadsraad destyds,” sê hy.

Toe, onverwags en met die nuwe bedeling ná 1994, gee die stadsraad toestemming om die orrel te laat bou.

Albert word gereken as die land se voorste orrelkenner en het onlangs ’n erepenning van die Akademie vir Kuns en Wetenskap ontvang vir die bevordering van orrelmusiek in Suid-Afrika.

Hy het destyds met die ondersteuning van Chris Dowdeswell, ’n wêreldbekende dirigent, die orrel ontwerp en Jan Pekelharing, in daardie stadium die enigste orrelbouer in die Oos-Kaap, genader om die orrel te bou.

Pekelharing is in 1952 in Nederland gebore. Op sesjarige ouderdom het hy saam met sy ouers na Suid-Afrika geïmmigreer waar sy pa, Jan Pekelharing sr., as ’n orrelbouer in Potchefstroom aangestel is.

Pekelharing jr. het matriek geslaag met houtwerk en tegniese tekeninge as hoofvakke en homself ná sy studies in teologie en filosofie by die Suid-Afrikaanse Orrelvereniging aangesluit waar hy vyf jaar lank die vakmanskap geleer en bemeester het.

’n Skildery en voorstelling van die Veremarksaal soos wat hy nou lyk deur Ron Belling. Foto: Willemien Green
Die Oos-Kaap se skole woon een keer per jaar ’n orrelkonsert by. Foto: Verskaf

Dit het ’n vreeslike geswoeg en gesweet afgegee om die lood­swaar windlaaie en pypkanne van die Veremarkorrel baie versigtig op te hys en te installeer sonder om hulle te duik of te krap. Die stadsargitekte, Gerrie de Bruin en Ron Belling, het op die kleur van die orrelpype besluit en Peter Whitehead Painters het die spuitverf daarvan behartig.

Die ivoorkleur was die aangewese keuse omdat die Oos-Kaap bekend is vir sy olifante in die Addopark met hul ivoortande. Die pienk skakering op die pype pas by die Art Deco-versiering van die Veremarksaal.

Die orrel se pype is ’n versameling van pype uit die eerste Veremarkorrel wat in 1882 gebou is en ’n 1880-orrel uit Durban en 80 splinternuwe pype aan die voorkant van die orrel wat uit Laukhuff in Duitsland ingevoer is.

Jan Pekelharing, die enigste orrelmaker in die Oos-Kaap, wat in 2008 aan kanker gesterf het, se twee seuns Daniel (links) en Sebastian. Hulle volg in hulle pa se voetspore en gaan voort om die Veremarksaal se orrel te onderhou en te stem voor elke konsert. Foto: Media 24-Argief

Tien plaaslike houtsnyers het twee jaar lank gewerk aan die houtsneewerk wat die voorkant van die bestaande orrel versier.

Die speel en registeraksie word gedryf deur ’n rekenaarstelsel en stel die orrelis in staat om vooraf klankkombinasies vir die orreluitvoering te programmeer. (Dit beteken hy of sy hoef nie tussendeur so vervaard hefboompies langs die kant uit te trek en in te druk soos tant Miena destyds met ’n besige dag op die dorp se handsentrale nie.)

Die orrel het ook ’n ingeboude midi-stelsel wat bykomende elektroniese klanke kan verskaf en ’n nuwe aspek aan die orreluitvoerings gee. Dit maak dit ook moontlik om uitvoerings op te neem vir geskiedkundige verwysings. (Natuurlik met die toestemming van die orrelis van die betrokke uitvoering.)

Die orrelis hoef ook nie soos by die kerk in ’n klein truspieëltjie te loer om die dirigent te sien nie. Hiervoor is daar ’n ingeboude televisieskerm waarop dinge agter hom of haar tydens die konsert wys.

Die Veremark-orrelvereniging het in 1997 tot stand gekom en prof. Wim Viljoen van Pretoria het die orrel op 4 Junie 1999 amptelik ingewy.

“Ons het nooit ’n tekort aan orreliste wat graag op die orrel uitvoerings wil aanbied nie.”

Die voltooide orrel in die Veremarksaal. Skole word dikwels genooi om orrelkonserte en inligtingsessies by te woon. Foto: Verskaf
Tot tien man moet aan een orrelpyp dra gedurende die oprigting van die nuwe orrel in die Veremarksaal! Foto: Verskaf
Die voorste orrelpype is versigtig opgehys. Let op die ivoorkleur en die pienk insetsels. Foto: Verskaf

Volgende week kan die Baai se musiekliefhebbers byvoorbeeld uitsien na ’n orreluitvoering op die spesiale orrel deur die orrelis Winand Grundling.

Grundling, ’n Oos-Kapenaar wat in Uitenhage gebore is en grootgeword het, het hom ná vele omswerwinge eindelik op Stellenbosch tuisgemaak, maar sy wortels is steeds diep in die Oos-Kaap geanker. Albei sy ouers woon nog op Uitenhage.

“Ook orreliste van ander wêrelddele vra dikwels om hier ’n uitvoering te kom aanbied.

“Ons probeer om die konsertprogram gewoonlik so lig moontlik te hou sodat almal dit kan geniet,” sê Albert.

“Een keer per jaar nooi ons Oos-Kaapse skole om ’n orrelkonsert by te woon en verduidelik dan ook die geskiedenis en werking van die orrel aan die kinders, wat dit gewoonlik baie geniet.”

Omdat die Nelson Mandela- metro die Veremarkvereniging finan­sieel ondersteun, kan dié vereniging die konserte bekostigbaar aanbied en baie meer mense sodoende toegang tot klassieke konserte bied.

  • Grundling se konsert word op Donderdag om 13:00 in die Veremarksaal aangebied en die kaartjies kos R35 per volwassene en R10 per kind. Bel Albert Troskie by 082 726 9595 vir meer inligting.
    Feite oor die Veremarksaal
    • In 1870 het die stadsvaders reeds besef dat die 1866-Wolmark nie meer voldoende was vir die veilings wat in die Baai gehou is nie.
    • Die Veremarksaal is in 1878 deur ene mnr. Grellert van King William’s Town as ’n inskrywing vir ’n kompetisie ontwerp.
    • Die ontwerp het baie kritiek ontlok, omdat dit so duur was, maar hy is gevra om solank die dak te ontwerp vir die ou bestaande gebou.
    • Die dak is in Engeland gebou en in 1882 na Suid-Afrika gebring.
    • Grellert se ontwerp vir die nuwe gebou is toe heeltemal geskrap en die argitek William Henry Miles is toe deur die stadsvaders aangestel om ’n gebou vir die dak te ontwerp!
    • Die mure is van klip uit Koega gebou, met ’n asfaltvloer en enorme smee-yster-vensterrame wat vandag nog in net so ’n goeie kondisie is.
    • Die Veremarksaal is in 1885 voltooi en John Conroy, die markmeester, het die eerste volstruisveerveiling daar aangebied.
    • In 1988 is Gerrie de Bruin, senior argitek van die stadsraad, genader om die Veremarksaal op te gradeer.

Die enorme orrelkas wat vir die orrel gebou is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.