Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Soliste sing saam met VS-orkes
Die sopraan Charity Leburu.

Plaaslike sangsoliste wat hulle op die verhoog en in kompetisies onderskei het, tree môre saam met die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO) op.

Thesele Kemane en Charity Leburu sal arias en duette sing uit die Mozart-operas Don Giovanni en Le nozze di Figaro in ’n program wat ten volle aan Mozart gewy word. Die konsert sluit ná die vokale nommers af met sy Simfonie nr. 29.

Die basbariton Thesele Kemane.

Kemane, ’n sangdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), is ’n gebore Kimberliet wat aan die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege en die befaamde Juilliard-musiekskool in New York studeer het.

Sy aangename basbaritonstem het agente so beïndruk dat hulle hom vir die operageselskap in Frankfurt, Duitsland, opgeraap het. Daar het hy in onder meer Les Troyens van Berlioz, Pelléas et Mélisande van Debussy, Arabella van Richard Strauss en From the House of the Dead van Janácek opgetree.

Ná drie jaar in Europa het verlange huis toe en die gevoel dat hy ’n verskil in die lewe van Suid-Afrikaanse sangers kan maak hom na Suid-Afrika laat terugkeer. Hy is in 2018 by die OSM aangestel.

Kemane aanvaar graag geleenthede om ook buite Bloemfontein op te tree en het in Februarie 2020 Colline in Kaapstad-opera se produksie van La Bohéme (Puccini) gesing en verlede jaar in ’n vieringskonsert van die heropening van die Mandela-teater in die Joburg-teaterkompleks. Hy sê hy laat ook nie ’n kans verbygaan om in oratoriums te sing nie.

Hy het ook in sy eerste opera-optrede in Bloemfontein beïndruk met sy toneelspel en sang in Die lustige Witwe van Lehár.

Leburu het verlede jaar, haar finale jaar as sangstudent aan die OSM, op ’n hoogtepunt afgesluit toe sy drie pryse in die Voices of South Africa International Opera Singing-kompetisie met haar suiwer sopraanstem losgesing het.

Sy het die Bo Rosenkull- en die Opera of Peace-prys ontvang en in die uitdunronde is sy as die wenner van die sopraan-afdeling aangewys.

Vandat sy op negejarige ouderdom begin sing het, is sy raakgesien en het sy pryse gewen.

In 2009 was sy die wenner van die solo-kategorie in die Tirisano-eisteddfod en in 2016 het sy in twee kompetisies uitgeblink. Sy was ’n kategoriewenner in die Musicon-kompetisie en ’n finalis in die Amazwi Omzansi Africa National Singing-kompetisie in Durban.

Leburu het in Kuruman grootgeword en in Kimberley skoolgegaan.

Kemane sing twee arias uit Le Nozze di Figaro, “Madamina” uit Don Giovanni en saam met Leburu die bekende duet La ci darem da mano ook uit Don Giovanni.

Leburu kan gehoor word in twee arias uit Le nozze di Figaro en saam met die Bloemfonteinse sopraan Miriam Bokala in die duet “Sull’ aria …che soave zeffiretto” uit dieselfde opera.

Die konsert word ingelui met die ouverture tot La Clemenza di Tito. Alexander Fokkens is die dirigent.

  • 17 April om 16:00 en 18:30, Botaniese tuin, Bloemfontein. Die kaartjies kos R75 by Computicket wat toegang tot die tuin insluit. Covid-19-maatreëls geld. Onthou dus jou masker, daag sowat ’n halfuur voor die konsert op en trek warm aan vir die aandkonsert.
Meer oor:  Optrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.