Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Springsteen saal sy perd op
Die omslag van Bruce Springsteen se album Western Stars.

In sy jongste album neem Bruce Springsteen luisteraars na die ou Wilde Weste – na die oop paaie en na vryheid, skryf Danie Marais.

Bruce Springsteen – Western Stars (* * * *)

Glen Campbell, Jimmy Webb en Harry Nilsson is nie name wat jy assosieer met die warmste blouboordjie-rocker wat New Jersey nog opgelewer het nie. Maar die Boss se jongste, Western Stars, noop jou om met nuwe ore te luister na die orkestrale grootdoek-pop en -country van die 70’s met al die mites van oop paaie en Kaliforniese vryheid wat daarin opgesluit lê.

Die 13 liedjies op Western Stars is ballades in die gees en styl van Campbell se “Gentle on My Mind”, Webb se “By the Time I Get to Phoenix” en Nilsson se “Everybody’s Talkin”. En ’n paar van hierdie nuwe liedjies, vernaam “Hello Sunshine” en die titelsnit, is in dieselfde uitgelese klas as daardie immergroen grotes.

Op Springsteen se eerste nuwe ateljee-album sedert 2014 se High Hopes, hoor jy hom dus soos nog nooit heeltemal tevore nie – met sy verweerde bariton gelyk in harmonie met en in treffende kontras tot liriese strykers en droomverlore koperblasers.

Op nuwe pure poptreffers soos “There Goes My Miracle” en “Sunrise” tref Springsteen se liefde vir die “Caruso van rock”, Roy Orbison, jou soos skemer en verlange. En as jy weer sien, sing jy meegevoer karaoke agter die stuur soos ’n dronkverdrietige toeris in Thailand.

“Stones” weer klink soos die beste liedjie wat Neil Diamond nooit heeltemal reggekry het om skryf nie; ’n opruiende rouklag oor die leuens waaraan ’n verhouding beswyk het: “I woke up this morning with stones in my mouth / You said those are only the lies you’ve told me”.

Met Western Stars vertel Springsteen op die maat van strelende country-pop verloordersverhale met ewe veel bitter byt en vaardigheid as op sy klassieke askoestiese plate, Nebraska (1982), The Ghost of Tom Joad (1995) en Devils and Dust (2005). Maar op Stars is die ryk pop-orkestrasie meer as net begeleiding. Dit werk soos sepia-getinte klankbane vir die grinterige kortfilms wat Springsteen met sy lirieke draai.

“It’s all about where you put the horizon,” het die Western-regisseur John Ford gesê, wat ikoniese flieks saam met akteurs soos John Wayne en Henry Fonda gemaak het. Springsteen, wat groot inspirasie uit Ford se verfilming van die Steinbeck-roman The Grapes of Wrath geput het, werk in Western Stars met die horison soos ’n regisseur wat weet presies waar die transendentale sjarme, slaggate en clichés van die Western en sy uiteindelik hopelose cowboys lê.

“Remember all the movies, Terry, we’d go see / Trying to learn to walk like the heroes we thought we had to be / And after all this time, to find we’re just like all the rest,” het hy in “Backstreets” op Born to Run (1975) gesing. In Western Stars is byna al die karakters ouer mans wat moet vrede maak daarmee dat hulle nes al die res is. Die hoop dat jy vir iets groters bestem is, is immers vir 99,99% van die mensdom absurd en tog lyk die alternatief te treurig om te aanvaar. Die verraderlike skoonheid en bekoring van die geloof in Amerikaanse eksepsionalisme lê op Western Stars in die liedjies se klankbane; die meedoënlose werklikheid in die woorde.

“It’s all about where you put the horizon,” het die Western-regisseur John Ford gesê, wat ikoniese flieks saam met akteurs soos John Wayne en Henry Fonda gemaak het. Springsteen, wat groot inspirasie uit Ford se verfilming van die Steinbeck-roman The Grapes of Wrath geput het, werk in Western Stars met die horison soos ’n regisseur wat weet presies waar die transendentale sjarme, slaggate en clichés van die Western en sy uiteindelik hopelose cowboys lê.

Die woorde van die B-filmakteur-hoofkarakter in die titelsnit vat die hele aangeleentheid mooi saam: “Once I was shot by John Wayne, yeah it was towards the end / That one scene’s bought me a thousand drinks, set me up and I’ll tell it for you, friend / Here’s to the cowboys, the riders in the whirlwind / Tonight the western stars are shining bright again”

Western Stars wys die einders van die ou Wilde Weste nie as die paaie na ’n nuwe toekoms nie, maar as ’n woestyn waarin jy spoorloos verdwyn.

Daar is een of twee minder noodsaaklike snitte, soos “The Wayfarer” en “Sleepy Joe’s Motel”, maar dit doen min afbreuk aan ’n wonderlike plaat waarop Springsteen sy groot verkenning van die “runaway American dream” treffend musikaal herverbeel.

Top-snitte:

“Western Stars”

“Chasin’ Wild Horses”

“Stones”

“North of Nashville”

“Hello Sunshine”

“Moonlight Motel”

Meer oor:  Bruce Springsteen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.