Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Juliet en haar Romeo koer opnuut vir mekaar
Brittany Smith as Giulietta in The Romeo and Juliet Story - I Capuleti e i Montecchi. Foto: Kim Stevens

Capuleti e i Montecchi

Operahuis, Kunstekaap

****

Die tragiese liefdesverhaal wat ons deur Shakespeare se Romeo and Juliet leer ken het, het al inkarnasies van verhoog tot rolprent en opera tot ballet gehad.

Die liefde tussen die twee tieners, wie se families aartsvyande is, gryp ons al eeue aan.

Onder die operaweergawes tel Gounod se Roméo et Juliette seker as die bekendste, met die wals-aria “Je veux vivre” wat vele soprane in konserte sing. Bellini se I Capuleti e i Montecchi is minder bekend, maar myns insiens net so ’n waardige opera in die lieflike bel canto-styl van die vroeë 1800’s.

Bellini se lang vokale lyne verg goeie legato-sang en word afgewissel met opwindende en opgewekte cabalettas. Waar Shakespeare se verhaal begin nog voordat die verliefdes ontmoet, begin hierdie opera op ’n tydstip waar hulle reeds verlief is. Die opera het ook ’n effens tematiese klemverskuiwing wat in die titel suggereer word.

Shakespeare trek ons in met die liefde tussen die titelkarakters, maar in die Bellini-opera kom die stryd tussen die families sterker na vore. Hoewel sentrale karakters, is die twee verliefdes in die opera verteenwoordigers en slagoffers van politiek en oorlog – ’n tema wat veral in latere 19de-eeuse Italiaanse operas aangepak word.

Hierdie produksies van Steven Stead – die Durbanse regisseur wat hoofsaaklik om sy regie van musiekblyspele bekend is – is aangrypend in sy eenvoud. Hy werk met ’n stel (deur Michael Mitchell) wat in ’n japtrap in ’n gans ander wêreld omvorm, en wat verder ingekleur word deur beligting (deur Kobus Rossouw) wat subtiel deel van die vertelling word.

Hoe die spelers op die verhoog vloei, word choreografie. Dit moes seker ’n uitdaging wees, want Bellini het uitgerekte tonele waarin die twee verliefdes byvoorbeeld alleen in Giulietta se kamer sit en gesels, maar nooit laat Stead sulke tonele staties raak nie.

Die verliefdes maak elkeen afsonderlik hul verskyning op die verhoog met hul grootste aria. Ané Pretorius het Romeo se aria “Ascolta: Se Romeo ... La tremenda” moedig aangepak, maar eers teen die cabaletta opgewarm. Haar aanvangsnote in baie frase was nie altyd sekuur nie, maar daarna kon sy die musikale lyne goed deurvoer. En haar toneelspel was uitstaande.

As Giulietta het Brittany Smith gestraal. Haar stem raak net mooier en die klank ryker elke keer as ’n mens haar hoor sing. Sy spin lang frases soet klank deur die ouditorium, en haar openingsaria, “Oh! quante volte”, is boeiend vertolk, maar so ook elke toneel waarin sy gesing het.

Onder die mans was dit veral Thando Zwane wat met sy ryk basstem as Giulietta se pa, Capellio, beïndruk het. Dis net jammer Bellini het hom nie meer singkans gegee nie.

Makudupanyane Senaoana as Tebaldo het innemend vertolk, hoewel sy sang kon baat vind by helderheid in die hoë register. Ook die jong tenoor Keanan Lyle Mitchell het goed gevaar as die priester Lorenzo.

Onder leiding van Jeremy Silver, die Universiteit van Kaapstad (UK) se nuwe hoof van die operaskool, het die UK se simfonieorkes heel goed gevaar, al was daar by tye ongelyke invalle.

Oor die afgelope paar jaar het die gehalte van hierdie ko-produksies tussen Kaapstad Opera en die UK se operaskool soveel verbeter dat dit geensins meer nodig is dat gehore dié produksies as “studenteproduksies” beskou nie. En Stead kan maar gerus meer opera (in die Kaap) regisseer.

* Smith en Pretorius sing weer Saterdagaand (18de) die hoofrolle. Vrydagaand tree Nombulelo Yende (Giulietta) en Siphokazi Molteno George (Romeo) op.

Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.