Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Stem, blokfluit en saxofoon ding mee vir Rhapsody-beursprys
Lauren Aldag

Drie musici speel vanjaar in die eindronde van die Rhapsody in Bloem-beurskompetisie met prysgeld van R20 000. Die kandidate moet musiek aan ’n tersiêre instelling studeer of ’n matriekleerling wees wat musiek gaan studeer.

Volgens Petro Engelbrecht, die stigter van dié kwartaallikse konsertreeks en gepaardgaande kompetisie, is ’n saxofoonspeler, ’n sanger en ’n blokfluitspeler ná ’n uitdunronde as finaliste aangewys.

René Ferreira (blokfluit), ’n musiekstudent in haar tweede jaar aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), is ’n Bloemfonteiner en een van bitter min musici vir wie die blokfluit ’n voorkeur-instrument is.

Met dié instrument het sy drie jaar ná mekaar die prys vir die beste senior blokfluitspeler op die Vrystaatse kunswedstryd verower en in 2016 die eerste prys in die houtblaasafdeling van die Musicon-kompetisie.

René Ferreira

Die werke wat sy vir die beurs speel, is Vivaldi se Concerto in G majeur en Czardas van Monti.

Die sanger is Calvin Mofokeng, ’n derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit, met heelwat ondervinding in optree en afrigting.

Hy het ’n tenoor-ensemble gestig nadat hy in 2014 en 2015 as die Gautengse tenoorkampioen aangewys is en het twee kore in Potchefstroom onder sy vlerk.

In 2017 was hy die tenoorsolis in ’n uitvoering van Mozart se Requiem in die Brooklynteater en vanjaar het hy ’n Samro-beurs losgesing.

Sy program bestaan uit “Let Beauty Awake” uit Songs of Travel van Vaughan Williams, “La donna è mobile” uit Rigoletto van Verdi, Die forelle van Schubert en “Tombe degli Avi miei” uit Lucia di Lammermoor van Donizetti.

Calvin Mofokeng

Lauren Aldag (saxofoon) is van Oos-Londen en ’n student in haar eerste jaar aan die OSM. Die kursus fokus op klassieke musiek, en vir ligte musiek, waarvoor die saxofoon meer bekend is, is daar ensembles en ’n orkes. Op skool het sy in talle orkeste en groepe gespeel.

Die stukke op Aldag se lys is Air van Bach en Petite Suite Latine van die Franse komponis Jérôme Naulais.

Aldag is ’n lid van Brax, ’n OSM-blaaskwintet, wat haar as saxofoonspeler betrek in die plek van ’n Franse horing.

Brax sal lekker loslit-musiek speel terwyl die beoordelaars besluit wie vanjaar die R20 000-prysgeld in sy of haar sak gaan steek.

Die beurs word moontlik gemaak deur die inkomste uit kaartjieverkope vir die Rhapsody in Bloem-konserte, asook vrywillige bydraes. Enigeen is welkom om na die kandidate in die eindronde te luister. * 13 September om 19:00 in die Naval Hill-planetarium. Die kaartjies kos R60. Bespreek by 082 824 5507 of rhapsody­inbloem@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.