Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Stem vir Ndlovu-jeugkoor in VSA, vra LUR
Ralf Schmitt
Ralf Schmitt, dirigent, en die Ndlovu-jeugkoor aan die oefen. Foto: Deon Raath

Suid-Afrikaners wat in Amerika woon, moet asseblief almal vir die Ndlovu-jeugkoor van Limpopo stem sodat hulle tot die halfeindronde van die TV-kompetisie America’s Got Talent kan deurdring.

Dít is die beroep wat Thandi Moraka, LUR vir sport, kuns en kultuur in Limpopo, Woensdag op Suid-Afrikaners in Amerika gedoen het.

Die lot van die Ndlovu-jeugkoor is nou in die hande van die Amerikaanse publiek wat kan stem vir hul gunstelingdeelnemers om na die halfeindstryd van die gewilde program deur te dring.

Die Ndlovu-jeugkoor is afkomstig van die Moutse-gebied buite Groblersdal in Limpopo en het die wêreld behoorlik gaande met hul talent.

Hulle het Dinsdagaand in Amerika in die kwarteindronde van America’s Got Talent ’n staande ovasie gekry met hul weergawe van die groep U2 se liedjie “Beautiful Day”. Die koorlede was in skelpienk kostuums geklee.

Dit is die 14de seisoen van dié gewilde televisiereeks. Die Ndlovu-jeugkoor is een van net sewe deelnemers wat tot die kwarteindronde deurgedring het.

“Ek is so gelukkig met die koor se uitsonderlike vooruitgang in die wedstryd, ek hoop hulle maak Limpopo en Suid-Afrika trots deur na die halfeindstryd deur te dring,” sê Moraka.

Stan Mathabatha, premier van Limpopo, het ook die Ndlovu-jeugkoor geloof en gesê: “Dis bitter jammer dat ons nie vir hulle kan stem nie, maar ons glo in hulle.”

Die Ndlovu-jeugkoor se weergawe van Ed Sheeran se liedjie “Shape of You” het hulle tot die regstreekse uitsendings van die kompetisie op TV laat deurdring. Daarna het hulle kykers wêreldwyd gaande gehad met hul weergawe van Shakira se “Waka Waka” wat die amptelike lied van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 in Suid-Afrika was.

Net inwoners van Amerika wat ouer as 13 is mag in die kompetisie stem. Daar is drie maniere vir Amerikaners om te stem: op die program se webtuiste, op die app (App Voting) en op Xfinity X1 Voting.

Suid-Afrikaners sal Donderdag weet of die Ndlovu-jeugkoor na die halfeindstryd deurdring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.