Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Stephenson (71) was so toeganklik soos sy musiek

Die Brits-Suid-Afrikaanse komponis, tjellis en dirigent Allan Stephenson (71) is Maandag in Kaapstad oorlede. Musici wie se pad met dié van Stephenson gekruis het, het aan Christiaan Boonzaier gesê hy was net so toeganklik soos sy musiek.

“Ek het danksy (die Engelse dirigent Thomas) Beecham ( . . .) ’n eenvoudige teorie: As ek nie die geraas kan verdra wat my musiek maak nie, hoe kan ek verwag dat enigiemand anders moet? Ek gaan daarom nie iets skryf waarmee mense worstel nie.”

Só het Allan Stephenson in 2009, in gesprek met Erik Behr vir sy doktorale proefskrif, sy oeuvre en skryfstyl saamgevat.

Stephenson, in musiekkringe welbekend as komponis van van die toeganklikste Suid-Afrikaanse klassieke musiek, is Maandag in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad dood. Hy was 71 jaar oud.

Sy vrou, Christine, het in ’n kort verklaring op Facebook geskryf hy is aanvanklik vir longontsteking in die hospitaal opgeneem. Hoewel hy herstel het, het diabetes sy “tol geëis” en uiteindelik nier- en hartversaking veroorsaak.

“Hy was ’n toegewyde eggenoot, pa en oupa, en hy het so baie plesier met sy toeganklike musiek verskaf.

“Dankie, my liewe Allan, vir ’n huwelik van 48 jaar en ál jou musiek.”

Begrafnisreëlings en meer besonderhede is nog nie bekend nie.

‘Hy was een van die good guys

Stephenson is op 15 Desember 1949 in Wallasey, Engeland, gebore en het vroeg reeds sy hart op musiek verloor. Hy het as sewejarige met klavierles begin en op 13 die tjello begin speel nadat ’n paar ou tjello’s in sy skool se stoorkamer ontdek is. Teen die einde van sy skoolloopbaan het hy ook koor gesing en die tromboon en tuba baasgeraak.

Nadat hy in 1972 sy musiekstudies aan die Royal Manchester-musiekkollege voltooi het, het hy ’n pos as tjellis in die destydse Kaapstadse Simfonieorkes (CTSO) aanvaar.

“Ek is baie vinnig (daarna) ingespan om deeltyds vir ’n paar tweedejaars en deeltydse musiekstudente aan die Universiteit van Kaapstad se Suid-Afrikaanse Musiekkollege les te gee,” het Stephenson aan Daniel Neal op classicsa.co.za gesê.

“Toe die tjellodosent skielik sterf, moes ek al die studente oorneem, en met die orkeswerk het dit net te veel geraak. Ek het toe voorgestel dat my verloofde aangestel word om die deeltydse studente te slyp. Toe hulle instem, het my verloofde, Christine, in Julie 1973 (in Kaapstad) opgedaag – en ons is ’n paar dae later getroud!”

Die pad van die dirigent en trompetspeler Paul Loeb van Zuilenburg het as 17-jarige met dié van Stephenson gekruis toe hulle albei lede van die CTSO was.

“So ’n jaar of twee later het Allan die Messias (deur George Frideric Handel) gedirigeer en ek het die trompetsolo gespeel. Hy was baie pertinent oor hoe ek dit moet speel, maar ek het my eie manier gehad, want as jy 18 is, dink jy mos jy weet alles,” sê Loeb van Zuilenburg laggend.

Ondanks “artistieke meningsverskille” was Stephenson ’n “nice ou”, sê hy.

“Hy was werklik een van die good guys op die Kaapse musiektoneel. Hy was innemend en ’n mens kon met hom praat.”

Hy was “deur en deur ’n kunstenaar”, sê Loeb van Zuilenburg.

“Jy sou hom in die straat sien stap met ’n gat in sy T-hemp, maar met musiek was hy ontsettend presies.

“Ek het so sewe of agt jaar gelede Rhapsody in Blue se bladmusiek gesoek; iemand het gesê Allan het dit, en hy het dit toe vir my gestuur. Die manier hoe hy die verskillende parte gemerk het, was ongelooflik presies – maar op straat was hy deurmekaar. Dit is eintlik hoe hy was, die twee kante van hom.”

‘Stephenson-opname was ’n voorreg’

Stephenson se toeganklikheid as mens is ook duidelik hoorbaar in sy musiek. Hy het op skool reeds sy eerste kamermusiekwerke gekomponeer en sedertdien onder meer simfonieë, operas (insluitend Mandela Trilogy saam met Mike Campbell en Peter Louis van Dijk), ballette, ’n musiekspel, koormusiek en konserte, sonates en toccatas vir byna elke instrument – van hobo, Engelse horing, klarinet, fagot, sopraansaksofoon en flügelhorn tot tromboon, tuba, tjello, kontrabas, fluit en piccolo – by sy oeuvre gevoeg.

“Sy musiek was baie toeganklik – en jy kan dit as syne herken,” sê Loeb van Zuilenburg.

“Dit is glad nie negatief nie, maar dit het soms ’n cowboy-Western-gevoel – ’n baie spesifieke styl, laat twintigste-eeus, modern, maar nie soos ander Suid-Afrikaanse komponiste waar jy jouself soms afvra wat in die musiek aangaan nie.

“Stephenson se musiek was luisterbaar en verstaanbaar.”

Die tjellis Anmari van der Westhuizen stem saam.

“Hy was ’n kontemporêre komponis, maar sy musiek was nie avant garde of atonaal nie – jy kon dit geniet en daarna luister.”

Van der Westhuizen, tans dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se Odeion Skool vir Musiek (OSM) én ’n lid van die Odeion-strykkwartet, stap al ’n lang pad saam met Stephenson sedert sy in haar studentedae as solis met die CTSO opgetree en hy die dirigent was.

Van der Westhuizen het ook ’n aandeel gehad in ’n konsert wat in November 2019 in Bloemfontein vir Stephenson aangebied is om sy 70ste verjaardag te vier. Die hele konsert, wat Stephenson en sy vrou bygewoon het, was aan sy kamermusiek gewy.

“Konsertgangers het nogal geskrik en gedink, oe, moderne komposisies, ons gaan dit nie verstaan of geniet nie, veral omdat die hele konsert net een kontemporêre komponis se werk is, maar ná daai aand in November het mense nogal uitgeloop en gesê hulle was verniet bang.

“Daar is ’n ligter trant in sy musiek merkbaar, soms ook ’n bietjie jazz. Hy was baie lief om ’n werk in 6/8-tyd te skryf, maar dan aksente op elke tweede agtste te plaas, wat die gevoel van 3/4-tyd skep. Hy het gereeld dié metrum gebruik – en dan moet jy as musikant kophou met jou tellery.”

Stephenson was ook die vervaardiger van die album Colours of the Free State, wat die Odeion-strykkwartet verlede jaar uitgereik het. Benewens werke deur Mokale Koapeng en Nadia Burgess, is ook Stephenson se Strykkwartet no. 1 op die album ingesluit.

“Dit is natuurlik vreesaanjaend wanneer jy ’n komponis se werk vir hulle speel, maar ek sien die opname as ’n voorreg, want jy doen sy werk gestand, jy vang iets op ’n album vas wat sy goedkeuring wegdra.

“Dit is soortgelyk aan die Borodin-strykkwartet wat nou saam met (die komponis Dmitri) Sjostakowitsj saamgewerk het. As jy nie iets in Sjostakowitsj se werk verstaan nie, wend jy jou tot die Borodin-strykkwartet se opnames vir hulp. Net so kan ander ensembles wat Stephenson se strykkwartet in die toekoms aanpak, ons album as ’n verwysing gebruik.

“Toe ons die nuus van Stephenson se dood hoor, was ons geskok, maar ons was ook diep dankbaar dat ons só ’n projek saam met hom kon voltooi – en dat hy tevrede daarmee was.”

  • Bykomende bronne: sun.ac.za, core.ac.uk, web.library.yale.edu, last.fm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.