Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Steve bly deel van AIG

Afrikaans is Groot (AIG) gaan vanjaar ’n bykomende konsert reël om sy inkomste aan te vul wat verlore sou gaan indien sy borge besluit om hulle te onttrek.

Barry Pretorius, regisseur van AIG, het dit Dinsdag op ’n mediakonferensie onomwonde gestel dat hy nie van Steve Hofmeyr ontslae sal raak nie.

Steve Hofmeyr saam met Karlien van Jaarsveld en Demi Lee Moore op ’n mediakonferensie in Centurion oor die AIG-konsertreeks. Foto: Deaan Vivier

“Daar is druk van borge om Steve by die konsert uit te laat, maar ons gaan dit nie doen nie. Die publiek wil dit nie hê nie,” sê Pretorius.

Die mediakonferensie het by Solidariteit Helpende Hand, ’n begunstigde van AIG, se hoofkantoor in Centurion plaasgevind.

Hofmeyr, wat gereeld by sy vertonings die Die Stem, sing, was daar. Twee ander sangers wat by AIG optree, Karlien van Jaarsveld en Demi Lee Moore, was ook teenwoordig.

Karlien van JaarsveldFoto: Deaan Vivier

Hannes Noëth, uitvoerende bestuurder van Solidaritiet Helpende Hand, het op die mediakonferensie die Jou Afrikaans is Groot-veldtog (#JouAiG-veldtog) bekend gestel, wat “aan mense, groepe en maatskappye die geleentheid bied om as hoofborg (van AIG) in te tree”.

AIG hoop dit sal hom groter onafhanklikheid gee.

“Ons glo dat AIG Afrikaans bevorder deur ’n platform vir Afrikaanse popmusiek te skep. Ons glo in gemeenskapskrag wat sal verseker dat die vertoning voortgaan,” sê Noëth.

Die konsertreeks het nie voorheen ’n hoofborg gehad nie, maar maak staat op verskeie borge om ’n groot deel te dek van die sowat R30 miljoen wat aan produksiekoste bestee word.

Hofmeyr sê die bykomende konsert, die JouAiG-vertoning, word gereël om geld in te samel wat deur borge gegee sou word.

Steve HofmeyrFoto: Deaan Vivier

Dit sal op 28 November plaasvind en 6 000 kaartjies sal teen R800 verkoop word. Winste van die aand word ook aan Helpende Hand geskenk.

Volgens Hofmeyr haat hy nie ’n spesifieke groep nie, en “deel ’n verhoog met almal.”

“As Afrikaans is Groot sou doodgaan, sou baie bruin en swart mense ook hulle werke verloor het. Wanneer die ligte aangaan by ’n AIG-konsert sien ek die bruin en swart gemeenskap. Ek sien Chinese – ek weet nie wat soek hulle daar nie – maar ek sien hulle,” sê Hofmeyr.

Hy het AIG bedank vir sy ondersteuning.

Pretorius het borge bedank wat gehelp het om oor die jare van AIG ’n sukses te maak.

“Elke persoon wat ’n kaartjie koop bly egter individueel ’n borg van Afrikaans is Groot,” sê hy.

Demi Lee Moore Foto: Deaan Vivier

AIG het sedert 2012 meer as 592 000 konsertgangers met 83 vertonings in Pretoria en Kaapstad gehad.

Helpende Hand het die publiek genooi om hul ondersteuning te beloof deur die #JouAiG-verklaring aanlyn by www.jouaig.co.za te onderteken.

Afrikaans is Groot 2019 vind tussen 22 November en 1 Desember by die Sun Arena by Times Square in Pretoria plaas.

* Intussen het Toyota sy borgskap aan AIG onttrek.

“Toyota South Africa Motors (TSAM) en die organiseerders van Afrikaans is Groot (AIG) het vriendskaplik besluit om hul borgskap-vennootskap van Maart 2019 te beëindig...” lui die verklarinng.

“Beide partye het hul kontraktuele ooreenkoms sedert 2015 nagekom. Die vennootskap was vir beide partye voordelig.”

Luidens Toyota se verklaring is hy as organisasie verbind tot die ontwikkeling van die kunste en kultuur, en sal voortgaan om ander kreatiewe en musiekgeleenthede te borg wat diversiteit en sosiale kohesie in die land bevorder.

“TSAM bly verbind tot die sosiale en ekonomiese ontwikkeling van ’n vreedsame en harmonieuse Suid-Afrika.”

Via, Netwerk24, Huisgenoot en Beeld reik die volgende verklaring uit:

Die aankondiging van ‘n nuwe borgskapbedeling vir Afrikaans is Groot (AIG) bekend as #JouAIG vandag het betrekking. Media24-titels is nie formeel by die nuwe seisoen van die konsertreeks betrokke nie. Sedert die stigting van AIG was verskillende titels uit ons stal op verskillende tye betrokke op verskillende maniere.

Goeie betrekkinge word steeds met Coleske Artists gehandhaaf en betrokkenheid by van hul produksies sal steeds oorweeg word deur albei partye.

Ons titels bly op die voorpunt van verslaggewing en nuusdekking oor Afrikaanse musiek, kunstenaars en ‘n verskeidenheid projekte, wat AIG insluit. Voorts gee ons steeds dekking en sterk ondersteuning aan ons kreatiewe Afrikaanse skeppers wat kunstefeeste en projekte soos die KKNK, Aardklop, Innibos, die Stellenbosch Woordfees en Optog insluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.