Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Strydom en Rall bring hul suksesresep na Atterbury

Met Stadig oor die Klippers bereik die aktrise en sangeres Amanda Stry­dom nog ’n mylpaal. Afgesien daarvan dat sy op elkeen van die 24 Klein Karoo Nasionale Kunstefeeste opgetree het, is dié een werklik anders en meevoerend. Sy hou by die bredie-resep van haar liedere, vooraf belig deur die een of ander toepaslike vertelling, maar dis die bestanddele wat sopas in die tuin gepluk is of van die slagter kom. Selfs die paar liedjies waarmee die gehoor vertroud is, word op onverwagse wyses oorgedra.

Sinergie word in die woordeboek beskryf as “die wisselwerking tussen twee of meer agente of kragte sodat die gesamentlike trefkrag groter is as die som van hul onderskeie bevoegdhede”.

Amanda Strydom en Coenraad Rall is op 3 Junie in die Atterburyteater te sien.

In Stadig oor die Klippers is dit beslis die geval. Coenraad Rall staan Amanda by in elke opsig. Nie net met sy begeleiding nie, maar ook met die fokus en energie wat hy oordra tydens sy spel en met haar vertellings. Hy drink elke woord van haar in.

Haar vorige begeleiers het eweneens bygedra tot die geheel, maar dis asof sy jeug(digheid) en openhartigheid net nog ’n titsel meer speserye in die bredie gooi. En omdat hy ’n man is, maak sy sang in hulle (nie Jacques Brel, wel Frans en Sannie) Briel-lied dit suiwer tonekrul-genot.

Almal weet dat Amanda kan sing en kan toneel speel. Dit in sigself is sinergie, want sy maak nie slegs klanke nie, sy vertolk en dra oor. Of sy “Under Paris Skies” of “Hoe ek voel” sing, jy voel vir en saam met haar.

Soms is sy skreeusnaaks en ontroerend tegelyk soos in die “My begrafnis”-gedeelte en des te meer in die medley “La Cage aux folles”/ “Singles Bar” (waar sy Hennie Aucamp se skets met spraaksang oordra) / “Amsterdam” oor prostitute en transvestiete. Lag met trane. Ander liedere sluit werke van Johannes Kerkorrel, “Ek het gedroom” en “Fields of Gold” in. Man, dis ’n skitterende konsert met twee groot kunstenaars aan die werk

Hulle sluit die program af met die openingstrofe van “Vader God” en wat oorgaan in “Outcasts” waarmee die onnabootsbare Amanda Strydom elke gehoorlid se hart uitruk. 

Meer oor:  Amanda Strydom  |  Vermaak  |  Celebs  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.