Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Studentepret het loopbaan geword
David Nettle en Richard Markham

Wat twee studentemaats in die 1970’s vir die pret gedoen het, het spoedig ontwikkel in ’n handelsmerk wat 40 jaar later steeds musiekliefhebbers en -puriste plesier gee.

Nettle and Markham, oftewel David Nettle en Richard Markham, het in Londen musiek gestudeer met die idee om konsertsoliste te word, maar die speel van klavier­duette en later werke vir twee klaviere was vir hulle so prettig dat hulle besluit het om die konsertkringloop saam aan te pak.

Die twee Britse pianiste tree Donderdag in die Odeion-teater in Bloemfontein op, die eerste keer sedert 1999.

Om twee klaviere saam te laat klink en vir twee individue om musiek dieselfde te interpreteer, is een van die uitdagendste volvoerings. “En ná 40 jaar is dit geensins makliker nie,” sê hulle.

“Ons het oor die jare kritieser en meer perfeksionisties geword, maar as daar ’n resep sou wees, is dit om die gees, styl en karakter van die musiek dieselfde te omvorm. Dit maak eksakte ensemble-spel meer moontlik – daar is egter geen towerformule nie, net konstante volharding.”

Die twee pianiste vertel hul grootste inspirasie was die leermeesters David Smith en Phyllis Sellick aan die Royal College of Music in Londen. Dié egpaar was daardie jare ’n gevierde duo, maar ook soliste. Toe Smith se linkerhand ná ’n trombose verlam gelaat is, het hulle ’n verstommende konsertloopbaan gehad met musiek wat hulle vir drie hande verwerk het.

Nettle en Markham erken dat ’n duo wat 40 jaar oorleef, uitsonderlik is. “Dit kan selfvernietigend wees om dieselfde instrument te bespeel teenoor byvoorbeeld lede van ’n strykkwartet. Ons moet elke liewe frase ontleed om seker te maak ons is op dieselfde golflengte, en dit saam met ontsettende harde werk is nie net uitmergelend nie, maar kan ook jou skerp kant na vore bring. Ons verstaan ten volle waarom ander duo’s verkies om ná ’n tyd hul eie paadjie te loop.”

Wyshede wat hulle oor die jare geleer het, is waarskynlik een van die redes waarom die twee steeds vrolik voortgaan.

“Luister altyd na die klank wat jy voortbring en probeer om te hoor wat die gehoor gaan hoor.

“Wanneer jy oefen, isoleer die moeilike dele en werk aan elke element.”

Markham sê hy onthou altyd om die musiek ernstig op te neem, maar nooit homself nie. Nettle onthou Smith het gesê as jy ses uur per dag oefen, “neem 10 sekondes elke minuut af ‘vir konsentrasie’ en 10 minute elke uur”.

Hulle het ook geleer om op alle uitnodigings te antwoord en dat niks ooit dieselfde bly nie. “Tyd verander selfs die moeilikste situasies in die ­lewe.”

Albei sê die laagste laagtepunt van hul optredes is om op die verhoog te wees as jy siek voel en moeg is. “Gelukkig het dit nog baie min gebeur omdat ons seker maak ons toerprogramme laat genoeg tyd toe vir rus, slaap en gesonde eetpatrone.”

In die laaste tyd is hulle ingestel op lewensgenieting. “Ons voel ons is nou geregtig daarop om die vrugte van jare se harde werk te pluk en die beste te put uit alles wat die lewe bied.”

Werksgewys wil hulle van nou af inhaal waarvoor hulle met hul vol skedules en veral lang konserttoere in Amerika nie tyd gehad het nie, en dit is opnames. “Ons wil die klem van optredes na opnames verskuif,” sê hulle.

Hulle kan talle hoogtepunte opnoem, maar konserte in belangrike konsertsale soos die tuiste van die Berlynse Filharmoniese Orkes skiet hulle onmiddellik te binne en in Suid-Afrika die gedenkkonsert vir hul goeie vriend, die pianis Lionel Bowman, in 2007. ­Nettle het die Kaapse Filharmoniese Orkes gedirigeer met Markham as solis in Rachmaninoff se bekende Tweede Klavierconcerto.

Nettle en Markham se program vir Bloemfontein bestaan uit die Scherzo, op. 87, en Polonaise, op. 77, van Saint-Saëns, die Concertino, op. 94, van Sjostakowitsj en verwerkings van Puccini se Turandot en Ravel se Bolero en Inleiding en Allegro.

  • Konserte: 20 Oktober in die Odeion in Bloemfontein; 22 Oktober en 5 November in die Endler in Stellenbosch; 10 November met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes in die Kaapse stadsaal; en 12 November in die Baxter-teater in Kaapstad.
  • Die konsert in die Odeion-teater begin om 19:30 op die Kovsiekampus. Kaartjies kos van R50 tot R130 en is by Computicket of die deur beskikbaar.
Meer oor:  Klavier  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.