Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Talentvolle Tarryn laat die Ghoemas weerklink
Daardie gil by die Ghoemas . . .

Tarryn Lamb kan nie net sing nie. Sy kan ook gil.

Dit weet almal wat kykNET se Ghoema-musiektoekennings ’n bietjie meer as ’n week gelede bygewoon het.

“Ek het na die opname gekyk en vir my ma gesê hier kom die oomblik nou dat ek myself totaal in die skande steek. Die hele Sun Arena was stil en hier kom ek en gil dat die wêreld my kan hoor.”

Daar is seker niemand wat haar sal kwalik neem vir die gillery nie. Sy het per slot van sake daardie aand huis toe met Ghoemas vir die beste kontemporêre album deur ’n vrouekunstenaar vir Mal oor jou. Dis ook aangewys as album van die jaar en Lamb as vrouekunstenaar van die jaar.

Dit is haar eerste Afrikaanse album nadat sy drie jaar lank voorsanger van die vrouegroep BlackByrd was. Die groep is in hul bestaan vir 7 Sama-musiekpryse benoem en het agt toptreffers op die radio gehad.

Lamb is, benewens sangeres, ook ’n danser en aktrise. Vir twee speelvakke was sy Abigail Abrahams (Aunty Merle se dogter) in Marc Lottering se musiekspel Aunty Merle: The Musical. Sy en Lottering het saam die musiek en lirieke geskryf.

“Dit was ’n heerlike ondervinding. Ons het elke dag heerlik gelag. Marc is ’n musikale genie en dit was ’n voorreg om saam met hom en die res van die rolverdeling te werk.”

Lamb vertel dat sy altyd ’n bietjie skrikkerig was om in Afrikaans te sing.

Tarryn Lamb

“Toe het ek ’n rol in die sepie Suidooster vertolk en ek het die selfvertroue gekry om dit te doen.”

Sy het die rol van Kim Adams vertolk en sy het ook ’n rol in die rolprent oor Ellen Pakkies vertolk.

Deesdae is haar dagboek vol met optredes reg oor die land. Sy het haar eie orkes – Gershwin & the Music met Gershwin Koen, JP le Roux, JP Crous en Dylan Roman. Sy gaan onder meer op 2 Junie in Kaapstad deel wees van Bakgat Country Opskop.

“Die groot name maak my opgewonde en ook dat ek weer die kans gaan kry om country te sing.”

Sy gaan ook vir die tweede keer deel wees van Classics is Groot. Die konserte word op 19 en 20 Julie 2019 by die Sun Arena by Time Square gehou.

“Dis so ’n groot produksie met dans, sang, skitterende beligting en pragtige uitrustings. Ek hou maar daarvan om konsert te hou,” sê sy.

Sy kan die groot drie – dans, sing en toneelspeel – doen wat van kunstenaars verwag word as hulle dit enigsins op die verhoog wil waag.

“As jy ’n oudisie doen, kan jy nie verskoning maak dat jy een van die drie nie kan doen nie. Daar is egter nie een van die drie wat oorheers nie. Ek gryp enige geleentheid aan wat na my kant toe kom.”

Nog meer as die vaardighede, skryf sy musiek en werk tans aan haar eie musiekspel. Die volgende twee maande gaan sy ’n kinderboek met ’n CD daarby klaarmaak. Elke liedjie gaan oor een van die karakters in die boek.

Hoewel sy ook ’n kranige bergfietsryer is, het sy lanklaas fietsgery.

“Ek sal nou weer op daardie fiets moet klim. Ek het te veel weggelê aan die koekies en soetgoed die afgelope tyd. In hierdie bedryf moet ’n mens mooi na jouself kyk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.