Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Tasché oorbluf deur Kombuis-kompliment

Die sanger Tasché Burger sê haar “mond hang op die grond” oor ’n reuse-kompliment wat die sanger en woordsmid Koos Kombuis vir haar gegee het.

Kombuis het in ’n mediaverklaring gesê die wenner van die derde reeks van The Voice SA het ’n “pragtige, sterk stem” – en dat haar weergawe van sy legendariese liedjie “Lisa se klavier” so goed is dat hy “nou maar kan aftree en ophou om daai song te sing!”

Burger het Suid-Afrikaners vroeër vanjaar oorrompel toe sy met dié liedjie ’n oudisie vir die werklikheidsreeks afgelê het, wat sy eindelik sou wen. Dit is ook nou op haar eerste kortspeler, Tasché, ingesluit wat Saterdag tydens die Liefde by die Dam-konsert op die Meerendal-wynplaas buite Kaapstad bekend gestel word.

“Koos is amazing,” sê Burger. “ ‘Lisa se klavier’ is volgens my een van die beste Afrikaanse liedjies! Dit het aan die begin van my hele The Voice SA journey ’n groot rol gespeel, en dis steeds vir my ’n groot eer om dit te kan sing.”

Dié 19-jarige van Brackenfell, Kaapstad, sê haar lewe het “eintlik ’n 180-grade flip gemaak” sedert sy die kompetisie gewen het, veral danksy optredes by die konserte Liefde by die Dam, Francois van Coke & Vriende, en Rocking Stellies.

“Ek wou nog altyd sing – dis waar ek tuis voel – en om dit nou te kan doen, is vir my ongelooflik.

“Francois van Coke & Vriende was vir my ’n hoogtepunt. Om die verhoog te kon deel met vriende wat my lewe verander het en wat half familie begin raak het, is insane. Wat ’n eer.”

Die albumomslag van Tasché Burger se eerste kortspeler.

Die sanger het ook sedert haar oorwinning met haar mentor in die reeks, Francois van Coke, aan haar eerste kortspeler geskaaf. Benewens Spoegwolf se liedjie “Bittermaan”, Gian Groen se “Vier seisoene kind”, Kombuis se “Lisa se klavier” en Fokofpolisiekar se “Ek skyn(heilig)”, sing sy twee liedjies waaraan sy help skryf het.

“(Die liedjie) ‘Die een’ het ek en Hunter (Kennedy, van Die Heuwels Fantasties) geskryf. Ek’t my skryfwerk van die afgelope paar maande aan hom gestuur, en hy het dit toe gevat, sy eie swing daarop gesit, en ons het dit toe met die hulp van Wynand Myburg, Francois (van Coke), Richard Onraet en Jedd Kossew lekker bymekaargesit.

“Die liedjie gaan oor iemand wat nie weet hoe om hulle gevoelens oor te dra nie – iemand wat nie weet hoe om dit te stel of wat om te sê nie.”

Die tweede liedjie, “Tweedehandse hart”, was ’n spanpoging tussen Burger, Jo-Lene Benade, Van Coke, Kennedy en Onraet.

“Hierdie song gaan oor alles gee vir daai spesiale iemand – jou min sente, jou tyd, jou aandag, jou tweedehandse hart, en die goed wat geld nie kan koop nie.

“Ek is opgewonde om te sien of die mense daarvan (die kortspeler) hou, want dit was pret gewees om dit te maak.”

Die album sal teen R100 te koop wees op Tasché se aanlyn winkel, www.tasche.co.za, wat Vrydag geloods is.

Meer oor:  Musiek  |  Francois Van Coke  |  Koos Kombuis  |  The Voice Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.