Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Tasché, trekklavier en kitaar huldig Gé
Tasché Burger

Tasché Burger, die jong sangeres wat vanjaar The Voice South Africa gewen het, is gekies om 20 jaar ná Gé Korsten se dood ’n spesiale huldigingslied vir hom te sing.

Sy neem deel aan die gedenkkonsert Gé sing: Hoor my lied, wat op 31 Augustus in Carnival City se Big Top Arena aan die Oos-Rand aangebied gaan word.

Tasché het by navraag gesê sy voel baie geëerd om by die produksie betrokke te wees.

“My ouers het altyd na Gé Korsten se musiek geluister en daarom ken ek dit goed. Ek is ook opgewonde omdat ek saam met ’n uitgelese groep kunstenaars kan optree om hulde aan Gé te bring.”

Frans Swart van Lefra Produksies, wat die konsert aanbied, sê toe hy hoor hoe Tasché Johannes Kerkorrel se “Hillbrow” sing en veral vertolk, het hy geweet Tasché moet in die produksie wees.

“Ek en Francois van Coke, wat haar afrigter in The Voice was, het gesels en saamgestem dat sy goed in die produksie sal pas. Gé se musiek was so universeel en hy het werklik by elke ouderdomsgroep aanklank gevind. Dit is ook gepas om die hedendaagse jonger generasie aan sy musiek bloot te stel.”

Gé Korsten

Ander kunstenaars wat saam met Tasché optree, is André Schwartz, Jannie Moolman, Arina de Witt, die PJ Twins (wat ook in The Voice bekend geword het), Louis Loock en ’n negejarige sanger, Scott Engelbrecht.

Swart het die lirieke van die gedenklied geskryf en Chanie Jonker, musikale regisseur van die produksie, die musiek.

“Ek was kameraman in die destydse Gé sing-televisieproduksies en het hom goed leer ken. Later jare het ons baie saam aan konserte en optredes gewerk. Dit was dus vir my baie maklik om die liedjie vir Gé te skryf om hulde aan hierdie groot gees te bring. Chanie het dit so gekomponeer dat dit net met trekklavier, kitaar en Tasché se besondere stem uitgevoer gaan word.”

Die konsert begin 20:00.

Kaartjies is by Computicket, 0861 915 8000, te kry. Groepe van meer as tien kan Monica by 011 815 3000 bel. Nog inligting is by www.gesing.co.za

Meer oor:  Tasché Burger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.