Daar is geen keer aan Taylor Swift en al die prestasies wat sy met Folklore, haar agtste ateljeealbum, behaal nie.
Nadat die album vroeër vanjaar meer as 80,6 miljoen keer in een dag op Spotify gestroom is én sy die eerste kunstenaar in Amerikaanse musiekgeskiedenis geword het wat vir die sewende keer meer as ’n halfmiljoen albums in een week kon verkoop, het sy nóg ’n rekord laat spat – dié keer een wat die ontslape Whitney Houston opgestel het.
CNN berig dat Folklore vir die sewende opeenvolgende week boaan die Billboard 200-ranglys gepryk het. Swift het daarmee in haar hele loopbaan ’n totaal van 47 weke boaan dié ranglys geboer – amptelik die langste deur ’n sangeres.
Haar vorige albums boaan die Billboard 200-ranglys sluit in Fearless (2008), Speak Now (2010), Red (2012), 1989 (2014), Reputation (2017) en Lover (2019).
Swift word volgens Billboard slegs deur Michael Jackson (51 weke), Garth Brooks (52), Elvis Presley (67) en The Beatles (132) oortref.
Houston was in haar loopbaan vir 46 weke in die boonste plek op die ranglys. Sy het dit vermag met haar albums Whitney Houston (1985), Whitney (1987), die klankbaan van The Bodyguard (1992) en I Look to You (2009).
Die ranglys word sedert 1967 opgestel en weekliks deur die vermaaktydskrif Billboard uitgereik. Dit lys albums volgens verkope.
– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bron: BBC