Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Temmingh deur Royal College of Music vereer
Zorada Temminghen haar seun, Roelof,op die onlangse gradeplegtigheid van die Royal College of Music in Londen. Roelof het die Tagore-medalje ontvang, die ekwivalent van ’n kanseliersmedalje aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit.

’n Pianis aan die suidpunt van Afrika het vier jaar gelede as ’n groentjie by die Royal College of Music (RCM) in Londen ingestap en aan die einde van sy BMus-honneursjaar met dié gevierde instelling se hoogste eerbewys daar uitgestap.

Roelof Temmingh, seun van die pianis en orrelis Zorada en die ontslape komponis Roelof Temmingh, het die Tagore- goue medalje ontvang, nie net as beste klavierstudent nie, maar ook vir die “uitstaande bydrae wat hy musikaal en in ander opsigte tot die RCM gelewer het”.

Die medalje sal in 2020 deur prins Charles van Brittanje aan hom oorhandig word. Temmingh sal dan reeds aan die werk wees aan ’n meestersgraad waarvoor hy spoedig na die RCM terugkeer.

Voordat hy weer die land verlaat en om die prestasie met sy landgenote te deel, gee Temmingh vandeesweek ’n solo-uitvoering naby Stellenbosch.

Hy het in die afgelope vier jaar buitengewone geleenthede en blootstelling gehad wat hy met albei hande aangegryp het.

In 2018 het hy Suid-Afrika se Miagi-orkes op ’n Europese toer ter viering van Mandela se 100-jarige verjaardagherdenking vergesel en in gesogte teaters soos in Hamburg se Elbphilharmonie, Amsterdam se Concertgebouw, en op die bekende Verbier-fees in Switserland opgetree.

Hy was ook die solis in Poulenc se Concert Champêtre saam met die St Mary-le-Bow-orkes in Londen, en is summier teruggenooi om in 2020 Rachmaninoff se Paganini-variasies saam met die orkes te speel.

Hy het ook in die Graf Zeppelinhaus in Friedrichshafen, Duitsland, opgetree en in Londen saam met ’n kwartet in die Royal Albert Hall se Elgar-saal.

Die bewys dat die appel nie ver van die boom val nie, is Temmingh se komposisies waarvan hy een vir sy eindeksamen ingesluit het. Hy het ook Ravel se Sonatine (vir klavier) vir klarinet, viool, tjello en klavier verwerk wat deur die Oriole-kwartet uitgevoer is.

Zorada sê Roelof het ’n welkome studiebeurs vir sy nagraadse studie ontvang nadat hy die afgelope vier jaar sy eie lewenskoste betaal het deur sewe dae per week klavierles te gee, in die RCM-biblioteek te werk en as plekaanwyser by konserte.

Die werke wat hy vandeesweek uitvoer, is Beethoven se Sonata quasi una Fantasia, op. 27 nr. 1, ’n keur uit Debussy se preludes, Medtner se Sonata Reminiscenza, op. 38 nr. 1 en Roelof Temmingh snr. se Des divagations octatoniques sur un thème de L’oiseau du Feu (Oktatoniese geraaskal (onsinnige gepraat) op ’n tema uit die Vuurvoël).

* 25 Augustus om 16:00 in Somerset College Chapel, Bredellweg (tussen Stellenbosch en Somerset-Wes). Die kaartjies kos R150 (volwassenes) en R50 (kinders) en kan vooraf per e-pos gekoop word by zorada@zorada.co.za of by die deur.

Meer oor:  Musiek  |  Roelof Temmingh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.