Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
The Boss as verbluffende towenaar
Bruce Springsteen met sy optrede in 2016 in die Wembley-stadion in Londen. Foto: Brian Rasic/WireImage

Die rocker Bruce Springsteen verstaan die gewone ou en hy gee om vir die werkersklas. Nadat hy geluister het na die jongste album van The Boss, Bruce Springsteen – Springsteen on Broadway kom Danie Marais tot die slotsom dat die wêreld Springsteen nodig het.

“Fabrieke verskaf drie dinge wat hierdie land desperaat nodig het: werk, trots en materiaal vir Bruce Springsteen-liedjies,” het die aartskapitalis Jack Donaghy (Alec Baldwin) in ’n episode van die kultuskomediereeks 30 Rock verklaar.

Miljoene kykers wêreldwyd kon oor die grappie lag, want almal weet Springsteen is die superster-multimiljoêner-blouboordjie-rocker wat die gewone ou verstaan en omgee vir die werkersklas. Hy is die verpersoonliking van die Amerikaanse droom dat enigiemand met harde werk en talent heel bo kan uitkom.

Tegelyk belig hy ook dat daardie droom ’n verraderlike mite is en hy is boonop ’n sanger-liedjieskrywer wat die Amerikaanse samelewing en maghebbers al vier dekades lank met kritiese vrae in bytende ballades peper.

Hierdie groot Springsteen-paradoks belig The Boss in sy jongste segetog, Springsteen on Broadway – ’n uitverkoopte konsertreeks wat in Oktober 2017 in die Walter Kerr-teater (met 975 sitplekke) in New York begin het en eers 236 vertonings later op 15 Desember 2018 ten einde geloop het.

Dié intieme ervaring is in ’n Netflix-opname verewig wat ook pas as konsertalbum-klankbaan uitgereik is. Maar om Springsteen on Broadway as ’n konsert te bestempel is misleidend. In 135 minute kry jy net 16 liedjies in ’n soort opvoering van sy outobiografie, Born to Run (2016). Dis sag donderende, akoestiese Rock ‘n’ Roll as ’n eenmanteaterstuk vol skerp, sielkundige self-analise en warm self-ironiese skerpskertsery gelewer deur ’n kunstenaar wat sy fyn verhoogteks na spontane gesprek, toevallige openbarings en improvisasie laat klink.

Dit is, met ander woorde, ’n stuk verbluffende toorkuns waarin die towenaar onomwonde verklaar dat hy ’n kulkunstenaar is, maar jou nietemin oorrompel met sy hipnotiese goëlery en jou uiteindelik oortuig dat hy ’n opregte dienaar van die eintlike waarheid is.

Aan die begin van sy vertoning beken Springsteen dat hy nog nooit in ’n fabriek gewerk of enige steek ander eerlike arbeid in sy hele lewe verrig het nie, en haal hy treffend uit die voorwoord tot sy outobiografie aan: “I come from a boardwalk town where almost everything is tinged with a bit of fraud. So am I. […] I am here to provide proof of life to that ever elusive, never completely believable ‘us.’ That is my magic trick.”

Deur die loop van die volgende twee ure vermag hy daardie toorkunsie, herhaaldelik, en oortuig hy jou opnuut dat die lewe ewe tragies as kosbaar is en snaaks en verpletterend en beeldskoon daarby. Hy skep daardie ontwykende “ons” telkemale met die wonderbaarlik inklusiewe “ek” van sy stories en liedjies.

Die patos is soms net ’n rapsie te veel en op ’n paar plekke slaag Springsteen nie daarin om sy eie beste konsertweergawes te oortref nie.

Hoewel sy duet van “Brilliant Disguise” saam met sy vrou, Patti Scialfa, roerend is, is daar ’n selfs mooier akoestiese solo-interpretasie in 1990 se The Christic Shows. Sy verwerking van “The Promised Land” in 2005 se konsert in die Schottenstein-sentrum in Ohio bly ook ongeëwenaard. (Beide laasgenoemde konsertplate is op Springsteen se webwerf beskikbaar.)

Maar om hier kritiek te lewer voel na ondankbaarheid, want daar is sweerlik tans geen ander towenaar in die rockwêreld wat ’n Springsteen on Broadway uit sy hoed kan trek nie.

Dis ’n groot geskenk vir ou aanhangers en ’n openbaring wat wag op enigiemand wat nog nie sy magic ervaar het nie. Jack Donaghy was reg: Die wêreld het Springsteen nodig – so nodig soos die geloof dat ’n “ons” tog wel bestaan.

Top-snitte:

“My Hometown”

“My Father’s House”

“Born in the USA”

“Long Time Comin’ ”

“The Rising”

“Born to Run”

Meer oor:  Rock  |  Broadway
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.